Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman страница 24

Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman

Скачать книгу

hy is aangesê om sy neus uit haar sake te hou, en dit geld seker vir sy vurk ook.

      Hy kyk hoe Arabel tamatiesous oorgooi, dan sout en asyn. ’n Gewoonte waaroor hý altyd raas gekry het. Toe sy sien hy hou haar dop, lyk sy skuldig en sit dadelik die bottel neer.

      Hy sluk sy lag en vra sedig: “Wat wil jy drink? Daar is koffie en tee, melkskommels, vrugtesap, gaskoeldranke, gebottelde water … Wil jy die spyskaart sien en self kies?”

      “Dis nie nodig nie, dankie, koffie sal reg wees.”

      Jaco vertel hulle van Kam Tin, die ommuurde stad, en van Shatin se Middeleeuse kloosters wat ’n besoek werd is. Dalk kan hulle môre of so daarheen gaan. Hy wag dat Arabel klaar eet en toe sy haar koffiekoppie neersit, vra hy: “Lus om saam met my te gaan voëls vrykoop?”

      “Sy kan nie, sy gaan swem,” antwoord Henning. Jaco lyk of hy wil saamgaan, maar sy kaptein keer.

      “Daar’s nie haainette nie en die water is vol bloublasies.” Hy wys na Martie en Dion wat aangestap kom. “Daar’s twee goeie kandidate vir tronkvoëls.”

      Phil Davies kom ook by en hulle almal vertrek in ’n groep middestad toe.

      Henning skuif oor na Jaco se leë stoel langs Arabel. Hy hou sy hande verontskuldigend op, palms na haar gekeer asof hy ’n storm wil afweer. “Ek weet, ek weet … En ek stem saam: ek het weer oorgevat en jou lewe probeer reël – dit wat jou in die verlede rasend gemaak het. Hier’s nie ’n blompot nie, maar gooi my gerus met die soutpot as dit jou beter sal laat voel. Ek belowe ek sal nie koes nie, want ek het dit verdien.”

      “Ja, jy het,” stem sy saam. “Haaie en bloublasies … Jy behoort jou te skaam!”

      “Jy is reg. Ek het niks teen Jaco de Wet nie, hy is heel ordentlik en as jy later eendag so voel, kan jy saam met hom uitgaan, ek sal nie inmeng nie. Maar vir eers wil ek nie hê jou kop moet vol muisneste wees nie, sodat jy met ’n oop gemoed kan luister na wat ek sê.” Hy huiwer, dan kyk hy haar reguit aan. “Ons kan nie langer uitstel nie, en ek het gedink nou is ’n goeie kans. Jy weet self dis tyd dat ons praat, Bellie – jy en ek.”

      ’n Harde knop vorm onder haar ribbes. “Waaroor?”

      “Nie oor die verlede nie, daaroor kan ons eendag rustig op ons tyd gesels wanneer ons albei kalmer is. Dis ook nodig, want ons het in daardie dae sleg gekommunikeer. Daar is ’n grys gebied en heelwat misverstande wat opgeklaar moet word. Maar dis vir later … Nou wil ek eers oor die toekoms praat: hoekom ek teruggekom het en vir Jakaranda-lugdiens kom vlieg het.”

      Sy moes besef het die sameloop van omstandighede was té toevallig. Uit al die honderde Australiese vlieëniers juis hý wat oorgekom het … En Jakaranda toe, eerder as die veel groter, moderner SAL.

      Arabel klem haar hande inmekaar. Eintlik het sy diep binne-in haar geweet hierdie oomblik en hierdie gesprek gaan kom. Dis waarom sy vir Berna gesê het sy sal dalk by Jakaranda moet bedank; dis waarom sy weggevlug en Henning vermy het. Sy het ’n voorgevoel gehad, vanaf daardie oomblik toe Tess vertel het een van die nuwe vlieëniers is ’n Suid-Afrikaner, toe daar op die bemanningslys gestaan het H.J.J. Reynecke (kapt.), en toe sy in die kafeteria sy stem agter haar gehoor het … Sy was voorbereid daarop, maar noudat die oomblik aangebreek het, is sy bang en kan sy net stom na hom staar.

      “Ek weet dis ’n skok,” gee Henning toe. “Dalk moes ek jou vooraf van my planne laat weet het, vir jou geskryf het. Maar ek was bang ek kry ’n brander terug wat sê: ‘Bly waar jy is!’”

      Anderkant die aardbol, waar jy uitgespoel het … Sou dit haar antwoord gewees het? Sy weet nie. Sy het so seergekry, sy is bang om weer lief te kry.

      “Waar het jy my adres gekry?”

      “Dave se adres was boaan ’n brief wat hy tydens die egskeiding vir my geskryf het. Ek het geweet jy woon by hulle en dat hy sou sorg dat ’n brief by jou uitkom.”

      “Dave en Berna was aan jou kant tydens die egskeiding. Hulle het my geblameer vir alles wat gebeur het.”

      Henning sê nie ja of nee nie; kyk net oor die straat na die stroom motors, bromponies en die driewieltaxi’s met die gestreepte seildakkies. Tuk-tuks, word hulle genoem, na aanleiding van die stotterklank van die enjin, amper soos ’n grassnyer met ’n vuil vonkprop.

      Arabel kyk na Henning se profiel, wat skielik vir haar soos dié van ’n vreemdeling lyk. Hy is reg: hulle het destyds swak gekommunikeer en mekaar nie goed genoeg geken nie. Maar ken sy hom nóú? Die strand by Curepipe voel ’n leeftyd gelede, asof dit twee ander mense daar onder die skuit was. Hierdie is ook nie dieselfde Henning wat netnou in haar kamer ’n amper sensuele boodskap na haar uitgestuur het nie. Sy wens sy kan aan hom raak, sommer net sy hand vashou, maar sy het nie die vrymoedigheid nie. Hy is skielik anders: eenkant en geslote.

      “Dit was vir my ’n moeilike keuse,” erken Henning. “’n Ingrypende besluit gewees om te bedank en terug te kom Suid-Afrika toe. ’n Besluit waaroor ek lank besin het en wat makliker sou gewees het as dit net ek was. Maar daar is ander mense ook by betrokke, mense vir wie ek verantwoordelik is en van wie ek jou moet vertel.” Hy betaal die rekening en staan op. “Kom ons stap, terwyl ons praat. Ek het gevind ’n ou dink beter op jou voete.”

      Dit sou makliker gewees het as hy haar aan die arm geneem het, soos dit sy gewoonte was. Maar hy doen dit nie. Hy hou ’n afstand tussen hulle – fisiek sowel as figuurlik. “Waarheen sal ons gaan?”

      Ander mense vir wie hy verantwoordelik is – bedoel hy ’n vrou en kinders? Die knop onder haar ribbes word ’n vuis wat om haar hart knel. “Net waar jy wil, dit maak nie saak nie. Iewers stil …” Haar stem is hees, asof sy verkoue het.

      Henning neem die pers kajuitsak by haar. “Ek glo nie jy was op pad strand toe nie. Maar wat ook al hierin is, jy wil dit seker nie heelpad saampiekel nie. Sal ek die sak by ontvangs ingee, dan kan jy dit kry as ons terugkom?”

      Nee, dink Arabel paniekbevange, hy kan nie. As dinge netnou dalk vir haar te veel word, wil sy wegvlug na die gastehuis toe …

      “Of het jy iets daaruit nodig?” vra hy. “Ek sal die sak vir jou dra, ek gee nie om nie.”

      Sy is verspot … neuroties. Natuurlik moet dinge tot ’n punt kom tussen haar en Henning. Hulle het baie bagasie en onafgehandelde sake. Daar is nog amper ’n week oor wat hulle saamgegooi is en noodwendig sal moet saamwerk. En ná hierdie vlug nog drie maande wat hulle gedurig in mekaar se geselskap sal wees, voor die vlugrooster roteer. Hoe gouer hulle die lug suiwer en tot ’n vergelyk kom, hoe beter vir hulle albei.

      “Toemaar, ek sal dit gaan ingee,” antwoord Arabel.

      Toe sy terugkom, wag hy by die hotel se ingang, hande in die broeksakke, terwyl hy ’n toonlose deuntjie fluit. “Ek het gedink ons stap hawe se kant toe, dis stiller daar.”

      10

      Op die kaai, by die boeg van ’n Amerikaanse torpedojaer, bly Henning staan en bekyk die bedrywighede van seekadette op die dek. “Ek was destyds mal verlief op jou, Bellie,” sê hy sonder om om te kyk. “Obsessief verslaaf aan jou.”

      Sy wens hy wil haar nie Bellie noem nie, dis te intiem, terwyl sy objektief wil bly.

      “Ná ons uitmekaar is, het ek nie gedink daar sal ooit weer iemand wees wat jou plek kon neem nie. Ek het

Скачать книгу