Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman страница 22

Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman

Скачать книгу

was die deur dan oop?”

      “Ek sê mos: ek het gedink dis Tess of Alice.”

      “Jy kan nie in ’n vreemde hotel met ’n oop deur sit en bad nie. Dis gevaarlik. Sê nou dit was iemand anders as ek wat hier ingestap het?”

      “Dan sou ek hande geklap het.”

      “Ek is ernstig. Wat as dit ’n wildvreemde man was?”

      “Henning,” sê sy moedeloos, “asseblief, gaan baklei met iemand anders. Ek is moeg, my badwater word koud en die sny aan my voorkop brand. Moenie rang gooi nie, ek het nie die krag daarvoor nie.”

      “Dit was ’n lang vlug, ek weet. Maar die bemanning se veiligheid is my verantwoordelikheid. Ek word daarvoor betaal, en ek moet insidente soos jou besering in my vlugverslag aanteken. In Aussieland moes alle vlieëniers ’n noodhulpkursus deurloop. Ek weet wat ek doen, en ek belowe jou ek het nie bybedoelings nie.” Hy buk oor die bad se rand. “Laat ek net kyk of die sny diep is en of steke straks nodig is.”

      “En as dit is, sal jy dit sommer gou met naald en gare toewerk?”

      “Nee, ek sal jou na ’n dokter neem.”

      Die pleister het nat geword en hy trek dit versigtig af. Sy vingers wat die wond ondersoek, is ferm en onpersoonlik. Dis seer, maar Arabel lê roerloos. Haar grootste kommer is nie infeksie of inflammasie, steke of ’n litteken nie, maar die bad se prop wat blykbaar lek, want die water in die bad is besig om geleidelik al minder te word. Sy steek versigtig ’n voet uit en voel met haar tone na die krane aan die onderpunt van die bad. Die een wat sy oopgedraai kry, is die koue kraan. Die stroom water is ysig en laat skielik byna al die borrels verdwyn. Sy gryp naarstig na die waslap en kruis haar arms voor haar bors.

      “Wat wil jy doen?” vra Henning. “Soek jy warm water?” Hy draai die koue kraan toe en die warm water oop.

      Hierdie keer gryp die stroom die waslap, onder luide protes van Arabel.

      “Wat makeer?” vra hy.

      “Gee vir my ’n handdoek aan!” kners sy tussen haar tande deur.

      “Ekskuus.” Hy haal die handdoek van die reling af en hou dit na haar uit sonder om na haar te kyk. “Steke is nie nodig nie, maar die wond is ontsteek. Is jou noodhulptas byderhand?”

      Sy beduie na haar kamer.

      Henning kon altyd ’n krisis goed hanteer. Hy vra nie vrae nie en verdwyn by die deur uit. Voor hy na die badkamer terugkeer, maak hy keel skoon.

      “Arabel …? Het jy die handdoek om? Mag ek inkom?”

      Sy het blitsig uitgeklim en staan op die badmat, toegedraai in twee groot handdoeke. “Dis nóú bietjie laat om te vra.”

      Hoekom ewe skielik kamma bedagsaam wees? wonder sy agterdogtig en kyk na hom, betyds om spore van ’n lag om sy mond te sien. Sy vermoed wat hom amuseer en waarom hy netnou so versigtig was om nie in haar rigting te kyk toe hy die handdoek aangegee het nie. Sy word pienkrooi. Die beste sal wees om voor te gee niks het gebeur nie.

      In sy hande hou hy watte, ontsmetmiddel, salf en pleister. Hy tik op die bad se rand. “Kom sit hier naby die venster, waar die lig goed is.”

      Die Dettol brand dat haar oë traan, maar Arabel hou uit. Henning is behendig: hy ontsmet die wond, smeer antiseptiese salf aan, trek die vel weerskante van die sny teenmekaar en plak ’n vars pleister op – stewiger en doeltreffender as die skewe stuk wat sy gebruik het.

      “Doen julle meisies nie tydens opleiding ’n noodhulpkursus nie?” vra hy terwyl hy werk.

      “Ja, ons doen.”

      “Ek merk jy het nie die wond skoongemaak nie.”

      “Daar was nie tyd nie, ek was te besig.”

      “Hoekom was jy nie vasgegord nie?”

      Hier kom dit, dink sy. Dominerende manlike chauvinis, die rol waarin hy so goed is. Sy oorweeg haar opsies en besluit aanval is die beste verweer.

      “Dit was vóór jy die gordelligte aangesit het.”

      Hy buk af om haar in die gesig te kyk. “Hoe nou?”

      Swak opsie. Arabel retireer. “Dalk wás die ligte aan, ek het nie opgelet nie.”

      “Dan kort jy ’n bril. Hulle het non-stop geflikker, lank voor die tyd, toe die storm nog net ’n groen kol op die radarskerm was. Het jy ook nie gehoor toe ek die aankondiging gemaak het om te vra dat julle álmal vasgord nie?”

      “Ja, goed!” erken sy vies. “Ek was nie vas nie. Ek het ’n liewe ou dame wat bang was, gaan help. Is dit so ’n groot sonde? Rapporteer my in jou blessit verslag, dank my af, enigiets wat jou gelukkig sal maak. Ek is nie van jou afhanklik nie. Ek het kwalifikasies en ondervinding. Ek kan gaan skoolhou, pille en brille verkoop, vir SAL werk, wat ook al. Ek sal nie van honger doodgaan nie.”

      Hy draai rustig die bottel Dettol toe, skroef die proppie op die buisie salf en gooi die watte in die snippermandjie. “Veiligheidsreëls geld nie slegs vir passasiers nie, maar ook vir bemanningslede. Vandag was jy gelukkig. ’n Volgende keer breek jy dalk jou nek. Geen bang of senuweeagtige passasier is jou lewe werd nie. Verstaan jy dit?”

      Sy knik. “Ek is jammer.”

      Hy vryf met sy kneukels oor haar wang. “Ek ook, as ek te kras was. Dit was nie my bedoeling om fout te soek nie, dis net dat jou veiligheid vir my belangrik is.”

      “Dankie.”

      “Vryf jou droog en trek aan, dan gaan koop ek vir jou ontbyt.”

      “Ek het Jaco belowe ek sal saam met hom gaan.”

      “Ek weet. Maar ek het gesê hy hoef nie moeite te doen nie, ek sal jou bring.”

      “En Tess?”

      “Jaco sal haar bring.”

      “Jáco? Maar sy het jóú genooi …”

      “Tessie sal oorleef.”

      Hy loop deur toe. Op pad uit knipoog hy vir haar en blaas ’n soentjie. “Tien minute?”

      Arabel bly sit nadat die deur agter hom toegeklik het. “Henning Reynecke, waarmee is jy besig?” vra sy hardop. “Wat tussen ons was, is verby. Dit was soos dood; ek het in duisend stukke gebreek en dit het jare geduur om weer heel te word. Ek kan nie bekostig om ’n tweede keer betrokke te raak nie. Ek weet nie wat jy wil hê nie – ’n flirtasie of ’n affair – maar ek is nie sterk genoeg daarvoor nie. Ek sal ondergaan, reddeloos op ’n klip gaan sit en nie die moed hê om weer op te staan nie.”

      Sy besef sy moet wegkom; uit selfverdediging afstand kry tussen haar en Henning. Dinge het te vinnig verloop sedert hulle uit Johannesburg weg is. Sy voel in ’n hoek gedryf en het alleentyd nodig om tot verhaal te kom.

      Arabel kyk op haar horlosie. Sy het tien minute … Sy gooi ’n sonrok oor haar kop en ’n paar los goed in haar kajuitsak. Dan soek sy

Скачать книгу