Skool is ’n riller. Antoinette Diedericks

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skool is ’n riller - Antoinette Diedericks страница 4

Skool is ’n riller - Antoinette Diedericks

Скачать книгу

blik in haar oë kyk Melly terug na die skoolgebou. “Ek sal saamkom as jy wil.”

      “Nee, dis klaar laat. Ek sal oukei wees.” Kabous hoop sy klink meer oortuigend as wat sy voel.

      “Ja, maar wat van …?”

      Kabous waai Melly se beswaar met haar hand weg en groet vinnig. Haar voetstappe knars oor die gruispaadjie terwyl sy alleen terugstap skool toe. Gelukkig staan die voordeur oop. Laer af in die gang eggo stemme – iewers is darem nog mense, wat ’n verligting!

      Maar die stemme klink snaaks. Blikkerig. Kabous voel hoe hoendervel oor haar arms kruip. Geen wonder Melly glo die stories van ’n vreemde teenwoordigheid wat ná ure in die ou skoolgebou rondhang nie. Nee kyk, hoe gouer sy hier uitkom, hoe beter.

      Haar voetstappe weergalm onnatuurlik hard in die leë gang. Ook die saal is verlate. In die skemerlig wat deur die hoë vensters syfer, lyk die plek grys en grillerig. Onwillekeurig maak Kabous haar rug hol toe sy agter die swaar rooi gordyn omloop na die agterste kamer waar die kostuums en ander rekwisiete gebêre word.

      Die deur wys ’n skrefie lig. Versigtig steek Kabous haar hand uit om dit oop te druk.

      “WHAAAAAA!”

      Sy deins terug toe ’n monster met ’n groen vratgesig skielik met ’n kreet agter die deur uitspring. ’n Mond met drie rye vuilgeel tande waaraan slymerige drelle kwyl hang, gryns in haar gesig.

      “HO-HOOOOOO!”

      Agter die eerste peul ’n tweede monster uit. Sy gesig is siekpienk en waar sy neus moet wees, is ’n plat varksnoet.

      Kabous se bene word lam van skrik, maar sy kom gou tot verhaal. Hierdie stemme ken sy mos! Sy repeteer nie verniet elke middag saam met twee slymerige monsters nie.

      Skielik is sy witwarm van woede. Met haar regterhand kry sy monster nommer een se groen wang beet terwyl haar ander hand om die pienk neus van nommer twee vou. Toe, met een pluk, stroop sy die maskers van Janus en Neil se verbaasde gesigte af. “Siesa, julle!” snou sy. “Word groot! Nie eens ’n graadeentjie sal vir julle skrik nie.”

      Uitgevang! Janus en Neil probeer haar nie eens antwoord nie.

      Kabous skud haar kop terwyl sy kyk hoe hulle wegloop. Pateties. Hoe kon sy ooit dink hulle is cool?

      Nou is sy alleen in die kostuumkamer. Dit ruik muf en lyk spokerig in die flou lig van die kaal gloeilamp wat uit die dak hang. Toe sy binnestap, glip ’n ongemaklike krieweling langs haar ruggraat af. Dit voel kompleet of iemand haar dophou. En verbeel sy haar of haal die blikkostuum van die Middeleeuse ridder wat langs die deur staan asem?

      Nee, sy gaan haarself nie bangpraat nie! Sy gaan ’n masker gryp en so vinnig as wat haar bene haar kan dra, spore maak.

      Die rak met die graadagt-maskers is teen die heel agterste muur. Die maskers wat nog nie gevat is nie, het hol oë wat haar vanuit dooie gesigte dophou. Kabous ril van kop tot tone. Sy is niks lus om tot daar te loop nie.

      Haar oë gly deur die vertrek en val op ’n masker wat slap aan ’n haak net langs die deur hang. Hoekom kan sy dit nie sommer vat nie? Ou Papie sal mos nie weet nie. Haastig gryp sy die masker en prop dit in haar sportsak.

      Toe laat waai sy huis toe.

      “Reg, graadagts.” Papie tik-tik met haar vingers op die tafeltjie voor haar. “Op met julle maskers! Vandag repeteer ons of ons lewens daarvan afhang.”

      Met lam hande haal Kabous haar masker uit haar sportsak. Toe sy dit vanoggend behoorlik bekyk het, was sy spyt sy het nie meer moeite gedoen om ’n mooier een te kies nie.

      Haar masker is bra vaal. So ’n grys-wit elfgesiggie met ’n onnutsige glimlag om die mondhoeke. Kabous sug. Ook maar goed so. Hoe minder die gehoor haar raaksien en hoe gouer die vertonings agter die rug is, hoe beter.

      “As hierdie produksie flop, is dit als jóú skuld!” snou Bella toe sy in haar ysblou feëprinseskostuum verby Kabous sweef. “Shame, arme ou Papie sal dit nooit oorleef nie. Almal weet mos sy het ’n ogie op die hoof.”

      “Wag maar, Kabous gaan julle almal nog verbaas,” kom Melly vir haar op van agter die klavier.

      Kabous sluk swaar. Sê nou sy verongeluk die revue? Nee, daaraan wil sy nie eens dink nie. Toe sy met die verhoogtrappies opklim, val sy amper oor haar eie voete soos haar bene bewe.

      Agter juffrou Papenfus se rug sluk Neil amper sy ore in soos hy lag. Janus sper sy neusgate oop met sy vingers en trek ’n vieslike otgesig. Kabous onderdruk die begeerte om vir hulle tong uit te steek. Maar om haar aan hulle kinderagtigheid te steur, gaan haar niks help nie. Sy moet liewer koelkop bly en probeer om nie ’n aap van haarself te maak nie.

      Almal neem hulle posisies in en sit hulle maskers op.

      Kabous ook.

      Die masker voel warm op haar gesig. Haar hart skop in haar keel toe sy ou Papie se oë op haar voel. Sy weet sommer die juffrou gaan haar weer voor almal verneder as sy ’n voet verkeerd sit.

      Melly begin speel. Haar talentvolle vingers toor blink, helder note uit die klavier.

      Vir ’n verandering val Kabous presies op die regte plek in. Flip, wat gaan aan met haar? Dis asof iemand anders in haar lyf geklim het. Asof elke senuwee die ritme van die musiek aanvoel en haar voete so lig soos ’n dwarrelwindjie oor die verhoog laat dans.

      Toe die klanke uiteindelik wegsterf, weet Kabous haar vertoning was perfek. Sy sien dit ook op die gesigte van die kinders wat in ’n kring om haar staan. Die meeste lyk stomverbaas, maar Bella se oë spoeg gif en Janus se mond hang skaapagtig oop.

      Juffrou Papenfus glimlag tevrede. “Mooi, Kabous! Wat oefening en konsentrasie nie kan doen nie, nè?” Sy maak die boek op die tafel voor haar toe. “Ons het nog twee oefeninge, dan is dit die groot aand. As julle so aanhou, kan niks verkeerd loop nie.”

      Kabous voel of sy sweef. Met die masker nog op haar gesig dartel sy ligvoets by die verhoogtrappies af.

      Skielik hou ’n hand op haar skouer haar terug.

      Dis Janus. Hy staan nog op die verhoog en buk af na haar. “Ek … ek’s jammer, Kabous,” stotter hy en lek oor sy lippe. “Ek was ’n regte noedel. As jy wil, kan ons ’n smoothie gaan drink.”

      Verbaas gaap Kabous hom aan. Netnou nog was sy lus om vir hom skewebek te trek, maar as sy donker oë so in hare kyk, smelt haar weerstand.

      Sy hap nog na woorde, toe Janus sy balans verloor. Sommerso, uit die bloute. Sy arms maak wilde wawiele in die lug. Sy voete glip en hy tuimel kop eerste van die verhoog af. Sy gesig tref die hoek van ou Papie se tafeltjie en jy sien net bloed spat.

      Chaos breek los. Die kinders skree. Juffrou Papenfus storm nader en sak op haar knieë langs Janus neer. ’n Gesmoorde kreet glip oor Kabous se lippe toe die juffrou hom omdraai. Langs sy neus is ’n bloederige, gapende gat en sy oë rol wit in sy kop.

      “Ambulans!” Juffrou Papie se stem is skril. “Iemand bel ’n ambulans!”

      Eers baie later toe die ambulans vir Janus kom haal het, besef Kabous sy het nog die simpel masker op haar gesig. Afgetrokke

Скачать книгу