Griet skryf ’n sprokie. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Griet skryf ’n sprokie - Marita van der Vyver страница 10

Автор:
Серия:
Издательство:
Griet skryf ’n sprokie - Marita van der Vyver

Скачать книгу

te wees! En nie vir hom te mag sê hy’t nie klere aan nie!”

      “Die keiser.”

      “Nee, die fokken pous! Dis die skynheiligheid wat my onderkry, die holier-than-thou-houding waarmee Britte soos hy blykbaar ge­bore word. Hy sal nie eens voor my poep nie! Asof net ons barbare uit Afrika sulke behoeftes kan hê! Maar as hy in die stort staan, poep hy so hard dat ek hom in die sitkamer kan hoor.”

      “Waar’s hy nou?” wou Griet verstom weet.

      “Moenie worry nie, hy verstaan steeds nie ’n woord Afrikaans nie. Anyway, ek wou maar net vir jou sê jy’s nie alleen in jou strug­gle nie. Marriage is a great institution, soos hulle sê, but who wants to live in a fucking institution?”

      Griet het verslae van die telefoon opgestaan en weer by die ver­warde nagwag verbygestap. Dit gaan ’n triestige dag wees, het sy gedink terwyl haar motorligte die slierte mis wegvee wat laag oor die stil strate hang. Welcome to reality, het Louise gesê.

      En nou, drie maande later, sit sy met die gebakte pere. Behalwe dat dit moeilik sou wees om selfs die spreekwoordelike pere in Louise se ongebruikte oond te probeer bak. Alleen, in ’n vreemde woon­stel, met ’n kombuis vol kakkerlakke.

      Wanneer ander mense uitmekaar gaan, dink sy terwyl sy die gat in die osoonlaag al hoe groter spuit in haar stryd teen die kakkerlak­ke, is die man gewoonlik die een wat uit die huis trek.

      Die vrou is tog die een wat die huis versorg, dink sy wrewelrig, wat verantwoordelik gehou word vir alles van die kleurskakering van die sitkamerkussings tot die keuse van toiletpapier. Nie altyd omdat sy vir alles verantwoordelik wíl wees nie. Soms is sy net te moeg om ’n feministiese last stand voor die stoof in te neem. Buitendien, dink Griet bitterbek, dis vernederend om jou stert met koerantpapier af te vee terwyl jy en jou man oor Germaine Greer en Gloria Steinem stry. Dis op die ou end minder moeite om maar self toiletpapier te koop.

      Maar almal weet dis makliker vir ’n man om uit ’n tas te lewe. Wat maak jy as jy in die middel van die nag begin menstrueer en ontdek dat jy nie jou Lil-Lets ingepak het nie? Of as jy jou ingevoerde nagroom vergeet het en nie genoeg geld het om nog ’n flessie te koop nie en elke oggend met afgryse in ’n geleende spieël moet sien hoe die plooie om jou oë deur die nag vermeerder het.

      Wat is ’n huis sonder ’n vrou? wonder Griet terwyl sy vir die eer­ste keer in weke deur haar huis stap. Wat is ’n vrou sonder ’n huis? Wat is ’n vrou sonder haar man se skeermes? Sy het altyd George s’n geleen – wat hom grensloos geïrriteer het – om haar okselhare te skeer. Hy het nie van harige vroue gehou nie. Sy kon natuurlik die afgelope drie maande ’n skeermes aangeskaf het, maar om die een of ander rede het sy net nie sover gekom nie.

      Jy’s die enigste vrou op aarde, het Louise verlede week vir haar geskryf, wat teen die einde van die twintigste eeu nog glo dat paddas in prinse verander. En nou’s jy ontnugter omdat die teenoorgestelde gebeur het. So what, het Louise geskryf, join the club.

      Griet wens sy kan so sinies soos haar vriendin wees. Maar sy wil huil oor haar huis wat so verlate soos ’n Afrikaanse kerk op ’n week­dag voel. Sy staan in die kombuis, waar sy nooit met kakkerlakke gesukkel het nie, en staar mismoedig na die vuil skottelgoed in die wasbak. Meesal glase, merk sy op, wynglase en whiskyglase en om­trent al die ander glase in die drankkas. Dit lyk asof haar man elke aand ’n partytjie hou vandat sy die huis verlaat het. Of hom dood drink van verdriet, dink sy hoopvol.

      Sy oorweeg dit ’n oomblik om die kraan oop te draai en die stapel skottelgoed te begin was, maar bedwing haar betyds. Om skielik die goeie fee te wil speel! Asof hy haar gaan vra om terug te kom as hy vanaand ’n skoon kombuis kry.

      Dit lyk nie of hy veel eet nie. Daar is net drie borde in die wasbak. Sy maak die yskas oop en sien ’n dosyn bierblikke, ’n klomp wyn­bottels, ’n karton melk (suur, ruik sy onwillekeurig), ’n stuk muw­werige kaas en vier eiers. Sy wonder wat die kinders eet as hulle na­weke kom kuier. Sy wonder of daar toiletpapier in die badkamer is. En of hy onthou om die telefoonrekening betyds te betaal en die balsemkruid langs die agterdeur gereeld nat te gooi en soggens ’n venster oop te los vir die bure se rondloperkat.

      Dit het niks meer met háár te doen nie. Sy het net skoon klere en ’n paar boeke kom haal, herinner sy haarself. Hy het al haar foto’s en poskaarte van die plakbord langs die yskas afgehaal, merk sy meteens op. Dis fokken finaal, besef sy en vlug blindelings by die kom­buis uit.

      In die slaapkamer ruik sy hom weer, die onmoontlike mengsel van sweet en seep en rook. Maar sy ruik nie ’n ander vrou nie, goddank, sy sou nie dapper genoeg daarvoor wees nie. Nie terwyl haar eie reuk nog hier iewers in die hoeke van die kamer hang nie.

      Ouma Hannie se huis het altyd na kos geruik, na brood wat ge­bak en kwepers wat gekook word, en soms ook na diere wat geslag word. Griet word nou nog teruggeruk na daardie huis telkens wan­neer sy bloed ruik. Dis waar sy die eerste keer haar eie bloed geruik het, op die dag van oupa Groot Petrus se begrafnis.

      Simbolies, het sy later gedink, maar destyds het sy geen simbo­liek in die situasie gesien nie. Net die wreedheid van die noodlot wat bepaal het dat sy juis op daardie dag ’n wolkwit begrafnisrok moes dra. Die familie dog dis oor sy so hartseer was dat sy nie in die kerk opgestaan het om saam met die ander mense te sing nie. Sies tog, het die tantes simpatiek gefluister, sy was haar oupa se oogappel.

      Sy het heel laaste uit die kerk gestap, dankbaar en verlig dat die rok steeds skoon was.

      Daardie aand het sy gevoel asof haar lewe verby was, asof sy saam met haar oupa begrawe is. Sy was steeds dertien jaar oud, soos die vorige dag, maar skielik moes sy haar soos ’n grootmens gedra. Sy sou die volgende dag saam met die vroumense in die kombuis moes sit, swetend onder die stroke geel vliegpapier wat roerloos aan die plafon hang, terwyl die ander kinders gillend in die plaasdam speel.

      Sy het die nag sleg geslaap, en vroeg die volgende oggend wakker geskrik van die hartseerste geluid wat sy ooit gehoor het. Ouma Hannie het alleen gesing, haar yl stem heeltemal vals sonder haar man se hulp, maar vasberade om dit op haar eie te doen. Op berge en in dale, en oweral is God … Iewers, het Griet gedink, het oupa Groot Petrus tevrede geglimlag. En toe het sy vir die eerste keer ge­huil oor hy dood is.

      Griet kyk verlangend na die dubbelbed, die middelpunt van die huis, die spil waarom haar lewe sewe jaar lank gedraai het. Sy en haar man het nooit in hulle slaapkamer gesing nie. Sy het haar ouma se vals stem geërf en haar man het eerder gefilosofeer as ge­sing. Dis net emosionele Italianers en sentimentele Duitsers, het hy geglo, wat graag sing.

      Griet ruk die klerekas oop, skielik haastig, en gooi ’n klomp han­gers op die bed. Sy moet wegkom uit hierdie huis, so gou moontlik, en nooit terugkom nie. Dis soos Pandora se kis, die herinneringe wat oral uitkruip vandat sy die voordeur oopgesluit het. Dis erger as Pandora se kis. Pandora het darem nog hoop oorgehou.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного

Скачать книгу