Die koning se wingerd. F. A. Venter
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die koning se wingerd - F. A. Venter страница 9
Net soos Agab het Isebel haar ook daarvoor beywer om van die viering in die paleis iets groots te maak. Sy was goed bewus van haar taak, want sy het besef die room van Israel sou na die paleis kom. Sy en Agab wou deur hoë verering en vorstelike gasvryheid, wellewendheid en sjarme ’n stille bondgenootskap sluit met die voorstes van Israel. Met kos en wyn wou hulle die lojaliteit koop van almal met invloed.
Isebel het haar persoonlik bemoei met die bereiding van die feesmaal. Sy het die spysenier van die paleis ontbied en hom haarfyn voorgesê wat sy voorgesit wou hê. Toe die man kla dat hy nie vertroud is met party van die Fenisiese geregte waarop sy aangedring het nie, het sy hom beveel om gebruik te maak van haar eie spysenier wat sy uit Sidon saamgebring het. Sy het toegesien dat die heel fynste serviese en die beste silwer-, goud- en glasware voorgesit word.
In die stilligheid het Isebel haar voorgeneem om die eenvoudige siele van Israel, soos sy hulle vir haar voorgestel het, te oorweldig en te onderwerp deur die oormaat en swier van die paleis. Soos hulle op hierdie dag uit die koningsborde sou eet, sou hulle voortaan uit die hand van Agab en Isebel moes eet.
Baie van die landelikes wat nie gewoond was aan die prag en praal van die paleislewe nie, was uit die veld geslaan toe hulle die eetsaal binnekom. Hulle het skoorvoetend tussen die pragtig gedekte tafels beweeg terwyl paleispersoneel hul sitplekke aangewys het, hulle verkyk aan die vloere van sipreshout, die dak van sipreshout gestut deur sederhoutbalke, en teen die mure die beskot van eikehout met fraai versiersels: palmtakke, blomgroepe, vlieënde voëls, bul- en ramskoppe.
Die fyn, wilde ruik van vars hout het hulle gestreel soos die geur van wierook.
Toe Agab en Isebel binnekom, indrukwekkend in hul koningsgewaad, staan die aanwesiges eerbiedig op en buig. Sowel Agab as Isebel verwelkom hulle met ’n toegeneë glimlag en ’n vriendelike wuif van die hand, sodat hulle onmiddellik meer tuis voel.
Isebel oorheers dadelik die feestelike byeenkoms met haar lang tabberd van Oosterse sy en kosbare juwele gefatsoeneer deur die kundigste hande in Tirus en Sidon, haar hele voorkoms donker-mooi. Almal kyk haar bewonderend aan oor die glinstering van goud, silwer en glas, oor die glimmende koperbakke vol vars vrugte.
Selfs toe die hoofdisse binnegedra word – speenlammers op die spit gebraai, skottels bees- en skaapvleis gemeng met geskroeide graan, gebraaide wilde-eend en f isant, tesame met groentes en onbekende lekkernye wat Isebel self bedink het – bly sy nog die middelpunt met haar hartlikheid en innemendheid.
Die paleispersoneel kom vul die drinkbekers met wyn, en die feesmaal in die paleis kom rustig op dreef terwyl die volk daarbuite mekaar byna vertrap om genoeg kos in die hande te kry nie net om saam fees te vier nie, maar ook om vir môre en oormôre iets te ete te hê.
Agab en die gaste kyk verbaas op toe Amon, die stadshoof, die eetsaal laat binnekom, want Amon is ’n groot en aansienlike man wat oral aandag trek.
Die vrolike gepraat breek meteens af toe Amon reguit na Agab stap, een maal buig en in die koning se oor f luister. Agab spoel sy vetterige vingers in die albasterbakkie af terwyl hy aandagtig luister.
’n Groot groep jong profete, vertel Amon, beweeg tussen die feesgangers en rui hulle op om nie aan die “goddelose” feesvierings van prins Agab deel te neem nie, om nie ’n heidense prinses in Samaria te duld nie, om hulle te verset teen die bou van ’n Baältempel. Amon vertel ook dat ’n groep profete vroeër die dag die klipwerkers probeer opsweep het. Hy het hulle probeer ompraat om die feesgangers met rus te laat, maar hulle weier. Daarom het hy dit goedgedink om dadelik te kom sê, al is die tyd ongeleë.
Agab hou hom doodkalm, maar daar is ’n trilling in sy donker baard.
“Al weer die profete,” sê hy woedend maar sag, net vir Amon se ore. “Ewig die profete.” En toe, ná ’n kort stilswye: “Wat het geword van dié wat die klipwerkers opgerui het?”
“Hoofman Jehu het hulle gevang en laat opsluit, Hoogheid.”
“Jehu!” antwoord Agab voldaan. “’n Man so na my hart. Hy speel nie.” Hy trek Amon nader en f luister in sy oor: “Laat hulle ook vang, Amon, en sluit hulle op.”
Amon verlaat die eetsaal vinnig en word nuuskierig agterna gekyk.
Obadja draai sy drinkbeker, waaraan hy nog nie sy lippe gesit het nie, fronsend in die rondte. Hy vertrou die vrede nie. Amon is ’n gedienstige man wat bloot bevele uitvoer sonder om vrae te vra of standpunt in te neem, en dit lyk of Agab nie die pad van sy vader gaan loop nie. Koning Omri sou Obed-hulle deur die ampsdraers laat verhoor het; Agab het hulle sonder verhoor laat teregstel.
Agab kan die spanning en onsekerheid aanvoel wat Amon se teenwoordigheid in die eetsaal veroorsaak het. Daarom kom hy dadelik op die been. Die toejuiging van die gaste sowel as die rooi wyn van Jisreël, waarvan hy al ’n bietjie baie gedrink het, laat hom sterk en voortvarend voel, maar omdat hy ook in die toejuiging ’n geringe onsekerheid gewaar, praat hy rustig en bedaard.
“Besoekende vorste, leiers van Israel, ek en my bruid, prinses Isebel, groet u. Ons verwelkom u in die paleis van Samaria.”
Die toehoorders klap hande en juig.
“En my vader stuur sy groete …”
Toe spring hulle op en juig dawerend. “Koning Omri! Koning Omri! Die Here behoed koning Omri!”
En die oueres wat Omri gehelp het om sy teenstander Simri te verslaan, die Arameërs terug te dryf en Moab te onderwerp, vee onhandig die trane uit hul oë en hou hul drinkbekers bewend omhoog. “Koning Omri, die leeu van Samaria!”
Die toejuiging laat Agab besef dat hy nog maar ’n saailing is in die skaduwee van sy vader.
Hy weet ook nou hoe om verder te praat. Hierdie manne sal hy nog moet omhaal. Hy hou sy hand omhoog, en hulle gaan teësinnig sit.
“U weet wat my vader gedoen het. Hy het hierdie groot vestingstad vir Israel aangelê. Hy het Israel en Juda weer versoen sodat hulle byna soos een volk geword het. Hy het ’n verbond gesluit met die konings van Tirus … en Sidon …” Agab kyk met ’n betekenisvolle glimlag na Isebel af.
“Koning Omri!” juig hulle weer.
“Hy het die Arameërs van ons grense af teruggedryf. Hy het stede en vestings gebou, hy het Israel ryk en sterk gemaak …”
“Die Here seën koning Omri! Lank lewe koning Omri!” onderbreek hulle weer Agab se woorde.
“Ek sê dít vanaand hier aan die leiers van Israel … Ek sal in my vader se spore loop.”
Dié slag juig hulle vir Agab, nie oor wat hy is nie, maar oor wat hy wil word – ’n voortsetting van Omri. Dié toejuiging streel en bemoedig hom. Hy strek weer sy hande uit en toe dit stil word, sê hy: “Die ryk wat my vader Omri opgebou het, sal ek nog verder uitbou. Ek sal Israel nog groter en sterker en ryker maak. Dié wat my daarmee help, sal in die voorspoed en grootheid deel.” Hy bly ’n oomblik stil en kyk aandagtig na elkeen asof hy hul lojaliteit wil peil. “Dié wat in my pad staan, sal ek voor my wegvee!”
Dié keer staan hulle soos een man op en klap hande en juig Agab toe. Hy praat soos die leeu van Samaria nog altyd gepraat het, hy wil Israel lei soos Omri hom gelei het.
Agab