Die koning se wingerd. F. A. Venter
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die koning se wingerd - F. A. Venter страница 7
“Hulle het nie teen die paleis gerebelleer nie, hulle het teen Baäl gerebelleer. En nou bring hy hulle om die lewe. Sy eie mense, Israeliete!”
“Bedaar!” vermaan Sihon. “Vanaand het die klippe ook ore. Onthou, almal voel nie soos jy nie. Luister ’n bietjie …”
Hulle hoef nie te luister nie. Die opgewonde geblaf van honde, die byna histeriese rumoer van die feesgangers binne die stadsmuur vul die aand.
Die sondigheid van Israel het ’n afskuwelikheid geword, dink Johanan. ’n Dolle dansparty, ’n gebraaide os wat verorber word, duisend kruike wyn wat uitgesuip word. Eintlik behoort hy Sihon te haat, want hy is deel van dié afvalligheid. Tog kan hy nie, want Sihon is soos ’n vreemde loot wat op hom geënt is, deel van hom en tog ook nie.
Johanan praat nie verder nie. Sihon wil hom egter nie los nie, want hy voel soos een wat vandag vry geword het. Hy is lus om te praat. Lus, selfs, om Johanan te terg en te toets. “Skaam jou, Johanan, jy gun my nie eens ’n tempel nie,” spot Sihon. “Ek kan die heilige Baäl op die hoogtes, onder bome, in die oop veld aanbid, maar ’n tempel mag ek nie hê waar ek kan of fer en aanbid nie.”
“Israel het net één lewende God – Jahwe. In Israel is daar nie plek vir Baäl nie,” antwoord Johanan.
Sihon praat kalm, want hy wil Johanan nie verkeerd opvryf nie. Tog móét hy vanaand, oor alles praat wat al so lank in hom roer en beur. Obed se sweephou en wat vandag gebeur het, het alles in hom oopgebrand. En al een met wie hy nou kan praat, is Johanan.
“Jy is ’n goeie Israeliet, Johanan. Vir jou is daar net een god – Israel se god. Vir jou is daar net een volk en dit is Israel. Daar is net een wet – Israel se wet. Israel is die uitverkorene onder die nasies. Israel is die regverdige, Israel is die goeie, Israel is die heerser. Al die mag is vir Israel, al die rykdom is vir Israel, al die grond is vir Israel, elke waterput behoort aan Israel … Israel, Israel! Net Israel! Net Israel wéét wat goed is, net Israel dóén wat goed is, net Israel gló wat goed is.”
Johanan luister met toenemende verbasing na Sihon. Hulle het saam potkleidiere gemaak, saam die lammerskaap opgepas, saam slingervel gegooi, en toe hulle groter geword het, saam die olyfpers gedraai, druiwemandjies na die parskuipe gedra, koring uitgewan op Nabot se dorsvloer. Maar nog nooit het Sihon só gepraat nie.
“Waarom praat jy vanaand asof ek jou vyand is?”
“Omdat dit tyd geword het dat ons mekaar verstaan. Vandag het iets aan ons elkeen gedoen. Vanaand weet ons dat ons nie meer slingervel gooi en voëlneste uithaal nie. Toe kon ons broers wees, want ons het nog niks verstaan nie. Nou het ons grootgeword en ons weet dat ons nie broers kan bly as die een ’n perd is en die ander ’n donkie nie.”
“Het ek jou al ooit te na gekom?” vra Johanan.
Sihon strek sy hande na die vuur uit asof hy na warmte soek. “Vandag het jy my te na gekom, Johanan. Met jou verset teen die tempel het jy my duidelik laat verstaan dat ek nie kan aanbid soos ek wil nie, dat ek nie kan glo soos ek wil nie.”
Sihon se gesig is strak, sy oë uitdagend toe hy weer praat. “Jy sê daar is net een god, maar hom kan ek nie aanbid nie, Johanan. Hy’s ’n wrede god, ’n onregverdige …”
“Nou sê jy te veel, Sihon! As jy só wil praat, gaan ek nie na jou luister nie.”
In die vuurgloed trek die glimlag klein donker plooie oor Sihon se gesig. “Mag ek nie eens meer praat nie? Wil jy ook my siel besit soos julle Israeliete ons Kanaäniete se lywe besit?”
“Jy gaan die Here nie belaster nie! Dit sal ek nie toelaat nie!”
Sihon laat dit daar en kom uit ’n ander hoek terug. Hy begin praat oor alles wat hy deur die jare in hom opgekrop het, en hou aan praat terwyl hul vuur laer en laer brand, die ander vure om hulle doodgaan en dit donker word oor die klipgroef, die ses galge, Samariaberg, oor die hele Israel en Juda. Hy vertel asof hy self daar was toe Josua die trotse stede van Kanaän verwoes het – Jerigo, Ai, Hebron, Hasor, Geser, Megiddo en al die ander – en nie ’n man, vrou, kind of dier lewend gelaat het nie. Sihon praat so hartstogtelik asof hy self ’n boogskutter was toe koning Dawid Jerusalem ingeneem en Kanaän f inaal onderwerp het.
“Die Kanaäniet wat nie gedood is nie, is weggedryf of het ’n slaaf van Israel geword,” sê hy met verbittering wat Johanan verstom. “So het die volk van Kanaän in sy bloed gesmoor, so is hy onderwerp. So het ons ons geboortegrond verloor tot vandag toe. Jou god het dit so laat gebeur, want hy het alles bestier. Dan wil jy nog hê ek, ’n Kanaäniet, moet hom aanbid.”
“Nie jy of ek kan God se weë verstaan nie. Hy is almagtig en alwetend. Hy het vader Abraham na hierdie land geroep toe dit nog feitlik ’n leë wildernis was,” antwoord Johanan.
Sihon se oë gloei van geesdrif. “Ek kan nie ’n god dien wat ek nie verstaan nie. Ek wil Baäl dien, want ek verstaan hom. Hy is goed. Hy bring die reën, hy bevrug die grond, hy laat die gras, gesaaides en bome groei, hy laat die ooie lam en die koeie kalf en hy vul die baarmoeder van die vrou. Hy seën die land.”
Johanan loop tot aan die rand van die klein ligkol en luister weer na die rumoer in die stad en voor die poort. En hy voel die vertwyfeling. Dit is nie net Kanaäniete wat so juig oor die koms van die Baälprinses en oor die tempel nie – ook Israeliete. Nadat die klomp jong profete die middag saam met die opstandiges van die stadspoort weggedryf is na die klipgroef het hulle al hardlopende en skreeuende die werkers gemaan om nie aan ’n tempel vir Baäl te help werk nie, het hoofman Jehu se soldate hulle kom gryp en hulle weggesleep. Maar hy het met sy oë gesien hoedat talle Israeliete die profete rondstamp, rondpluk, en vir hulle skreeu: “Weg hier, julle mal deugniete!” Vir hulle lag en selfs na hulle spuug.
Hy praat driftig in die donker. “Baäl is ’n nietige afgod sonder lewe, sonder mag, net ’n doofstom beeld.”
Asof Sihon Johanan se vertwyfeling aanvoel, antwoord hy voldaan: “Koning Omri dink nie so nie. Prins Agab dink nie so nie. Die duisende Israeliete wat Baäl aanbid, dink nie so nie.”
Johanan loop sommer dieper die donker in, maar Sihon se woorde agtervolg hom. “Jy sal moet verander, Johanan, want Israel is aan ’t verander. Luister hoe juig hulle vir Agab en prinses Isebel. Sy is die nuwe bondgenoot van Baäl en ons Kanaäniete. Israel is besig om hom los te wikkel uit sy stywe kokon. Deur vir ons ’n eie tempel te gee erken Israel dat hy nie alleen in Kanaän woon nie. En die dag wanneer daardie tempel klaar is, sal ons Kanaäniete weet dat ons ons eerste stukkie vryheid ontvang het.”
Johanan draai om vuur toe, kom hurk daar.
“Vryheid, vryheid, vryheid!” bars hy uit. “Wat kerm jy vanaand so skielik oor vryheid? Jy kan loop waar jy wil, jy kan werk waar jy wil, jy kan ’n grofsmid word as jy wil, of leerlooier, of koopman, of soldaat. Waaroor kwel jy jou dan? Daar is Kanaäniete wat hoog staan in Israel. Is Bidkar nie Jehu se adjudant nie?”
Sihon peusel aan ’n korsie brood. Toe hy praat, sny sy woorde deur Johanan: “Kan Bidkar koning van Israel word? Nee, want hy’s ’n Kanaäniet. Kan hy hoof van die paleis word, hoof van die stad, hoof van die leër? Nee. Kan ek, Sihon, ’n stukkie grond besit? Nee, want ryk Israeliete besit al die grond.” Hy kyk seëvierend na Johanan, maar huiwer voordat hy weer praat. “Kan ek met een van jou susters trou?”
Die vraag hang nog tussen hulle al het sy woorde reeds op die aandwind verdwyn.
“Kan ek?”