Eilande. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eilande - Dan Sleigh страница 10

Eilande - Dan Sleigh

Скачать книгу

geaardheid van haar het sy dit reggekry, sonder dat vir haar geslag is. Hy sal vir sy vrou vertel die kind is veilig, al weet hy in sy hart haar voetjies loop in nagdonker vooruit, vóór hulle almal uit.

      Chief Harry het saamgegaan tot by die drif toe die twee hoofmanne van die Cochoqua op hulle afsonderlike koerse vertrek. Hy het sy klip op die stapel gegooi, sy tabak gerook, en tevrede dopgehou hoe hulle wegraak in die veld. Daardie twee, Oedasoa en Ngonnemoa, wat op hom neersien, het nou gesien dat hy die wit man se mond is.

      Soos Sonqua maak as hulle jag, het hy daar vir hom ’n skansie teen die wind opgeslaan, en gewag om te kyk wat verder gebeur. Eerste het die Grigriqua aangekom met vyf mooi beeste. Chief Harry het hulle ingewag, geneem, teruggebring. Sy beloning van tabak het hy in die skrotum van ’n eland toegedraai en onder die bosse weggesit. Die nuus moes goed en gou versprei het, want die Goringhaiqua het dieselfde nuwemaan beeste gestuur. Beeste, nie skape nie. Wou hulle dan dood wees? Dit was dié keer nie die lawaaierige, lighoofdige jongelinge wat deur beenpype blaas nie, maar beleefde mans, versigtig oor wat hulle by die Fort sou ervaar. Hulle het gesê dat hulle hom daar verwag het, hy was mos die Kompanjie se mond, en hulle wou hom vra om hulle met die vee na die Fort te vergesel. Hy het hulle met die beespad langs geneem en agter die Fort om, na die kraal van geelhoutbalke waarin die Kompanjie se vee snags gehou word. Die diere was al veld toe, en aan hulle spore kon hy sien watter onverwagte getal bees die Hollander bymekaargehad het. Omtrent ewe veel skaap as bees, het hy gemeen, en na skatting omtrent vyftig van elk.

      Van Riebeeck het daar by hulle kom staan. Almal het gestaan met die voorarms op die boonste balk en hulle voete tussen beesmiskoeke in die kort geweide gras. “Ons gaan dit hier regkry, Herrie. Ek kry al hoe meer hoop. As die Koina aanhou om vee te bring soos hulle nou doen, dan gaan ons dit regkry. Die groente kom ook mooi aan.”

      “Is jy tevrede?”

      Van Riebeeck het vermoed dat veel van sy antwoord afhang, en het sy woorde oordink. “Dit is te vroeg om te sê. Die beeste is nog te min en kom te stadig in, maar die vooruitsig is redelik. En jy, is jy tevrede?”

      “Ja.”

      “Jou vooruitsig goed?”

      “Wat bedoel jy?”

      “Gaan dit goed met jou? Kry jy wat jy nodig het? Wat dink jy van die toekoms?”

      “Nee. Ek moet self brandhout soek, kos soek, alles. My mense eet nou uit jou pot uit.”

      “Ek hoor vertel,” sê Van Riebeeck, “dat jy die drif oppas, dan bring jy die mense hiernatoe. Hulle kan tog die pad tot hier self vind?” Hy was onseker of Chief Harry enige invloed op die handel het, maar dit sou skade voorkom as hy hom vroeg uitskakel. “Kyk, as jy wil, kan jy by die Fort kom woon, saam met jou ander mense. Jy eet by my tafel. Laat die ou vrouens brandhout aandra vir hulle kos. Wat wil jy meer hê?”

      “Jy sal wil hê dat ek vir jou moet bees oppas. Ek is nie ’n kind nie. En spit en kap kan ek nie.”

      “Nee. Jy sal my mond wees. Jy praat net met die Koina. Ek sal jou kos en klere gee, en drank en rookgoed soos jy nodig het. Julle sit weer julle huise by die Duintjies op, dan loop julle soggens Fort toe, en saans gaan julle huis toe.”

      Wat hy nie gesê het nie, dink Chief Harry, is dat as ek sy werk aanneem, is dit klaar met die voorstanery van ruilers by die drif, en klaar met my Engels. By sy eettafel wil hy net Hollands hoor, en die kind is altyd by om te weet wat gesê word tussen die wyebroek en die Koina.

      “Ek sal vir jou werk,” sê hy vir Van Riebeeck, “dan kan jou soldate oor my wag staan.”

      In die maande dat Chief Harry by die opperhoof se tafel eet, praat hy nie Hollands nie. Dit was duidelik dat hy dit goed verstaan, maar hy het gehou by sy beperkte skeeps-Engels, soos ’n drenkeling aan ’n tou vasklou, en hom verder gehelp met matroosvloeke. Juffrou Van Riebeeck het ander woorde voorgestel in die hoop dat Herrie dit sou gebruik.

      Sy het hom vertel van die godsdiens wat Eva aan die leer was. Sy het hom kerk toe genooi, wat hy geweier het, en sy het daarna saam met Eva vir hom gebid. Haar prekies het Chief Harry, onbegrypend en swaar fronsend teenoor Eva, in stilte aangehoor.

      Opperhoof Van Riebeeck het meer waarde daarin gesien om die man se pyp dampend en sy glas vol te hou. Hy het van Chief Harry geleer. Hy het uitgevind dat Oedasoa self veertig beeste het, maar sy Cochoqua meer as honderd keer soveel. Hy het geleer hoe die Goringhaicona strandlopers geword het. En van Eva se verwantskap met die Chainouqua van anderkant die berg, deur ’n tante wat vrou van die hoofman was. Eva was self verbaas om dit te verneem. Hy het ook gevind dat die Koina besonder min eet. Vir vis en brood was hulle lief, en vir gekookte rys, en vir melk en brood, maar vleis is net in klein hoeveelhede gebruik asof hulle ’n afkeer daarvan het. Soet nageregte, wat by die Hollandse vrouens gewild was, is nie deur hulle aangeraak nie, hoewel die kind net soveel van lekkergoed gehou het as Herrie van sy Spaanse wyn. Die twee het dikwels aan tafel in die Koina-taal woorde gewissel. Van Riebeeck wou dit nie belet nie; hy wou niks doen om Herrie te vervreem nie. Hy was tevrede solank die veetrop in die kraal aangroei. Daar was al ’n paar dragtige ooie en verse by, die begin van sy aanteelkudde.

      Chief Harry het ook die aanwas van die kuddetjie dopgehou. Hy was gereeld by die uittel in die môre en die intel in die aand. Van agter die paalheining het hy soos ’n beeswagter gefluit; dit was vir hom mooi hoe die beeste hulle koppe na hom toe draai. Maar die matroos wat as melkboer gewerk het, het nie van sy fluitery gehou nie. Hy het gesê: “Een skipper. Hierdie vee het een skipper, nie twee nie.”

      Die melkboer het die vee met die VOC se nuwe brandyster gemerk; hy was trots op die diere in sy sorg. Bedags is die vee veld toe geneem deur die melkboer en ’n seun, ’n weeskind van dertien jaar wat deur ’n retoerskip siek in die hospitaal gelaat is. In die vroeë lente het hy en die seun soggens die beeste na die vleie agter die Duintjies gejaag, waar wit en geel gousblom dig en soet gegroei het, en daar onder die blou lug langs die see hulle dae deurgebring waar hulle die skepe kon sien inloop en uitloop, die orang lama duskant die eiland, die orang baharu anderkant die eiland verby. Hulle gewere was nooit ver van die hand nie, want daar was leeus teen die Leeuberg se hange.

      Chief Harry was saans weer by die melkery. Hy het in Engels en Koina advies gegee hoe om die koeie te laat sak, hoe om die kalwers te laat drink. Die melkboer was daaroor geïrriteer, want hy was ’n ervare melkboer. Sy pa was een, sy oupa was een. Die Koina-beeste, wild vir hom, moes met ’n spantou en ’n koptou beheer word. Daar was nie veel melk nie, die koeie was droog en taai en het nie van die melker se hand gehou nie, sodat hy met geduldige paaiwerk en krippe vol jong gras die melk uit hulle uit moes sukkel. Vir Chief Harry wou hy nie by sy kraal hê nie, want die man se gefluit het die koeie ontstem.

      Een skemer het die melkboer en die seun die beeste met hulle koptoue aan die balk bokant die voerkrip vasgehad, die eerste twee gespan en die uiers met warm water gewas, met Chief Harry pyp-in-die-mond by die hek en spottend oor sulke onsin. Die melkers was met emmers tussen die knieë op hulle stoeltjies onder die koeie ingeskuif, toe Chief Harry se hond ’n keel opsit en blaffend deur die kraal hardloop. Die koeie het geblaas, geruk aan hulle koptoue, oë na die hond toe gerol, met gespande knieë rondgesteier, en dadelik melk opgetrek. Die twee melkers het vinnig uit die pad gespring, want die koeie kon nie hulle voete vind nie, en het gevaarlik geslinger. Hulle moes weer van voor af paai, die diere se flanke streel en geduldig met die emmer en stoel probeer nader kom. Die son was aan sak en daar was die hele melkkudde om gerus te stel en tot melk te bring. Hulle was bekommerd oor die donker, want hulle het maar een fakkel gehad. Maar die twee koeie wou nie weer sak nie. Die boer het gedink om ’n kalf te bring, dat die koei vir die kalf sal sak, maar hy was nog op sy hurke aan die mooipraat, toe Chief Harry van agter kom en met sy hande bakgemaak om die koei se geslagsopening ’n lang trillende asemstoot daarin blaas. Die

Скачать книгу