Eilande. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eilande - Dan Sleigh страница 9

Eilande - Dan Sleigh

Скачать книгу

Hier, tussen die bosse, was ook ’n klipstapel van Heitsi-Eib’. Chief Harry het ’n kalkklip op die lang, lae hoop gaan gooi, en met sy hand oor sy agterkop van die plek af weggeloop. In ’n digte plaat slaaibos op ’n hoogte naby die drif het hy sy bondel laat val, en vir hom slaapplek gemaak.

      Voor dagbreek was die vee daar op die oorkantse wal: twee mans wat ’n bees en ses skape aanjaag. Chief Harry het sy koue lyf gestrek, ’n tydjie op hande en knieë gewag om na hulle praat te luister, en toe opgestaan. Hulle was bly om hom te sien. Dit was die eerste keer dat hulle hier kom; hulle was onseker oor die drif en wou liewer hoër op probeer. Maar hy het hulle gepaai: Dra maar die skape deur, die koei kan hier loop. Toe hulle troppie aan die Kaapse kant was, het hy hulle die Fort gewys. “En hoor, daar blaas hulle die horing.” Ver weg kon hulle die note van ’n trompet hoor. Dit was ’n vreemde geluid in hierdie land, en die herders het daarvoor stilgestaan. Al drie het gedink aan die geluid waarmee ’n olifant sy vyand wil verskrik, en by al drie het ontsag vir die Kompanjie gegroei. Toe het Chief Harry hulle op die beespad Fort toe gelei.

      Die Cochoqua was stil, onrustig. Dit was die eerste keer dat hulle in die Fort kom, dat hulle wit mense sien, en die eerste sien van ’n stoel, ’n blikbord, ’n vuurslag. Hulle het weerskante van Autshumao se bankie gehurk.Van die begin van die gesprek af was Chief Harry seker dat hy Van Riebeeck in sy hand het. Hy sou net Engels praat. Van Riebeeck wou nog sy Evatjie inroep, maar Chief Harry het vir hom gesê: “Ek praat vir hulle, en jy kan my verstaan.” En aan die Cochoqua het hy verduidelik dat die kind vir die Hollander werk en dat hulle teen hom saamspan om die Koina te besteel. Van Riebeeck het drie kommetjies met brandewyn en water gevul, op tweede gedagte ’n blokkie suiker in elkeen gekrummel, drie pype met tabak gestop en aangesteek en in hulle hande gegee. Toe het hy voor sy klavesimbel gaan sit en psalmwysies gespeel. Chief Harry het sy kommetjie na die besoekers gelig, “Cheer, ho” gesê, en gedrink.

      Van Riebeeck se eerste vraag was: “Wat kan ek met een koei doen, Herrie? Ek het honderde nodig.”

      “Die mense sal nie hulle beeste afstaan nie. Die bees is vir hulle alles. Amper soos …” Hy het rondgekyk. Soos wat? Wat is vir die Hollander dierbaar? Op die Engelse skip was ’n kruis van hout met die figuur van ’n man daaraan gespyker, en jy kon ’n Engelsman doodslaan, maar hy sou nie daar verbyloop sonder om aan sy hoed te vat nie, anders was hy verlore soos ’n hond wat nie sy spoor huis toe kan kry nie. “As ons nie beeste het nie, moet ons rowers word, of jagters in die berge, of ons kos uit die koue seewater haal. Dit word honger en swaar dae.”

      “Ek glo,” het Van Riebeeck gesê, “dat hulle tog sal verkoop of verruil. Hulle sál; die eerste bees staan klaar in my kraal.” Hy het tevrede gekyk hoe hulle aan die pype suig. Die eerste pyp maak van ’n man ’n roker. “Vra nou vir hulle, Herrie, hoeveel beeste Oedasoa het.”

      “Veertig.”

      “Ek wil dit van hulle hoor. Vra vir hom. Ek wil die waarheid weet.”

      “Ek ken vir Oedasoa. Hy het veertig beeste.”

      “Ek glo dit nie.”

      Toe draai Chief Harry na die Cochoqua toe en vra: “Hoeveel beeste het Oedasoa?” En hy vertaal die antwoord: “Oedasoa het veertig beeste.”

      Van Riebeeck wou dit nie aanvaar nie. As die Koina so arm is, sal hierdie diensstasie wat Here Sewentien aan hom toevertrou het, nooit aan die gang kom nie. Tientalle beeste, honderde, is nodig vir aanteelvee, trekvee, pakosse, slagvee, melkkoeie, maar die belangrikste van alles is die vervoer. Alles wat oor land moet gaan, moet deur osse geneem word. Dit is dus osse, of anders, waaragtig, gaan hy slawe maak van hierdie nasie. Hy sal met kalmte en geduld vooruit. Hulle beeste of hulle moet die las dra, maar hierdie diensstasie gaan slaag.

      Hy het skoon brandewyn in hulle kommetjies gegooi. “Hoekom het die Cochoqua so min vee?”

      “Die Goringhaiqua het van hulle gesteel, en die Grigriqua het ook van hulle gesteel,” sê Chief Harry.

      “Nee, ek wil dit van hulle hoor.” Die agterdog het hom bygebly, maar Chief Harry het gevra, en die antwoord gegee: dit is hoe dit was, dit was nie anders nie.

      Vroeg in die voormiddag het die twee mans vertrek met hulle rys in twee seilslopies en hulle tabak in growwe sak gedraai. Hulle het geloop en kou aan swart tabak. Chief Harry het gekyk na hulle spore van die oggend, bo-oor gister se skaap- en beesspore. Sy kop was moeg van sukkel met die Hollander, maar hy was tevrede dat hy gekry het wat hy wou hê. Oedasoa sou nou weet om nooit te veel bees op ’n keer te stuur nie, en Van Riebeeck sou weet hy moes betaal vir wat hy wil hê. En sy eie planne was mooi aan die loop. Die jaar gaan nog groen word vir hom en die kind.

      Hulle het geloop en praat oor wapens. Hy het probeer verduidelik hoe die wyebroek se kanon en skietgeweer werk. Al wat hy met sekerheid kon sê, was dat daar geen toordery by was nie. Enigeen kon dit laat werk, ’n kind kon dit doen. Net op reëndae werk dit nie. In Indië het hy baie swart soldate gesien wat gewere dra, maar sy gedagtes daaroor het te ver vooruit geskiet, geskrik en teruggevlug na die beespad toe, na die spore van beeste in die rigting van die Fort. Ja, klein Krotoa moes vir eers by die Fort bly. As sy oud genoeg is vir andersmaak, en as sy daarna oud genoeg is om ’n man te vat, sal hy haar wegneem na die Cochoqua, of na ou Sousoa, oorkant die berg. Dit lê nog voor, die kind is skaars twaalf jaar. Maar hy moet behoorlik vrede hou met die Hollander, dat hy self eers op die been kom.

      Op die wal, by die drif in die rivier, het hulle ’n paar klippe op Heitsi-Eib’ se stapel gelê. Toe het Chief Harry sy mes, ’n goeie Engelse mes, uitgehaal en die tabaksak se tou losgesny. Die rol swart tabak, heerlik van brandewyn deurtrek, het vriendelik geblink toe hy die pennetjies loswikkel, twee handbreedtes afrol en dit met een trek van sy mes lossny. Toe steek hy weer die pennetjies in, sit die rol weg en bind die sak vas.

      “Die Hollander gee die stuk vir my omdat ek vir hom by Oedasoa praat. As Oedasoa maar wil leer Hollands praat, sal hy my die moeite spaar. Die Hollander sê Oedasoa moet nou weer by sy mense hoor of hulle skaap en bees wil stuur. Hulle kan maar stuur. Julle het gesien wat die Hollander daarvoor gee. En hierdie bietjie droë rys, sal julle sien, word ’n groot klomp in die pot. Sê dit vir Oedasoa. Twee dubbelhande is genoeg vir vier, vyf mense. En jy kan vir al die Cochoqua sê: as hulle by die Fort kom, kry hulle brandewyn en hulle word Jan Kompanjie se man. Maar hulle moet skaap bring, en bees.”

      Eenkeer het Oedasoa en Ngonnemoa, die twee hoofde van die Cochoqua, self saam met van hulle oudstes gekom om die Hollander te ontmoet en die bouery van die Fort te bekyk. Hulle het die vee afgegee, en Jan Kompanjie se maklike andersmaak ondergaan. Met die kind die hele tyd by moes Chief Harry die Koina se woorde aan Van Riebeeck getrou oordra, en Van Riebeeck s’n weer aan Oedasoa en Ngonnemoa.

      Oedasoa wou apart met Krotoa praat. Hy was gesteurd toe hy die kind in ’n blou rok sien, hy kon nie sê waarom nie. Hy het sy geskenkie van uintjies en gepoeierde boegoe oorhandig, en gevra: “Jou ma se suster wil weet hoe dit met jou gaan?”

      “Goed. Dit is lekker hier.”

      “Wat sal ek haar van jou sê?”

      “Die vrou het twee seuntjies. Hulle moet elke dag hulle gesigte was en ek gee vir hulle kos en trek hulle klere aan.”

      “Nou ja, dit is goed. Ek kan sien hulle klere is moeilik om aan te trek.” Krotoa het vir hom vreemd eenvoudig, jonk en leeg geklink. Was wit mense se dogters so? Sy was ’n goeie kind, onskuldig, sy wat tussen ou vrouens grootgeword het. “Kyk, kind. Hierdie brandewyn van hulle, moet dit nie drink nie. Dit is nie vir jong mense nie. Jong mense val op die grond as hulle dit drink, en hulle gooi op.” Sy het belowe, en toe aan die ander kant van die kamer by Van Riebeeck gaan staan en lag en praat asof hy haar vader was. Miskien was sy

Скачать книгу