Saartjie Omnibus 7. Bettie Naudé
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 7 - Bettie Naudé страница 4
“Wat help dit om nou aan iets te probeer dink?” sê Saartjie smalend. “Ons is amper al klaar met die strafwerk.”
Galpil spring regop.
“Ons kan niks meer aan die strafwerk doen nie,” sê hy. “Maar iemand moet daarvoor betaal!”
“Hoor-hoor!” skree Piet en Gert, Galpil se twee boesemvriende. En omdat die drie gewild is onder die seuns, skree die ander nou ook: “Hoor-hoor!”
Dit is duidelik dat almal wil hê iemand moet boet omdat hulle ná skool moet bly.
“Wie is die iemand en hoe gaan ons die iemand laat betaal?” vra Saartjie nou.
“Die iemand is die een wat ons so in die moeilikheid laat beland het,” kondig Galpil aan. “Stem julle pêrre saam?”
Die seuns stem almal saam. ’n Klomp meisies knik ook laggend kop. Dit is lekkerder om so te sit en ginnegaap as om algebra te doen.
“En weet julle pêrre wie daardie skuldige iemand is?” vra Galpil nou dramaties.
“Natuurlik weet ons!” skree al die seuns saam. “Dis Ou Duifie!”
Dit was oor juffrou Nortjé dat hulle laat by Ou Grompot se klaskamer aangekom het en dit is daarom dat hulle nou ná skool op hierdie heerlike, sonnige middag moet sit en algebra doen.
“So hoe gaan ons haar terugbetaal?” vra ’n hele paar seuns feitlik gelyktydig.
“Ons moet dit op ’n slim manier doen,” sê Galpil. “So slim dat ons nie weer gestraf word nie.”
“Hoe gaan ons dit regkry?” wil Saartjie weet.
“Ek het nou net aan iets gedink,” sê Galpil tevrede.
Almal vra hom wat dit is. Hy lig sy hand vir stilte en sê dan: “Luister nou mooi.”
Die kinders stel baie belang. Hulle spits hul ore.
Galpil vertel nou dat hy ernstig oor die saak nagedink het.
“Is dit hoekom jou voorkop so geplooi was?” vra Saartjie en glimlag soet.
Galpil kyk agterdogtig na haar. Hy wonder of sy miskien probeer om snaaks te wees.
“Ja,” sê hy nors en gee haar ’n vies kyk. “En moenie my weer in die rede val nie.”
“Ek het maar net gewonder,” sê Saartjie met ’n onskuldige gesig.
Galpil besluit om haar te ignoreer. Hy vertel nou van die plan waaraan hy gedink het om Ou Duifie te laat boet vir die feit dat hulle verniet gestraf is.
Volgens hom moet hulle die onderwyseres woedend kwaad maak – so kwaad dat sy sommer by die klas uitstorm, maar nie by die hoof kan gaan kla of hulle kan straf nie. “Want,” sê hy met ’n glimlag, “as ons nie weet nie, dan weet ons mos nie.”
Die kinders lyk effens dronkgeslaan. Hulle volg nie mooi nie.
“As ons wat nie weet nie?” vra Saartjie.
“Enigiets wat sy ons vra!” sê Galpil en lyk hoog in sy skik met homself. Hy vryf sy hande in die lug voor hom en glimlag breed.
Die klomp verstaan nog steeds nie. Galpil verduidelik nou. Hy sê hulle moet van môreoggend af almal doodstil in Ou Duifie se klas sit en glad nie raas nie. Hulle moet hulle perfek gedra, maar as sy ’n vraag vra – al is dit ook die maklikste een in die wêreld – dan moet hulle net sê hulle is jammer, maar hulle weet nie wat die antwoord is nie. Sy gaan later so woedend word dat sy sommer by die klas sal uitstorm.
“Maar onthou,” sê Galpil en lig sy hand weer om die gebabbel wat losbars stop te sit, “ons moet saamstaan. As sy vir enigeen van ons ’n vraag vra, dan moet daardie een net opstaan en sê: ‘Jammer, Juffrou, ek weet nie.’ Verstaan julle?”
Ja-nee, almal verstaan. Die kinders hou nogal van hierdie plan om Ou Duifie terug te betaal omdat hulle gestraf is – verniet, volgens hulle.
“Maar julle moenie lag as julle antwoord en sê julle weet nie,” sê Galpil. “Dit sal alles opmors. As sy vir een van julle ’n vraag vra, moet die perd net met ’n sedige gesig sê: ‘Jammer, Juffrou, ek weet nie.’ Dis al. En die ander pêrre, moet ook nie lag nie.”
Die kinders weet nou almal wat hulle moet doen. Saartjie voel nie te gelukkig oor die hele affêre nie. Maar dit sal nogtans groot pret wees.
Sy kyk by die venster uit en sien meneer Burger aankom.
“Kywie, ouens!” sê sy vinnig. “Hier kom hy!”
Die leerders begin almal weer hard aan die algebra-probleme werk.
Toe meneer Burger by die klas inkom, is dit vreemd stil. Hy kyk peinsend na hulle en speel-speel met sy bokbaardjie. Hy wonder of die kinders die hele tyd so stil was. Hulle het nou al ’n uur gesit, so daar is nog veertig minute oor.
Ou Grompot voel egter nie meer lus om sy tyd hier te mors nie. Hy is nou ook honger.
“Is julle klaar?” vra hy.
Die leerders sê dit nie, maar die uitdrukkings op hul gesigte is duidelik te lees. Hoe kan hulle nou al klaar wees? Die meneer het vir hulle ’n magdom probleme gegee om uit te werk.
“Nou ja, gaan doen die orige probleme by die huis,” sê hy tot almal se verbasing. “Julle kan gaan.”
Die klas is hoog in hul skik. Hulle sal die werk tien keer eerder by die huis gaan klaarmaak. Dan kan hulle ten minste eet terwyl hulle werk. Hulle is nou al moeg van so honger hier sit.
Met ’n “Goeiemiddag, Meneer!” is die graadneges vinnig by die deur uit.
Die Lynnekom-kinders stap na die bushalte toe. Galpil, Gert en Piet loop laggend voor Saartjie, Anna en Lina uit.
Die Drie Muskiete is nie so luidrugtig soos die seuns nie. Hulle loop en gesels oor die les wat hulle juffrou Nortjé gaan leer.
Saartjie voel nie te gelukkig oor die hele affêre nie.
“Hoekom nie, Saartjie?” wil Anna weet. Sy is effens mollig en het ’n ronde, vriendelike gesig. Anna en Lina is net so oud soos Saartjie. Anna doen altyd alles wat die rabbedoe sê, maar Lina maak gewoonlik eers beswaar as Saartjie die een of ander kattekwaad voorstel, hoewel sy dan gewoonlik later geesdriftig saamspeel.
“Omdat dit vir my lyk of dit dalk ’n bietjie gemeen kan wees.”
Lina dink glad nie dit is gemeen nie. Sy sê sy stem ’n honderd persent saam met Galpil. Dit is Ou Duifie se skuld dat hulle onregverdig gestraf is en sy moet daarvoor betaal.
“Ek hoop net nie,” sê Saartjie en sug effens, “ons beland in nog groter moeilikheid as vandag nie.”
Dit is natuurlik presies wat gaan gebeur, maar die kinders weet dit nog nie!