Trompie Omnibus 7. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith страница 8

Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

doen nie, was hy ook sy hande.

      Trompie hou hom met ’n vies uitdrukking op sy gesig dop. Toe Gerrit omdraai om sy hande met die papierhanddoeke teen die muur af te droog, sê Trompie: “Haai” en Gerrit brom dieselfde terug.

      So ja, nou het die twee mekaar darem gegroet.

      Gerrit wag dat Trompie moet praat. Trompie het mos die teken gegee dat hy met hom wil praat.

      Trompie besluit hy gaan nie doekies omdraai nie. Hy gaan sy sê sommer reguit sê.

      “Gerrit,” sê hy kwaai en wikkel sy sproetneus om die ou goed te laat verstaan hy wat Trompie is, is lelik omgekrap, “jy soek moeilikheid!”

      Gerrit is glad nie bang nie. Hy weet mos Trompie sal dit nie waag om hom hier by die skool en dit nogal terwyl hulle albei in die klas behoort te wees te bevlieg nie.

      “So?” sê hy met ’n ongeërgde houding en sy wenkbroue is vraagtekens, asof hy nie die vaagste benul het waarvan Trompie praat nie. “Wie sê so?”

      “Ek sê so!” Trompie bal sy vuiste. Hy is nie lus vir Gerrit se astrantheid nie.

      Gerrit is tjoepstil. Hy begin skrikkerig word. Dit lyk sowaar asof Trompie hom sommer hier gaan bydam!

      “Is jy vir daardie petisie verantwoordelik?” Trompie tik-tik nou met sy vuis op Gerrit se arm.

      “Watter petisie? Ek weet nie waarvan jy praat nie,” sê Gerrit en gee ’n tree agteruit.

      Trompie kom vinnig vorentoe.

      “Jy weet goed waarvan ek praat!” Trompie is nou pure man, want hy kan mos sien Gerrit is bang. Sy vuis is onder Gerrit se neus en hy sê met ’n bars stem: “Ruik daar!”

      Gerrit is verskrik. Trompie lyk woes, daarom besluit hy om maar liewer te ruik. Dit sal die veiligste wees. Hy snuif so half aan Trompie se vuis.

      “Het jy geruik, hè?”

      “Ja, ek het geruik.”

      “Nou ja, dis wat jy gaan kry. Moenie hier staan en sê jy weet niks van goed af as jy alles daarvan weet nie!”

      Gerrit kyk verwilderd rond. Hy is seker Trompie gaan hom nou enige oomblik bydam. Hy wens iemand – verkieslik ’n onderwyser – wil nou hier inkom.

      “Het jy gesê of op daai lys geskryf ek’s nie ’n goeie kaptein nie?” wil Trompie weet.

      Gerrit aarsel. Hy besef egter dit sal nie help om leuens te vertel nie. Trompie weet seker alles van die petisie af. Rooie moes hom daarvan gesê het.

      “Ek het, ja,” antwoord Gerrit en stoot sy bors dapper uit, “want dit is wat ek dink.”

      “Wat dink jy?” Trompie gluur Gerrit kwaai aan.

      “Ek dink nie jy’s ’n goeie kaptein nie,” sê Gerrit en omdat Trompie hom so woedend aankyk en hy maar skrikkerig voel, voeg hy vinnig by, “al is jy ’n uitstekende rugbyspeler.”

      Trompie voel tevrede, veral wanneer Gerrit nou verder vertel hy kan met ’n skoon gewete sê Trompie is die beste senter wat hy al ooit in sy lewe gesien het.

      “Maar Trompie,” gaan hy aan toe hy sien Trompie gluur hom nou nie meer so kwaai aan nie, “al jy so ’n blitsige en skitterende senter, dink ek nie jy’s ’n goeie kaptein nie. Dis my mening en dis mos ’n vry land. Enige ou het ’n reg op ’n mening, nie waar nie?”

      Trompie voel nou glad nie meer so omgekrap nie. Dis darem baie mooi dinge wat Gerrit van hom gesê het. En Gerrit is reg as hy sê dit is ’n vry land. In ’n vry land is enige ou mos geregtig op sy mening.

      “Hoekom,” vra Trompie, “dink jy ek’s nie ’n goeie kaptein nie?”

      Gerrit is nou weer vol moed. Dit lyk nie meer of Trompie hom te lyf wil gaan nie. Sy vuiste is nie meer gebal nie.

      “Omdat jy te veel op jou eie wil doen,” antwoord Gerrit Trompie se vraag reguit.

      Trompie voel effens ongemaklik. Dit beteken mos hy speel selfsugtig rugby. En hy het hierdie storie al vantevore by die onderwyser wat hulle afrig en party van die ander ouens gehoor. Hy wonder – is dit miskien waar?

      Maar ná ’n oomblik sê hy vies: “Jy praat nonsens, Gerrit. Wie het laas jaar die meeste drieë gedruk, hè?”

      “Jy, Trompie – maar dis omdat jy so selfsugtig is en alles self wil doen. As jy meer uitgegee het en jou vleuels die bal meer laat kry het, sou die A-span nog meer drieë aangeteken het. Dan kon hulle miskien ook die beker gewen het.”

      Trompie bal sy vuiste weer en druk sy regtervuis weer eens onder Gerrit se neus sodat hy dit moet ruik.

      “Bedoel jy,” vra hy en wikkel sy sproetneus ontstoke, “dis my skuld dat ons nie die beker gewen het nie? Is dit wat jy bedoel, hè?”

      Gerrit retireer vinnig, maar hy voel beter toe die kleedkamer se deur oopgaan en ’n seun inkom. Dit is Sarel Marais.

      “Dis nie wat ek bedoel nie, Trompie,” sê Gerrit vinnig. “Ek sê maar net as jy meer na die vleuels laat loop het, het die A-span miskien meer drieë aangeteken.”

      Trompie gluur nou weer woes na Gerrit. Sarel stap nader.

      “Wat’s dit met julle?” vra hy.

      Gerrit verduidelik vinnig Trompie het hom hier kom bydam oor die petisie.

      “Maar wat is verkeerd daarmee?” sê hy vir Sarel. “Ek dink Trompie is ’n skitterende rugbyspeler, maar nie ’n goeie kaptein nie. Dis ’n vry land. Ek het die reg om ouens wat soos ek dink om te praat om nie vir Trompie te stem nie. Dis mos ’n …”

      “Sê weer dis ’n vry land, dan tik ek jou dik!” val Trompie hom bars in die rede. “Ons weet almal dis ’n vry land!”

      Met ’n skouerophaling wat duidelik te kenne gee hoe onredelik Trompie is, kyk Gerrit na Sarel.

      Trompie tik-tik met sy wysvinger op Gerrit se bors en vra: “Dink jy die ouens sou daardie petisie geteken het as jy nie vir hulle lekkers gegee het nie?”

      “Natuurlik,” sê Gerrit sonder om te aarsel. “Baie het dit uit eie vrye wil geteken omdat hulle ook soos ek voel – jy’s ’n goeie rugbyspeler, maar nie ’n goeie kaptein nie.”

      Trompie is nou heeltemal uit die veld geslaan. Kan dit regtig so wees? Is dít wat baie ouens van hom dink – dat hy ’n goeie rugbyspeler is, maar nie ’n goeie kaptein nie? Hy onthou nou weer hoe baie hy al in die verlede gekritiseer is omdat hy kamtig te selfsugtig gespeel het. Hy het hom nooit aan die praatjies gesteur nie, maar dit lyk sowaar of dit baie ernstiger is as wat hy gedink het.

      Gerrit lyk nou glad nie meer soos ’n aartsvyand nie. Hy lyk maar net soos ’n ou wat skrikkerig is dat iemand hom bloedneus gaan slaan.

      “Jy weet, Trompie,” sê Sarel wat die toneeltjie staan en dophou het, “ek dink daar steek baie waarheid in wat Gerrit sê.”

      “O,

Скачать книгу