Trompie Omnibus 7. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith страница 6

Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

het niks aan ons gedoen nie. Dit staan enigeen vry om te probeer om kaptein te word.”

      Rooie, wat langs Trompie sit, brom dat dit net tydmors is om so vriendelik met Ben ou Pen te wees. Ben sal nooit as te nimmer vir Trompie stem nie. Hy gaan mos vir homself stem.

      Die leerders is besig met Afrikaanse grammatika. Meneer Botha – die kinders noem hou Ou Tande omdat sy stel kunstande altyd klapgeluide maak wanneer hy praat – het tien woorde op die bord geskryf. Die kinders moet sinne hiermee maak om te wys hulle weet wat die woorde beteken.

      Trompie werk maar stadig. Hy kan nie op die sinne konsentreer nie. Hy dink aanhoudend aan die petisie.

      Sy oë dwaal oor die seuns in die klas. Wie van hulle het almal die petisie geteken, wonder hy.

      Skuins oorkant Trompie, langs Ben ou Pen, sit ’n koshuisseun, Sarel Marais. Hy is ’n goeie vriend van Trompie-hulle en Trompie is doodseker hy het nie die petisie geteken nie. Maar, afgesien van sy drie vriende natuurlik, kan Trompie nie meer so seker wees van die ander ouens in die klas nie.

      Net agter Sarel en Ben ou Pen sit Gerrit Moerdyk. Trompie kyk fronsend na hom. Hy onthou hoe hy Gerrit omtrent ’n jaar gelede op ’n dag amper met die vuis bygedam het. Hy is nou spyt dit het net by amper gebly.

      Hy kom agter dat Gerrit ook rondkyk en vriendelik vir die ouens wat stemgeregtig is, glimlag. Gerrit gaan selfs verder – hy wys vir die seuns sy sakke is vol lekkers en beduie dat hulle pouse daarvan kan kry. Die ouens glimlag dan baie vriendelik vir Gerrit terug.

      Trompie is nou vies. Gerrit se vriendelikheid werk tien keer beter as syne. Gerrit se pa is mos die eienaar van die lekkergoedwinkel, so die dekselse ou het hope lekkers.

      Die Boksombende se Grootkaptein besluit net hy sal nou drastiese stappe moet neem as die vriendelikheidsveldtog nie werk nie, toe hy skielik ’n gebulder reg agter hom hoor: “Trompie!”

      Hy wip soos hy skrik. In die paadjie tussen die twee rye banke, net agter hom, staan die onderwyser. Trompie het nie agtergekom die meneer stap stadig met die paadjie langs die muur tot agter in die klaskamer en staan die kinders van daar af en dophou nie. Die onderwyser het gesien Trompie werk glad nie en het toe suutjies tot by hom beweeg.

      Trompie het hom boeglam geskrik. Hy glimlag flou en sê sonder om te dink: “Ha- … ha- … hallo, Meneer.”

      Ou Tande gluur baie kwaai onder sy ruie wenkbroue na Trompie.

      “Staan op!” bulder hy en sy tande klap-klap ’n paar keer.

      Trompie kom haastig regop. Sy hart bons wild. Meneer Botha is vandag weer in ’n verkeerde bui en hy lyk hoog die joos in.

      “Mag ek vra, meneer Toerien,” sê die onderwyser sarkasties, “hoeveel sinne jy al voltooi het?”

      Trompie het nie die vaagste benul nie. Hy kyk vinnig na sy boek en dan kyk hy weer weg. Daar staan net een sin op die bladsy. Hy het sowaar gedink hy het darem al meer as dit gedoen.

      “Ek het jou ’n vraag gevra!” Die tande klap-klap weer.

      “Een, Meneer,” antwoord Trompie gedwee.

      “Een wat?”

      “Een sin, Meneer. Ek het een sin gedoen.”

      “Besef jy party van jou klasmaats is al klaar met almal, mannetjie?”

      Met ’n weemoedige uitdrukking op sy sproetgesig skud Trompie sy kop. Nee, hy het dit nie besef nie.

      “Wat het jy die hele tyd gedoen?” Die onderwyser pluk met sy duim en wysvinger aan Trompie se hare.

      “Eina, Meneer!” protesteer Trompie en koes.

      Die onderwyser gluur hom nog steeds woedend aan.

      “Ek het sommer gesit en dink, Meneer.”

      Trompie vryf die kant van sy kop waar Ou Tande sy hare getrek het.

      “En mag ons weet,” vra die onderwyser smalend, “waaroor jy gedink het?” Die tande klap weer ’n keer.

      Trompie sien nou hoe al die leerders hom belangstellend aankyk. Hulle wil ook graag weet waaraan hy gedink het.

      Hy besluit om liewer nie ’n woord oor die petisie te rep nie. “Ek het sommer aan allerhande goed gesit en dink, Meneer,” mompel Trompie.

      Die onderwyser kyk op sy horlosie en sê: “Daar is nog net vyf minute oor, dan is hierdie periode verstreke. Jy het jou tyd verkwis. Jy gaan die werk nou gedurende pouse klaarmaak, verstaan?”

      Trompie knik met sy kop om te wys hy verstaan. Hy kan homself skop. Die pouse wat hy wou gebruik om vriendelik te wees en vir almal te wys hoe ’n gawe ou hy is sodat hulle vir hom moet stem, is nou na die maan.

      Die onderwyser beveel Trompie bars om te sit en hy maak so. Hy raap sy pen op. Hoe gouer hy met die sinne begin, hoe gouer sal hy klaarkry.

      Die volgende woord waarmee hy ’n sin moet maak, is “gevolgtrekking”. Trompie kyk peinsend na hierdie tweede woord. Hy dink hy weet wat dit beteken.

      Hy kyk op en sien net mooi hoe Gerrit vir ’n seun agter hom lekkers gee. Daai ou sal nou ook seker vir Ben ou Pen stem, dink Trompie. Hy wonder of Gerrit besef wat hy besig is om te doen. As hy so aanhou moeilikheid soek, gaan hy Trompie dwing om hom bloedneus te slaan sodat hy met hierdie mislike speletjie moet ophou.

      Trompie dink hieraan toe hy die sin wat hy met “gevolgtrekking” moet maak, neerskryf. Hy skryf:

      Party ouens dink hulle is snaaks en soek moeilikheid, en die gevolgtrekking is dat hulle dan bloedneus geslaan word.

      Trompie lees die sin weer en glimlag. Hy is in sy skik. Hy dink dit is ’n wonderlike sin. Hy besef glad nie dit is hopeloos verkeerd nie.

      Trompie skryf vinnig – en gedurende die pouse skryf hy nog vinniger. Dit is mos nou sy eie tyd wat hy so sit en mors. Hy wil so gou as moontlik klaarkry. Hy wil vriendelik buite gaan rondstap sodat almal kan sien hoe ’n gawe ou hy is en dan vir hom stem.

      Die woorde waarmee hy sinne moet maak, is egter moeilik en dit hou hom feitlik die hele pouse besig. Toe hy klaar is, maak hy vinnig spore buitentoe, maar die klok lui en die leerders moet weer in klas toe kom. Trompie loop vererg na die vierkant waar hulle rye vorm.

      Hy gaan staan by Rooie, Blikkies en Dawie. Hulle lyk ook afgehaal.

      “Wassit met julle? Julle het mos lekker pouse gehad.”

      “Ek sê vir jou, Trompie,” sê Dawie en lyk omgekrap, “daar is groot moeilikheid in die land.”

      Rooie en Blikkies knik om te wys hulle stem volkome saam met Dawie.

      “Wat het nou weer gebeur?” wil Trompie weet.

      Dawie is die een wat verduidelik. Hy praat vinnig. Hy vertel vir Trompie hoe Gerrit sommer oop en bloot by die fietsafdakke staan en lekkers uitdeel het en hoeveel ouens daar om hom saamgedrom het. Dit het gelyk of hulle almal die petisie onderteken. Hulle gaan nie vir Trompie stem nie, maar vir Ben ou Pen.

      “Ons

Скачать книгу