Trompie Omnibus 7. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith страница 7

Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

Hy het darem sowaar nie verwag die ouens sal vir iemand anders stem net omdat hulle verniet lekkers kry nie. Hy is nog meer teleurgesteld toe hy hoor Sarel Marais was een van die spul wat by die fietsafdakke staan en lekkers eet het.

      “Het julle met julle eie oë gesien Sarel teken die lys?” vra Trompie.

      Nee, erken hulle, hulle het dit nie met hul eie oë gesien nie, maar hulle is seker hy het geteken, want hoekom het hy dan saam met die klomp daar gestaan en eet?

      “Die wêreld is darem maar vals,” sê Trompie met ’n swaar sug.

      Rooie, Blikkies en Dawie stem saam.

      “Dis hoekom ons hierdie vriendelikheidstorie moet los,” mompel Rooie. “Ons moet, soos Dawie sê, die … die …” Rooie kan die woord wat Dawie elke keer gebruik het al weer nie onthou nie en kyk nou weer na hom vir hulp.

      “Die aartsvyand,” help Dawie.

      “Ditsem, die aartsvyand,” sê Rooie. “Ons moet die aartsvyand woes beveg!”

      Trompie kyk nadenkend na die aartsvyand wat ’n entjie voor hom in die ry staan. Gerrit glimlag breed. Hy is duidelik tevrede met homself. Hy het pouse baie lekkers weggegee en baie ouens oorreed om te teken dat hulle nie vir Trompie sal stem nie, maar vir Ben ou Pen.

      Stadig maar seker kom Trompie ook tot die gevolgtrekking dat hy drasties sal moet optree en moet vergeet van vriendelik wees met almal as hy kaptein van die rugbyspan wil wees.

      “Ons sal sien,” sê hy vir sy vriende net voor hulle in gelid klaskamer toe marsjeer.

      Die volgende periode het hulle Engels en die onderwyseres laat die leerders ’n paar bladsye in hul voorgeskrewe boek lees. Sy sal die laaste tien minute gebruik om vrae te vra oor die gedeelte wat hulle gelees het.

      Dit is ’n ideale kans vir Trompie om, soos hy nou vir Rooie fluister, “groot goed” te dink. Die Engelse boek lê oop voor hom, maar hy lees nie. Hy sit en dink aan die petisie en aan hoe ’n mens – soos Dawie sou gesê het – die aartsvyand se slinksheid kan beveg.

      Trompie besluit uiteindelik daar is net een ding wat hy kan doen. Hy moet Gerrit onder vier oë kry en hom so erg die skrik op die lyf jaag dat die vent die petisie stopsit. Maar Gerrit is deesdae baie astrant. Trompie twyfel of dit so maklik sal wees om hom met dreigemente bang te maak.

      Die Boksombende se Grootkaptein kyk nou peinsend na Gerrit waar hy in sy bank sit en lees. Die ou het die afgelope jaar geweldig gegroei. Hy is nie meer so kort en vet soos op laerskool nie. Sê nou maar net – en Trompie raak yskoud by hierdie gedagte – hy gee Gerrit sy kesj en Gerrit gee sy kesj terug en hulle baklei en Gerrit wen! Nee, Trompie skud onwillekeurig sy kop, hy wil nie eens aan so ’n nare ding dink nie.

      Maar hy moet nogtans met Gerrit praat om te sien wat hom te doen staan. Trompie hoop die ou sal op sy teken reageer sodat hulle kan gesels.

      Hoërskool Kwaggaberg se leerders het baie tekens waarvan die onderwysers onbewus is. As ’n seun byvoorbeeld kamer verlaat en wil hê ’n ander ou moet hom volg, kyk hy na die ou, vat aan sy oor en skud dit so effens. As die ander ou dan ook aan sy oor vat en dit effens skud, beteken dit: “Goed, gaan jy – ek kom.”

      Maar sal Gerrit kom? Trompie kyk aandagtig na hom. Dit lyk of Gerrit verdiep is in die voorgeskrewe boek. Hy hou mos van Engels en kry altyd die hoogste punte daarin.

      ’n Paar minute lank probeer Trompie Gerrit met sy gedagtes dwing om om te kyk. Dit werk egter nie. Gerrit hou aan met lees en Trompie hou aan om hom net strak aan te staar.

      Dan kug Trompie en toe dit nie werk nie, blaas hy sy asem deur sy saamgeperste lippe en maak ’n plofgeluid. ’n Hele paar kinders kyk op en na Trompie toe – Gerrit ook. Gelukkig was die geluid nie so hard dat die onderwyseres dit gehoor het nie.

      Trompie trek ’n gesig en beduie Gerrit moenie verder lees nie. Die seun kyk vraend na Trompie. Dan vat Trompie met sy hand aan sy oor en skud dit so ’n paar keer.

      Gerrit aarsel. Hy weet Trompie gaan die kamer verlaat en wil hê hy wat Gerrit is, moet hom volg sodat hulle kan gesels. Hy weet ook waaroor Trompie wil praat – die petisie.

      Al is Gerrit effens skrikkerig besef hy Trompie sal hom nie sommer hier by die skool bydam en slaan nie. Nee, dit sal veilig wees. Hy gaan hoor wat Trompie te sê het. Hy wat Gerrit is, het mos die hef in die hand. Hy weet hoeveel seuns nie vir Trompie gaan stem nie – alles danksy sy omkopery met die lekkers.

      Gerrit lig sy hand, vat aan sy oor en pluk so effens daaraan. Trompie moet maar gaan – hy sal kom.

      Juffrou Carelse is die Engels-onderwyseres. Die kinders noem haar Ou Kareltjie. Sy is altyd daarop gesteld dat daar in haar klasse net Engels gepraat word.

      Trompie staan op, maak keel skoon en sê hard: “Please, Miss.”

      “Yes, Trompie?” Die juffrou kyk op van die stapel boeke wat sy nasien.

      “Can I leave the room, Miss?” vra Trompie. “Very thirsty, you know, Miss.”

      Trompie glimlag trots. Ja-nee, hy is ’n ou wat Engels soos ’n regte Engelsman kan gooi, dis nou maar wors.

      Die onderwyseres kyk glimlaggend na die sproetgesig. Hy dink hy is ’n kenner op die gebied van Engels, maar in werklikheid is sy taalgebruik maar beroerd. Sy hou egter nogtans van die lewenslustige karnallie.

      “You mean may you leave the room?”

      “Yes, Miss,” sê Trompie. Dis mos wat hy bedoel – wat anders dink sy dan?

      “Because you are thirsty?”

      “Yes, Miss,” sê hy weer. Dit is mos wat hy gesê het.

      “Fine, Trompie, you may go.”

      “Thank you, Miss.” Trompie is vinnig by die klas uit.

      Hy is skaars ’n minuut weg toe Gerrit sy hand opsteek en vra of hy die kamer mag verlaat. Hy kry ook toestemming.

      Rooie, Blikkies en Dawie kyk vinnig na mekaar. Hier is mos iets aan die gang. Gaan Trompie die aartsvyand sommer daar in die kleedkamers bydam? Hulle kan dit nie misloop nie! Die drie se hande skiet tegelyk die lug in.

      “Yes?” vra die onderwyseres. Rooie en Blikkies kyk na Dawie. Hy is mos goed in Engels.

      “Praat jy,” brom Rooie en pomp Dawie met sy elmboog in die ribbes om hom aan te hits.

      “May we please leave the room, Miss?” vra Dawie.

      “All of you?” vra die onderwyseres verbaas. Die drie knik. Ja, asseblief, hulle wil al drie gaan.

      “I’m sorry,” sê Ou Kareltjie en klink vasbeslote, “you will have to wait until Gerrit and Trompie are back.”

      Die drie gaan sit met swaar sugte. Het Trompie nou al vir Gerrit daar in die kleedkamer begin slaan?

      Intussen het Trompie sy regterhand wat vol ink was van sy stukkende pen wat so lek in ’n wasbak probeer was. Hy kon nie sy regterhand met daardie hand alleen was nie en moes toe maar sy linkerhand ook gebruik,

Скачать книгу