Trompie Omnibus 7. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith страница 5

Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

lys, Rooie?” vra Dawie. “Vyftig, sestig of sewentig?”

      Rooie sit met ’n groot frons. Hy dink ernstig oor hierdie belangrike vraag. Uiteindelik skud hy sy kop. Nee, hy kan nie sê of dit vyftig, sestig of sewentig is nie. Hy kan net sê dit is baie name, dis nou maar wors.

      “Jammer jy’t die name nie getel nie,” sê Blikkies droogweg en versit sy kougom behendig van die een kies na die ander.

      “So wat is jou plan, Trompie?” vra Dawie uiteindelik. “Moet ons vir eers niks doen nie?”

      “Nee, nie niks nie,” sê Trompie. “Luister, dan sê ek julle.”

      Rooie, Blikkies en Dawie sit nou aandagtig en luister. Hulle wil weet wat hulle te doen staan.

      2

      Trompie kry teenkanting

      Trompie praat ernstig. Hy sê weer vir sy vriende hy is seker die meeste van die ouens kan nie sommer met lekkergoed omgekoop word nie. En sover hy weet, is hy gewild in die skool en almal behalwe miskien Gerrit Moerdyk weet mos hy was verlede jaar ’n goeie kaptein.

      Trompie erken hy het dalk vyande, maar wie in die lewe het nie? Dit sal in elk geval maar net ’n paar wees. Die Boksombende het in die verlede party ouens geïgnoreer of min notisie van hulle geneem en daardie ouens sal miskien met lekkers omgekoop kan word. Maar volgens Trompie is dit net hulle en sy paar vyande wat die petisie sal teken.

      “Al die koshuisouens sal natuurlik ook vir Ben ou Pen stem,” sê Dawie.

      “Ja, maar selfs van hulle is daar baie wat vir my sal stem,” hou Trompie vol. “Al wat ons moet doen, is om die volgende paar dae baie vriendelik te wees met al die onder-16’s van wie ons nooit eintlik notisie neem nie. Ons moet so gaaf wees dat hulle sal sê: ‘Heng, Trompie en sy Boksombende is darem agtermekaar ouens!’ Dis so maklik soos dit.”

      “Dink jy rêrig hulle sal dan vir jou stem?” vra Rooie twyfelagtig.

      “Ja,” antwoord Trompie, “en as ons baie vriendelik is en baie moeite met hulle doen, sal die ouens wat al klaar die lys geteken het, spyt wees dat hulle dit gedoen het. Hulle sal ons vriendskap bo ’n paar lekkers verkies en vir Gerrit sê hulle speel nie meer saam nie. En die ander ouens wat Gerrit nog gaan vra om die petisie te teken, sal natuurlik almal weier.”

      Trompie is ’n optimis. Hy glo vas sy eenvoudige plan sal slaag. Rooie, Blikkies en Dawie is nie sulke optimiste nie. Hulle luister fronsend na hul Grootkaptein.

      Blikkies voel as hulle ouens in die verlede sleg behandel het en nou skielik oorvriendelik met hulle is, sal die ouens agterdogtig word. Hulle sal mos sommer sien die Boksombende is net agter hul stemme aan.

      Dawie en Rooie stem saam met Blikkies.

      Rooie dink ook dit is nou te laat om kamtig vriendelik te wees met spelers van die C-span en ouens wat nog nooit ’n span gehaal het nie.

      “Dis te laat, ouens,” sê hy dramaties. “Ek sê vir julle, daar is baie name op daai lys. Dis nou maar wors. Ek het dit met my eie oë gesien.” Rooie knip-knip sy oë om te wys hy weet waarvan hy praat.

      Dawie sê nou weer hulle moet die aartsvyand se slinksheid met drastiese optrede beveg. Hulle moet hom bloedneus slaan en dreig om dit weer te doen, tensy hy die petisie onmiddellik stopsit en vir al die ouens wat geteken het, sê hulle moet nou vir Trompie stem.

      “Al moet hy ook met ekstra lekkers betaal,” sê Dawie opgewonde, “om hulle nou weer om te koop om vir Trompie te stem.”

      “Nee,” sê Trompie en daar is ’n soet glimlag op sy sproetgesig. Hy wil vir hulle wys hoe vroom hy is.

      “’n Mens moenie gemeenheid met gemeenheid beveg nie. Dit is gemeen om so agter my rug ’n petisie teen my op te stel en ouens om te koop om nie vir my te stem nie – maar dit sal ook gemeen wees om Gerrit met geweld aan my kant te probeer kry.”

      “Gmf,” brom Rooie net en trek skewebek asof hy ’n sluk asyn gedrink het.

      Trompie ignoreer Rooie en gaan voort: “’n Mens moet onthou, as jy op die een wang geslaan word, moet jy die ander wang draai.”

      Rooie, Blikkies en Dawie besluit dit gaan niks help om teë te praat nie. Trompie is duidelik daarvan oortuig dat sy plan gaan werk. Hulle sal maar moet moeite doen om met elke Jan Rap en sy maat vriendelik te wees en net hoop die ouens stem vir Trompie. Ja-nee, hulle sal maar die ander wang moet draai.

      Die volgende oggend toe die vier op hul fietse skool toe ry, begin hulle met die vriendelikheidsveldtog.

      Die Boksombende waai oordrewe vir elke ou wat hulle teëkom om te wys hoe vreeslik vriendelik hulle nou is. En dan sê hulle boonop nog hard en vrolik: “Môre, Hendrik!” of “Môre, Pieter!” of “Môre, Gert!” of wat die ou se naam ook al is.

      Die ouens wat so luidrugtig en vriendelik gegroet word, lyk almal taamlik agterdogtig. Hulle brom net: “Môre” en wonder wat is aan die gang.

      By die fietsafdakke ontmoet Trompie-hulle vir Katrien. Sy woon langs Trompie en ken die seuns al van graad vier af. Sy was eenkeer ’n halwe lid van die Boksombende: ’n voorreg waarvoor sy moes betaal. Die seuns het vir hulle lekkers met die geld gekoop en dit was die einde van die saak. Om ’n halwe lid te wees, het klaarblyklik niks beteken nie. Hulle het haar nooit na enige vergaderings toe genooi nie en Katrien het geen voorregte geniet nie. Sy was weke lank vies omdat hulle haar geld gevat en haar só gekul het.

      Rooie, Blikkies en Dawie sê nou in ’n koor vir haar: “Haai, Katrien.”

      “Haai, ouens,” groet sy terug. Sy is ’n sproetgesigmeisie met twee lang vlegsels.

      Trompie groet haar nie soos die ander nie. Hy sit sy fiets neer, kyk na haar, lig sy pet, maak ’n galante buiginkie en sê met ’n vriendelike glimlag: “Goeiemôre, Katrien.”

      Sy is effens uit die veld geslaan.

      “Môre,” mompel sy en stap na waar haar vriendinne vir haar wag. Wat makeer Trompie? Is hy miskien siek, of iets?

      “Hoekom mors jy jou vriendelikheid so op haar?” brom Rooie. “Sy het mos nie stemreg nie.”

      “As ’n ou met almal vriendelik is,” sê Trompie, “selfs met dié ouens wat nie onder-sestien is nie en nie vir jou kan stem nie, selfs met die meisiekinders, lyk dit beter. Dan kan niemand mos sê ons is net vriendelik om stemme vir my te werf nie.”

      Sy vriende wonder nog hieroor toe die klok lui. Hulle stap na die vierkant toe waar die leerders in rye inval. Die Boksombende wens een en almal wat hulle teëkom ’n goeie môre toe. Die kinders frons almal agterdogtig. Hoekom is Trompie en sy vriende skielik so vriendelik? Voel hulle miskien siek? Of wil hulle iets hê?

      In die klas groet die vier vriende hul klasmaats ook vriendelik – veral die onder-16-ouens wat rugby speel. Hulle is mos almal stemgeregtig soos die slim mense sê.

      Die enigste een wat hulle nie vriendelik groet nie, is Gerrit Moerdyk. Hy is mos vir die petisie verantwoordelik.

Скачать книгу