Skadukant. Rika Cloete

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skadukant - Rika Cloete страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Skadukant - Rika Cloete

Скачать книгу

genoeg verloor soos dit is.

      Sy besef Tertia sal nie haar mond kan hou as sy eers weet van die verhouding nie. Iemand sal net Hanna se naam hoef te noem, dan sal sy onmiddellik haar stuiwer in die armbeurs gooi. Grotendeels om vir Liam by te kom. Sy kon nog nooit juis vat aan hom kry nie. Van die begin af het sy Deirdre gewaarsku dat daar iets aan hom is wat haar kriewelrig maak. Hy was veels te glad na haar sin en ’n mooi man is gewoon almal se man. Dit het sy ’n paar keer gesê. Dat Liam haar boonop tydens ’n partytjie voor al wat leef en beef uitgekryt het as ’n spinnekopwyfie wat gedurig op jag is na ’n welvarende prooi, het Tertia hom ook nooit vergewe nie. Dit was lank voor sy die strop om Herman se nek gesit het, maar dit het bly haper. Suur druiwe? Wie sal weet?

      “Ek dink dit is verby tussen my en Liam.”

      “Hoe nou?” Tertia frons. “Jy is seker nie ernstig nie, Deirdre. Hy was dan altyd so committed. Ek meen, ek onthou nog soos gister toe julle mekaar op varsity ontmoet het. Die verstrooide kuns-eerstejaar en die gewilde LL.B-senior. Regte tortelduifies en totaal onafskeidbaar.”

      Verbeel sy haar, of is daar ’n sarkastiese toon in Tertia se stem?

      “Die afgelope ruk het dit maar gekrap tussen ons. Verlede naweek het dinge tot breekpunt gekom en het hy hier uitgestorm. Daarna het ek nog nie veel van hom gehoor nie.”

      “Is dit ’n midlife crisis, of wat?”

      Deirdre verwonder haar aan die perfekte buiging van Tertia se geligte wenkbrou. Ook by die blonde bob is daar geen plek vir verbetering nie. Nie ’n enkele haartjie is uit sy plek nie.

      “Ek dink Liam is nog ’n bietjie jonk vir ’n midlife crisis. Hy is nog nie eens veertig nie.”

      “Man, Herman het al op tien sy midlife crisis gekry en hy is nog steeds nie daaruit nie. ’n Ander vrou dan?” vra Tertia en trek haar helderrooi mond op ’n plooi.

      “Dit is seker al moontlikheid wat oorbly, is dit nie?”

      “En weet jy wie dit is?” Tertia se oë vernou tot dun strepies.

      “Ja, ek weet.”

      “Nou wie is dit?”

      “Jy kan seker raai.”

      “Heng, dit kan enigeen wees,” sê Tertia en dink na. “Wag. Laat ek by die obvious kandidate begin. Sy sekretaresse. Daai jong girl. Wat is haar naam nou weer? Hanlie? Hester?”

      “Hanna. Hanna Loubser.”

      “Maar hoekom herinner dit my nou aan iets? Is dit dan nie … Ek is seker dis …”

      “Dis die vrou wat onlangs hier vermoor is.” Deirdre verswyg die feit dat Liam op die lyk afgekom het. “Dit was oral in die nuus.”

      “Praat van poetic justice!” roep Tertia uit en Deirdre wil ondanks alles lag kry toe sy haar hand vinnig oor haar mond druk soos ’n stout kind wat iets onvanpas in grootmensgeselskap gesê het. “Sjoe … ja, dis maar ’n nare besigheid, hoor,” probeer Tertia dan haar faux pas regmaak. “Sollie hier by die garage vertel my sy seun wat ’n polisieman is, het die lyk gesien. Glo vreeslik vermink. En dan is die fetus boonop verwyder. Mens wonder om wat mee te maak nogal? Urg, net te weird. Die arme …” Sy ril oordrewe, die blonde bob wip. “Ekskuus, man. Hoe ongevoelig van my. Dit is seker die laaste ding waaroor jy nou wil praat.”

      Dit verras Deirdre ná al die jare nog hoe maklik dit vir Tertia is om sommer so met mense aan die gesels te raak. Soos nou kennelik weer met Sollie. ’n Vinnige groet, ’n hartlike glimlag, en dan word daar land en sand gepraat asof sy en die persoon mekaar al jare ken.

      Deirdre self het egter moeite om teenoor ander oop te maak. Eintlik beny sy Tertia daardie gawe, want in die vyf jaar wat sy en Liam op Murraybaai woon, het sy nog geen vriende gemaak nie. Sy vind eenvoudig nie aanklank by die dorpsmense nie. Om die waarheid te sê, sy praat net die allernodigste. Dié dat sy opeens ’n jaloerse stekie voel, want einste Sollie is juis die enigste een hier met wie sy darem meer as tien woorde wissel, al is dit slegs wanneer sy petrol gaan ingooi. Seker omdat hy, ’n Griek, ook ’n buitestander in die gemeenskap is.

      Deirdre skud die gedagte af. Ag nee wat! Dit help tog nie om afgunstig op Tertia te wees nie. Dis ’n bestiering dat die Gresses ’n jaar of wat gelede uit Johannesburg Kaap toe verhuis het om op die spogplaas te kom woon wat Herman geërf het, en sy is maar te bly sy het darem nou ’n vriendin wat redelik naby is. Sy het vir Tertia nodig, veral vir die tyd wat voorlê.

      “Ek is swanger,” laat sy die bom bars en sien hoe haar vriendin se gesig spookwit word.

      “Liewe aarde! Hoe het dit gebeur?”

      “Op die gewone beproefde manier, hoe anders.”

      “Ja, maar ek bedoel … Gebruik jy dan nie die pil nie?” Tertia aarsel ’n oomblik. “Is dit Liam s’n?”

      “Natuurlik is dit Liam s’n,” antwoord Deirdre half vies. “En ja, ek gebruik wel ’n voorbehoedmiddel, maar nie so gereeld soos wat ’n mens veronderstel is nie. Ek het nie gevoel dis regtig meer nodig sedert ek weet van die affair nie. Maar ons het weer ’n keer of wat saamgeslaap.”

      “En hoe voel jy daaroor? Oor die swangerskap?”

      “Ek is nie dolgelukkig nie, ek kan jou dít sê. Elke dag wat verbygaan, blameer ek myself meer en meer dat ek nie iets daaromtrent gedoen het nie. Ek wil nie ’n kind hê nie, punt. Want ek weet ek is nie uitgeknip om ’n ma te wees nie.” Deirdre vou haar arms oor haar bors. “Maar ek kon myself net nie sover kry om van die baba ontslae te raak nie. Dalk is dit omdat ek Liam wou straf oor Hanna, dat ek hom skuldig wou laat voel deur vir hom die kind te gee wat hy so lank al begeer. Of miskien wou ek uit desperaatheid iets van hom behou nadat hy my verlaat het, ek weet nie. En nou is dit te laat.”

      “Weet Liam van die baba?”

      “Nee, ek wou hom nog daarvan vertel voordat hy hier uitgestorm het, maar hy het my nie ’n kans gegee nie. Ek moes seker agter hom aan gegaan het, hom gedwing het om te luister, maar ek kon nie. Ek was te verlam deur alles.”

      “En waar is hy nou?”

      “Wel, die laaste keer wat ek van hom gehoor het, was hy in Kaapstad. Hy’t my net laat weet hy bly daar tot tyd en wyl. Dis al.”

      “Hoer en rumoer seker voort, as jy my vra. Hulle kry mos nie genoeg as hulle eers begin het nie,” merk Tertia op. “Ek moet sê, dit is die laaste ding wat ek vandag verwag het om te hoor. Ag, my ding. Wat gaan jy doen?”

      “Ek weet nie. Ek weet vir die eerste keer in my lewe regtig nie wat om te doen nie, Tertia. Ek voel so verskriklik alleen. En bang.”

      Deirdre draai haar kop weg. Sy wil nie hê Tertia moet haar sien huil nie, maar sy weet ook nie hoeveel langer sy die trane kan terughou nie. Dit is van al die inhou, die onderdruk, wat sy vandag so pateties hier sit. Om te swyg is nie noodwendig ’n krag nie. Dit kan uitkalwer, vernietig ook.

      “Jy weet ek is net ’n foonoproep ver, nè?” Tertia staan uit die gemakstoel op om haar ’n drukkie te gee. Die aanraking is meer liefdevol en eerlik as enigiets wat sy in ’n baie lang tyd ervaar het.

      Dan snik sy teen Tertia se skouer, klou krampagtig aan haar vas. Die kasjmiertrui is sag teen haar wang, syagtig onder haar vingerpunte.

Скачать книгу