Skadukant. Rika Cloete

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skadukant - Rika Cloete страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Skadukant - Rika Cloete

Скачать книгу

dat jy hom nie maklik sal kan identifiseer nie. Gee jou samewerking. Gee hom die motorsleutels, jou beursie, foon, net wat hy wil hê. Dit kan jou lewe red. Moenie probeer terugbaklei nie.

      Deirdre draai haar kop stadig weg. Probeer wys dat sy haar aanvaller nie wíl sien nie. Hy moenie die indruk kry dat sy iets wil doen om haarself te beskerm nie.

      Dit voel of ’n gil in haar keel sit wat wag om uit te breek. Moet sy dit dalk maar laat uitkom? ’n Moontlike verbyganger se aandag probeer trek?

      Sy ruik skerp, suur sweet. Iets soos ’n soeterige vrot vrug. Dit wil haar laat naar word.

      Toe voel sy ’n kragtige hand oor haar mond sluit, met ’n sakdoek daarin. Sy probeer dit wegdruk, kry al hoe moeiliker en minder asem, verstik.

      Die laaste waarvan sy bewus is, is ’n diep donkerte wat haar omvou.

      HOOFSTUK 4

      Haar lyf voel styf, swaar en seer toe sy haar oë oopmaak. Die donkerte is steeds daar, óm haar.

      Deirdre lê op haar sy op ’n koue sementvloer en word bewus van die reuk van ’n steriele skoonmaakmiddel, maar ook van iets wat haar aan urine herinner. En dan, baie vaag, ’n sweempie babapoeier. Dit is asof haar reuksintuig sterker is as gewoonlik.

      Sy weet nie waar sy is, of hoe lank sy reeds hier lê nie. ’n Vae vermoede begin in haar posvat, onsamehangende beelde woel voor haar. ’n Jong, swanger vrou … Golwe … ’n Vernielde lyk … ’n Spreekkamer … ’n Sonar … Hulle motorhuis …

      Toe onthou sy van die hand wat haar mond toegedruk het. Die sakdoek. Die soet reuk van wat eter moes gewees het. En die duisternis. Sy wil skreeu, maar sy kan nie, want haar mond is met iets toegeplak.

      Nee! Dit kan tog nie wees nie – of kan dit?

      Dieselfde man wat vir Hanna …

      Nee. Onmoontlik.

      Dan: Fionn.

      Die naam klief deur haar.

      Haar kind!

      Sy wil haar hand lig. Aan haar buik raak. Seker maak dat hy nog daar is. Maar ook daartoe is sy nie in staat nie. Sy kan nie beweeg nie. Nie haar arms nie, nie haar bene nie, niks.

      ’n Ysige greep klem om haar hart.

      Die ontvoerder moes haar met iets ingespuit het. Die een of ander middel wat haar heeltemal lam laat sodat sy absoluut niks teen hom sal kan uitrig nie. Die perfekte slagoffer.

      Deirdre se kop dreig om te bars, maar sy is half dankbaar vir die pyn, want dit beteken dat sy ten minste nog iéts kan voel. Sy probeer haar gedagtes orden, dink wat om te doen.

      Dan word sy bewus van ’n ligte prikkeling in haar skouer. Aanhoudend, selfs irriterend.

      Dankie, Here. Die lewe is besig om terug te kom.

      Verbeel sy haar dat sy ’n liedjie hoor? Indien wel, is dit ver weg. Sy probeer vasstel waarvandaan die klank kom.

      Siembamba, mama se kindjie, Siembamba, mama se kindjie … Draai sy nek om, gooi hom in die sloot. Trap op sy kop, dan is hy dood …

      Dit word herhaal, en nog ’n keer, nou duideliker. Kompleet asof ’n CD op repeat is.

      Miskien is haar brein aangetas?

      Die wysie, ál malende iewers in die omtrek en in haar kop, knaag nou aan haar senuwees. Sy hou nie eens van die liedjie nie, want sy het nog altyd gemeen dit is onheilspellend, wreed. Dit hou tog verband óf met ’n kind wat vermoor word, óf met ’n slang waarteen ’n moeder haar kind moet beskerm. En dit is sekerlik die laaste ding wat sy sou kies om ’n baba mee aan die slaap te sus.

      Deirdre kan nog steeds nie agterkom waarvandaan die musiek kom nie, al het haar oë min of meer aan die donker gewoond geraak. Haar skouer brand en sy probeer hard om op haar rug te rol sodat sy die sensasie kan verlig. Sy kan nog nie.

      Sy is te ongeduldig, haastig om die gebruik van haar ledemate te herwin. Sy moet hier uitkom! Nou! Maar nee, sy sal moet wag.

      As sy nie perspektief behou nie, gaan sy mal word. Miskien is dit beter om haar te oriënteer, eers te probeer sin maak uit die omstandighede, op een ding op ’n slag te fokus.

      Siembamba, mama se kindjie …

      Skaduwees is aan die beweeg, en sy besef dit is omdat daar nou ’n dowwe ligstreep op die vloer val: ’n lig is aan die ander kant van ’n deur aangeskakel. Voetstappe kom nader. Sleutels rinkel en die slot knars oop.

      Die lig is byna oorweldigend, die groot figuur gitswart daarteen afgeëts. Instinktief, soos ’n verskrikte dier, wil Deirdre dieper in die donker terugskuif sodat hy haar nie kan sien nie, maar sy mag nie. Sy moenie wys sy kán beweeg nie.

      “A, jy het bygekom.”

      Die stem is gedemp. Dit klink asof dit vanuit ’n diep gat kom.

      Toe skyn ’n kleiner, nog skerper lig in haar oë en verblind haar sodat sy glad nie die man kan sien wat bo haar uittoring nie. Dit moet ’n flitslig wees, want hy skakel dit aan en af. Haar hoofpyn raak net nog erger en haar oë steek soos naalde. Sy wil om hulp roep, maar al wat uitkom, is ’n gemompel agter wat sy dink kleefband moet wees.

      Siembamba …

      Die hooflig word aangeklik en Deirdre kan nie anders as om haar oë teen dié nuwe helderheid toe te knyp nie.

      “Maak oop jou oë, Mamma. Pappa is hier.”

      Haar liggaam begin ruk en sy voel hoe trane deur haar ooglede beur. Sy is bang. So verskriklik bang. Te bang om hom in die oë te kyk.

      “Ek sê: maak oop jou oë.”

      Toe sy aan die ken gepluk word, gehoorsaam sy.

      Wat sy sien, is vir ’n oomblik onbegryplik. Absurd.

      Die spierwit duiwelsgesig het hoë wangbene, sterk gelaatstrekke. Dik swart wenkbroue, ’n gekrulde snor en ’n dun bokbaardjie rond dit netjies af. En dan is daar die breë glimlag. Grieselig en diabolies. Oor sy hare is ’n sykous getrek en die masker keer dat sy kan sien of dit oor sy gesig ook strek.

      Dit is ’n V for Vendetta-masker. Soos die een wat die internetwaghond Anonymous gebruik.

      Die man se jeans span styf oor sy bobene. ’n Uitgewaste T-hemp waarop ’n woord in hoofletters gedruk is, hang los oor sy bolyf. Deirdre kan nie mooi uitmaak wat die woord is nie, dit kan ’n handelsmerk of slagspreuk wees. Sy seilskoene is kraaknuut. Dit lyk asof hy dit vir die eerste keer aanhet.

      Hy sak op sy hurke en blaas liggies op haar wang deur die mondkeep in die masker. Sy ril vir die sweetreuk wat steeds om hom hang.

      INVINCIBLE

      Dit is wat op die T-hemp staan. Sy sien dit nou duidelik, hou haar blik daarop gerig. Die kleur het al uitgegaan, verskilferde letters wat haar herinner aan ou graffiti.

      Sy draai haar kop van sy vrank asem weg.

      Hulle

Скачать книгу