Skadukant. Rika Cloete

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skadukant - Rika Cloete страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Skadukant - Rika Cloete

Скачать книгу

vriendin. Ek het nie bedoel om jou trui te verwoes nie,” sê sy en neem dit dan.

      “Ag, te hel met die trui, man! Ek het baie.” Tertia glimlag, gaan sit weer en vervolg op ’n ernstiger noot: “Jy sal vir Liam moet sê, Deirdre. Anders gaan hierdie ding jou mal maak. Hy het die reg om te weet. Al het hy nie die verdomde reg om te lééf nie, die lae luis. Miskien help dit om dinge tussen julle beter te maak.”

      “Onder geen omstandighede gaan hierdie kind gebruik word om ons huwelik te probeer red nie!” sê Deirdre beslis. “Ons liefde vir mekaar behoort die gom te wees wat ons bymekaarhou – nie ’n kind nie. Ek sal Liam nooit terugvat ter wille van ’n baba nie.”

      “Dan is jy baie naïef. Liefde is ’n vlietende ding. Tussen getroudes raak dit vinnig ’n gewoonte, daarna erg afgesaag totdat dit uiteindelik afsterf. As jy gelukkig is, sit dit om in kameraadskap. Dink tog aan jou baba, Deirdre. Wil jy regtig hê hy of sy moet sonder ’n pa grootword? En het jy enige idee hoeveel dit kos om deesdae ’n kind te onderhou? Dis nie ’n grap nie, hoor. Alleen gaan jy dit nie maak nie, dit kan ek jou belowe. Kuns het nog niemand ryk gemaak nie en prokurowers rol in die geld.”

      “Dis Liam wat die affair gehad het, nie ek nie,” antwoord Deirdre heftig.

      “Ja, maar as hy van die kind weet – selfs al werk dit nie uit tussen julle nie – sal hy onderhoud moet betaal. Baie lank. Daar kan so maklik iets verkeerd loop, en jy is nie die jongste van moeders nie. Dit kan gevaarlik wees vir jou en die baba. Moenie dat jou trots in die pad staan van ’n gemakliker lewe nie. Jy is dit aan jouself en aan jou kind verskuldig. En regtig, jy moet nooit te skaam wees om geld van ’n man te aanvaar nie. Hulle maak ons lewens hel genoeg.”

      Tertia praat sonder twyfel uit ondervinding. Toe Deirdre die eerste keer op universiteit vir Herman ontmoet het, kon sy nie glo dat haar vriendin werklik in hom belangstel nie. Hy was heelwat ouer en het ’n reputasie gehad as rokjagter. Maar toe hoor sy hy is ’n navorser in ruimte-ingenieurswese en dat die familie ’n landgoed in die Jonkershoekvallei besit, en alles het vir haar sin gemaak.

      As Herman hom dus so nou en dan aan ’n jonger blaartjie vergryp, het Tertia klaarblyklik nie ’n probleem daarmee om een oog toe te knyp nie; die res van die bates vergoed daarvoor. Maar skei is taboe. Dis gekompliseerd en dit vreet onnodig fondse op wat op ander, beter dinge uitgegee kan word. Komplikasies en ’n tekort aan geld is twee goed waarvoor Tertia nie tyd het nie.

      Deirdre sug. “Ek hoor wat jy sê, Tertia. En ek weet jy is reg. Maar dit is nou nog te rou in my om rasioneel daaroor te dink. Ek verwag ’n kind, verdomp. Ek is heeltemal uit my diepte.”

      “Juis daarom moet jy na my luister. Gaan praat met ’n prokureur. Hoor wat jou te doen staan en wat jou regte en opsies is. Voordat Liam vir ’n tweede keer die mat onder jou uitruk. Hy ken die wet, jy nie. Jy moet na jouself kyk. Na jou en die baba.

      “En daarvan gepraat. Om so alleen in hierdie agtertangse plek te sit en krepeer, is nie die beste opsie nie. Veral nie nou met die moord wat onder julle neuse gepleeg is nie. Soos gewoonlik is daar seker ook nog geen vordering gemaak om die sicko vas te trek nie, nè? Die ou deuntjie: ‘niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie’. Nee. Dis gevaarlik, man. Ek is bekommerd oor jou. Kom bly ’n rukkie by ons, toe? Dit sal jou goed doen.”

      “Dankie, dis baie gaaf van jou om aan te bied, maar ek is regtig oukei,” antwoord Deirdre. “My huis is hier, my ginekoloog is hier. Alles wat ek nodig het, is hier. En ek sal sover moontlik uit die moordenaar se pad probeer bly, ek belowe.”

      “Jy moenie grap nie. Dit moet ’n baie twisted nommer wees daai.”

      “Kom ons praat nie nou daaroor nie, asseblief.”

      “Oukei dan. Het jy al gedink aan name?”

      Deirdre glimlag. “Nee, nog nie. Ek moet nog eers gewoond raak aan die idee dat ek ma gaan word.”

      “Hoeveel weke is jy al?”

      “Net so ’n bietjie meer as tien weke.”

      “Tien weke!” Tertia gooi haar hande teatraal in die lug. “Dis meer as twee maande en jy sê niks. Nie vir Liam nie, nie vir my nie. Ek kan dit nie glo nie! Hoekom nie? Hoekom het jy dit so lank stilgehou?”

      “Ek wou eers heeltemal seker maak, want ek het sommer net ’n tuistoets gedoen. Al was dit positief, het ek besluit om eerder bevestiging by my huisdokter te gaan kry. Maar ek was so bang vir die antwoord dat dit my ’n ewigheid geneem het om ’n afspraak te maak. En die situasie tussen my en Liam … Wel, ek wou die nuus hou vir die regte oomblik, maar met die rusies en stiltes – ek het nie kans gesien nie. Toe …”

      Amper praat sy haar mond verby. Sy moet versigtig wees. So hittete of sy het uitgeblaker dat daar nog ’n kind betrokke is. Hanna en Liam s’n.

      “Ja, en toe?” pols Tertia.

      “Toe was dit te laat. Ek is jammer ek het jou nie vroeër vertel nie. Van die affair. Van die baba … Ek was so teleurgesteld. Ek het nooit gedink Liam sou my met ’n ander vrou verkul nie. ’n Hele dekade se getroude lewe in die water gegooi. Wys jou net. Nooit is ’n baie lang tyd. En huwelike is nou maar eenmaal nie perfek nie, selfs al het ek geglo myne sou wees.”

      “Het jy gedink ek sou al jou geheime uitlap, of wat? Vertrou jy my dan nie?” vra Tertia en klink effens suurderig.

      “Dis nie dit nie. Liam moes na regte die eerste een wees wat ek vertel, hy is die pa. En solank as wat ek nie vir hom gesê het nie, het ek nie gevoel dit is reg om enigiemand anders te vertel nie.”

      “Nie eens jou ouers nie?”

      “Jy lyk verniet so verbaas, Tertia. Jy weet ek het nie meer kontak met my aanneemouers nie. Sedert varsity al nie. Ons was nooit na aan mekaar nie, het nie veel van ’n konneksie nie. My lewe gaan hulle nie aan nie.” Deirdre kyk af op haar skoene, bestudeer elke voutjie en merkie in die sagte leer. “Alles is ’n gemors. Een groot, vet gemors.”

      Tertia bly ’n rukkie stil en maak dan keel skoon.

      “Ag, wat. Ons sal hierdeur ook kom. My ma het altyd gesê daar is geen probleem wat nie opgelos kan word met genoeg plofstof en ’n hengse bak roomys nie. Kom ons gaan kry ’n chocolate sundae. Die vet weet, ek het nou een nodig.”

      “Is ek dan vergewe?” vra Deirdre.

      “Seker maar, jong. Maar net sodat jy weet, vergifnis kom nie verniet nie. Jy gaan betaal vir daai roomys.”

      HOOFSTUK 3

      Twee weke later stap Deirdre haar ginekoloog se ontvangsarea binne.

      Die plek is gerusstellend. Groot, gemaklike seemsleerstoele domineer die vertrek en die rubberplante in koperpotte gee dit die gevoel van ’n voorstedelike sitkamer. ’n Pragtige bos Sint Josefslelies trompetter in ’n kristalvaas op die toonbank tussen ’n klompie lêers. Sy weet al wanneer die telefoon lui, is dit op ’n gedempte toon. Net enkele kort klankies wat nie skril op die oor is nie. Die koue, kliniese omgewing wat sy met dokters assosieer, is hier heeltemal afwesig.

      Nadat sy by die ontvangsdame aangemeld het, gaan sit Deirdre in die naaste stoel. Senuweeagtig stapel sy haar slimfoon, in sy toeklapomhulsel, en haar bos sleutels in ’n hopie op die armleuning. Sy het nie vandag ’n handsak saamgebring nie, want sy het nie weer lus vir die ontvangsdame

Скачать книгу