Die boek van Ester. Wilna Adriaanse
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die boek van Ester - Wilna Adriaanse страница 19
“Wat stel jy voor? Dat ek hulle gaan aanjaag?”
Sy kyk stil voor haar uit na waar lyf op lyf voor die voertuig verbybeweeg. Miskien is hierdie een van die vreemde drome wat sy droom vandat sy in Johannesburg aangekom het.
“Kan ek foto’s neem?”
“Nee.”
“Waarom nie?”
“Waarom wil jy van alles ’n Kodak-oomblik maak? Sit net en neem waar. Dis nie iets wat ’n mens aldag beleef nie.”
Hulle sit nog omtrent tien minute voordat hy stadig wegtrek. Sy moet haarself inhou om nie uit te roep nie toe ’n paar lywe links voor die ligte verby probeer spring. Sy vrees hulle gaan dalk bo-op haar beland. Sy weet nie hoe lank hulle nog gery het nie, maar toe hy weer stop en die enjin afskakel, sug sy hoorbaar. “Wat’s dit hierdie keer? ’n Trop krokodille?”
“Ons is by die huis.”
“Dis nie die kamp nie.”
“Hoeveel keer moet ek vir jou sê ek gaan nie weer vanaand kamp toe nie? Ek dog Ian het jou ook gesê.”
“Hoe verwag jy moet ek daar kom?”
“Ek gaan môreoggend vroeg kamp toe. Jy’s welkom om saam te ry.” Hy klim uit en toe hy om die Jeep stap en die deur vir haar oopmaak, klim sy stadig uit, nie seker wat om te doen nie. Sy kan die Jeep leen, maar sy weet sy sal nie in die nag die kamp kry nie; sy sal dit nie eens in die dag kry nie.
Hy stap voor haar uit en fluit onderlangs een of ander onbekende deuntjie. Hy het ’n flits uit die Jeep se paneelkissie gehaal en sy bly op sy hakke terwyl hulle teen die rotstrappies opklim. Die dek is donker en sy slaak ’n sug van verligting toe hy een van die lanterns opsteek en sy weer rondom haar kan sien.
“Maak jouself tuis. Jy weet waar alles is. Ek gaan gou stort voor ons eet.”
“Ek dink nie Elias het vir jou gekook nie. Hier’s nie kos nie,” roep sy uit die kombuis waar sy ’n botteltjie water in die gasyskassie gaan soek.
“Hy het seker aangeneem jy sal vir ons iets maak om te eet.”
“Dan het hy verkeerd aangeneem.”
“Hoe anders wil jy jou slaapplek vanaand betaal?” Hy stap met ’n handdoek oor sy skouer verby stort toe.
“Ek sal vir jou ’n tjek gee.”
“Ek vat nie tjeks nie, ook nie kaarte nie.”
Sy gaan sit op die rusbank en sak agteroor teen die kussings. Soos sy nou voel, is sy selfs bereid om ’n paar van haar tande te gee om terug by die kamp te wees, of ’n long om terug in Johannesburg te wees.
Maar eerste prys sal wees as sy in haar eie woonstel kan wees. Daarvoor is sy bereid om dalk ’n ledemaat af te staan.
7
Ester moes ingesluimer het, want toe sy wakker skrik, ruik sy uie wat braai. Sy staan dronkerig op en stap nader. Samuel staan voor die tweeplaat-gasstoof, besig om uie in ’n pan te roer.
“Waarom het jy my nie wakker gemaak nie?” Sy neem ’n sluk water uit die botteltjie waarmee sy in haar hand aan die slaap geraak het en vee oor haar gesig.
“Ek hou van stilte.”
“Jy is so ’n schmuck.” Sy lig haarself op die toonbank langs die stoof. Toe hy vir haar ’n botteltjie bier uit die yskas haal, kyk sy net ’n oomblik onseker daarna voordat sy die doppie afdraai en ’n sluk neem.
“Is dit nie gevaarlik om op ’n olifant te ry nie?”
“Dit kan wees, en ek sal dit beslis nie sommer vir enige mens aanbeveel nie.”
“En tog ry jy op hulle.”
“Ons het hom hier grootgemaak nadat sy ma deur wilddiewe doodgeskiet is. Hy ken my.”
“Is hy nie oud genoeg om weer losgelaat te word nie?”
“Ons is reeds besig om daaraan te werk.”
“Waarom red julle nog olifantkalwers as daar reeds ’n oorbevolking is en daar sprake is dat die regering uitdunning gaan goedkeur?”
“Selfs met ’n oorbevolking dun ’n mens nie sommer net voor die voet uit nie. Olifante het ’n ingewikkelde familiestruktuur en dis wreed om dit nie in gedagte te hou wanneer ’n mens met so ’n proses begin nie.”
“Is dit nie genadiger om juis dan ’n wees kalf te los dat hy sterf nie?”
“Hy was ’n sterk kalf en ek glo nie uitdunning is die enigste manier om die probleem op te los nie. Dis die maklike opsie, maar nie noodwendig die beste of die enigste nie.”
“Is dit nog een van jou naïewe drome?”
“Of praktiese benaderings.”
Sy neem ’n sluk bier en bekyk hom aandagtig. “Jy lei ’n vreemde lewe.”
“Nie vreemder as die meeste ander mense nie. Ek staan ook in die oggend op, doen my werk en kom vanaand huis toe.”
“Jou werk behels onder andere om olifante te ry en jou huis is in ’n boom! Die meeste ander mense, of as ek meer akkuraat wil wees, ál die ander mense wat ek ken, lewe nie so nie.”
Ester kyk hoe hy die uie eenkant toe in die pan krap en ’n stuk bloederige, rooibruin vleis in repe begin sny. Die repe word daarna langs die uie gebraai.
“Wat is dit?”
“Rooiboklewer.”
Sy skuif eenkant toe. “Ek eet nie lewer nie.”
“McDonalds behoort nog oop te wees.”
“Miskien moes ek maar by die olifante geslaap het; ek is seker hulle sou vriendeliker gewees het.”
Hy haal twee borde van die rak af en toe hy die tweede kastrol oopmaak, sien sy dis kapokaartappels. Sonder om haar te vra of sy wil saam eet en ondanks die feit dat sy gesê het sy eet nie lewer nie, skep hy twee borde kos in en stap daarmee tafel toe.
“Ek is nie regtig honger nie,” begin sy verskoning maak. “Jy gaan my in die gesig vat as jy nie eens proe nie.”
“Ek sal siek word as ek dit moet eet.” Sy raak-raak met die vurk aan die repe gebraaide lewer en kyk dan hoe hy met oorgawe begin eet, nadat hy gebid het.
“En dan sê jy jou pa het nie bang kinders grootgemaak nie!”
Sy sny ’n stukkie vleis af, skep ’n hoop aartappels bo-op en sit dit in haar mond. ’n Rilling trek deur haar lyf. Sy voel hoe die hap kos dreig om in haar keel vas te steek, maar sy kry eindelik gesluk. Dan neem sy ’n groot sluk bier.
“Ek is seker daar is kos wat jy ook nie eet nie.”
“Nie