Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit страница 22
Met die koue tee het sy by die kamer uitgestap.
“Moeder sal jou help. Alles sal regkom,” het sy gesê. Sy weet self nie hoe nie. Die toekoms is aaklig en duister. Maar Debbie is haar kind en sy het haar nodig. Nog nooit het sy ’n ma se hulp en liefdevolle ondersteuning so nodig gehad nie. Die arme kind. Sy moes haar deegliker gewaarsku het. Daar is bitterheid en ook opstand in haar. Hoe kan dit die wil van God wees dat dié beproewing hulle moet tref? Wat het hulle dan gesondig om so gestraf te word? God is ’n God van liefde. Kan Hy dan behae daarin skep om die groen koring op die land te vernietig? Maar Hy is die God van wysheid ook en in sy wysheid sal Hy vir hulle die pad wys wat hulle moet volg.
Pieter het die aand gebid vir hulle dogter wat so diep gesondig het en God gesmeek om haar genadig te wees en haar haar groot sonde te vergewe.
Sy het later alleen voor haar dogter se bed gekniel. Debbie het uiteindelik geslaap, die spore van haar trane nog op haar wange. Jonk en weerloos het sy daar gelê en sy het nie soos ’n sondares gelyk nie.
“Help haar, Here,” het sy haar Hemelse Vader gesmeek. “Help ons om haar te help.”
Hoofstuk 10
Hoofstuk 10
Paul was lamgeslaan deur Debbie se brief.
Die onrus en vrees wat al weke lank maar nie heeltemal wou wyk nie, is nou ’n nare werklikheid. Eers was hy met elke brief van Debbie die ergste te wagte, maar so langsamerhand het hy gerus geword en het hy verlig gevoel omdat hy hom daarvan weerhou het om sy pa in sy vertroue te neem toe hy so dikwels by die strand op die punt was om dit te doen. Stilletjies het hy selfs al vir homself begin lag kry as hy dink hoe benoud hy was, hoe oorhaastig om Debbie te beskerm terwyl dit nie eens nodig was nie.
En nou hierdie verpletterende nuus.
Wat word nou van hom en Debbie? Hy weet nie, hy weet net hy moet Debbie help. Maar hoe? Hy moet dadelik na haar toe gaan. Sy sou nie die brief geskryf het as sy hom nie baie nodig het nie. Arme Debbie! Hoe swaar moes dit nie die hele tyd vir haar gewees het nie. En hy? Hy het homself wysgemaak dat alles goed gaan. Waarom het hy nie lankal met sy pa gepraat nie? Dan sou dit nie nou so swaar gewees het nie. Hy moet na Debbie toe gaan, maar hy moet eers met sy pa praat. Hy sal na sy pa toe gaan en alles teenoor hom bieg, hoewel dit die moeilikste ding sal wees wat hy nog ooit in sy lewe gedoen het of ooit weer sal moet doen. Daar is geen ander uitweg nie. En sy pa sal hulle help.
Hy het dadelik na sy pa se spreekkamer toe gegaan met die vaste voorneme om dit onmiddellik agter die rug te kry. Maar die dokter was nie daar nie en daar het reeds ’n hele paar pasiënte vir hom gewag. En toe het sy moed hom begewe. Dit sal beter wees as hy vir die regte geleentheid wag.
Dokter Hugo was baie besig en daardie eerste dag en die volgende dag het verbygegaan sonder dat Paul met hom gepraat het. Twee of drie maal kon hy miskien gepraat het, maar die eerste aand is die dokter, nadat hy reeds ’n swaar dag gehad het, uitgeroep en het hy gedaan gelyk toe hy tuis kom. Die volgende aand was daar weer gaste. Altyd was daar maar iets wat voorgeval het, was die geskikte oomblik nie daar vir die vreeslike onthulling wat hy moes maak en wat hy so gevrees het nie. Hy het geweet dis lafhartig. Hy moes vir Debbie skryf ook. Maar wat kon hy skryf voordat hy met sy pa gepraat het? Paul het ellendig gevoel, maar nogtans het hy die oomblik van waarheid uitgestel. En hoe langer hy uitgestel het, hoe erger het dit geword.
Op die derde dag het hy hom voorgeneem dat hy, kom wat wil, nie langer gaan wag nie.
Met middagete het die dokter hom genooi om saam met hom na ’n plaas toe te ry. Dit was sy kans. Dis maar goed dat hy gewag het.
Paul moes die middag nog gaan tennis speel, want hulle sou eers ná vyfuur ry en hy kon nie sy drie tennismaats teleurstel nie. Hy was senuweeagtig en naar en het baie sleg gespeel.
Op pad huis toe het hy by die poskantoor aangegaan om te sien of daar nie weer ’n brief van Debbie was nie. Maar daar was niks. Net ’n brief vir sy pa en twee briewe en ’n paar rekeninge vir Tina. Hy het hulle in sy kleurbaadjie se sak gesteek en huis toe gegaan. Hy wou graag gaan stort voor hulle ry. Daar is ’n naar, hol kol op sy maag, maar hy weet hy moet nou deurdruk. Hy weet sy pa geniet dit net soveel soos hy wanneer hy saamry. Gewoonlik bestuur hy en kan sy pa so ’n bietjie ontspan. Maar vanmiddag sal dit anders wees.
Tuis het Chris Hugo al vir sy seun gewag. Hy het op die groot huis se breë stoep gesit en koffie drink toe Paul daar aankom.
“Ek is jammer. Wag Vader al lank?” vra hy toe hy vinnig die stoeptrap ophardloop.
“Ek het nou net gekom, Paul, en geniet die koffie en die ruskans. Speel Tina nog?”
“Ja, hulle stel was nog aan die gang toe ek daar weg is. Ek sal gou stort, Vader. Ek is binne vyf minute klaar.”
Hy was al halfpad met die gang af na sy kamer toe hy die briewe onthou. Hy sit Tina se briewe op die telefoontafeltjie en stap weer buitentoe om die ander brief vir sy pa te gee. Min weet hy wat die inhoud is.
“’n Brief, Vader. Ek het dit byna vergeet.”
Die dokter se blik rus trots op sy seun. Hy is lank en skraal, maar sterk, en in die kort tennisbroek en wit kleurbaadjie, nog bruingebrand van hulle vakansie, is hy ’n aantreklike seun. Dit was regtig sy heel lekkerste vakansie nóg, veral die dae wat hy en Paul saam op die rotse deurgebring het. Tina was so ’n bietjie ontevrede daaroor, maar pa en seun het elke paar dae maar weer met die visstokke verdwyn na die rotse toe. Paul was ’n goeie maat, ’n seun om op trots te wees. Dis jammer dat Tina hom so bederf. Wat ook al Paul se hart begeer, of nog nie begeer het nie, moet hy kry. Maar Paul is ook al wat sy het. Daar moes nog ’n paar seuns soos Paul gewees het en ’n paar dogters ook. Dit sou vir hulle almal beter gewees het. En wat ’n vreugde sou so ’n huis vol uitbundige seuns en dogters nie gewees het nie! Maar dit kon nie en dit help nie om weer ou spoke op te jaag nie. Hulle is dankbaar vir wat hulle het.
Hoe verskillend is Paul se lewe nie van syne nie. Hy moes hard werk vir alles wat hy in die lewe wou hê en vir Paul kom alles vanself. Kyk maar na die mooi groen motor hier buite. Eers nadat hy drie jaar lank gepraktiseer het, kon hy ’n motor bekostig. Paul is universiteit toe met sy eie motor. Maar dit was Tina se werk, daardie eerste motortjie, nie syne nie.
“Gee hom nou die motor,” het sy gepleit toe Paul Pretoria toe moes gaan. “Laat hom nou die lewe geniet. Waarom moet hy wag tot ons die dag dood is?”
Hy wou nie. Vir hom was dit nie reg dat ’n eerstejaarstudent sy eie motor het nie. Maar soos gewoonlik het Tina gewen. As hy moeg en bekommerd en oorwerk is, kan hy eenvoudig nie nog by die huis Tina se sagte dog gedetermineerde argumente weerstaan nie. Dit was soveel makliker om maar toe te gee, veral waar hy besef dat hy haar in die jare wat verby is maar ’n bietjie verwaarloos het, nie genoeg tyd gehad het vir haar nie. Maar nie ’n nuwe motor nie. Daar het hy sy voet neergesit.
’n Jaar of twee het dit goed gegaan, was die ou motortjie heeltemal voldoende, en hy het self ook ingesien dat Paul en sy maats baie plesier daarvan gehad het. En dit het hom geen kwaad gedoen nie. Maar toe Paul een en twintig word, moes hy ’n nuwe motor kry, en Tina het weer gewen.
Ja, die kinders van vandag het dit maklik, dink die dokter terwyl hy die koppie langs hom op die tafeltjie neersit. Te veel gemak en te min swaarkry. Hy hoop maar die loopbaan wat Paul gekies het, sal hom brei en ’n man van hom maak. Dis ook maar goed dat Paul daardie paar