Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit страница 17
Paul voel hoedat ’n woedebui dreig om hom te oorweldig. So ’n vervelige, bemoeisieke vent! Kan hy nie sy werk doen en hulle in vrede laat gaan nie? Met moeite bedwing hy hom en sê: “Nee, Meneer. Ek het nie gedink dis nodig nie.”
“Die landdros wil dit graag hê. Julle kan dit by die Uniegebou kry, by die Registrateur van Geboortes.”
“U bedoel ek moet teruggaan Pretoria toe?” vra Paul ongelowig.
“Dit sal nodig wees.”
Paul voel hoe sy hande van ontsteltenis bewe. Hy durf nie na Debbie kyk nie. Hy probeer nog een maal. Nog een verdere vernedering.
“Meneer, asseblief. Dis vir ons heeltemal onmoontlik om nou weer terug te gaan Pretoria toe. Juffrou Malan . . . ons . . . gaan vanaand huis toe.”
Hy praat nie verder nie, want hy sien dit help nie.
“Ek is jammer, Meneer, maar as die landdros dit vereis, is daar niks aan te doen nie.”
’n Oomblik staan hulle oorbluf voor hom. Dit het hulle nie verwag nie. Dit sal ook niks help om verder te redekawel nie, dit sal net lyk of hulle iets het om weg te steek. Die landdros is seker binne sy reg om ’n bewys van geboorte te vra, anders sou hy dit nie gedoen het nie. Die versoek is ook nie onredelik nie. Dis net dat hy wat Paul is so vreeslik graag wou regmaak wat hy verbrou het en nou ontneem hulle hom die kans. Hy voel goedkoop en verneder . . . en hy het Debbie ook nog dié verdere vernedering aangedoen.
Dit lyk vir hom of daar in die waterige blou oë begrip vir hulle verleentheid is, of die man weet wat hulle hierheen gebring het. Skielik kan hy dit nie meer hier in die kamertjie uithou nie.
“Dankie, Meneer. Tot siens.”
Hulle is terug in die helder daglig en die son brand warm op hulle. Hulle kyk nie na mekaar nie. Albei voel verneder en goedkoop, ’n vreemde ervaring vir Paul Hugo.
Hy neem Debbie aan die arm. Tussen die haastige menigte op straat kan hulle nie praat nie. By die eerste kafee neem hy haar binne. Hulle gaan sit regoor mekaar en ná ’n rukkie waag sy dit om na Paul te kyk. Hy is bleek en daar tril ’n spiertjie in sy wang. Dis die eerste maal dat Debbie hom so ontsteld, so onseker, sien. Sy vergeet haar eie vernedering en ’n diep, grenslose liefde vir Paul wel in haar op. Sy wil hom troos en paai, vir hom sê dit maak nie saak nie.
Hy neem ’n sigaret, steek dit op en neem ’n paar diep trekke voordat hy na haar kyk. Daar is ’n skewe glimlaggie om sy mond, maar die blou oë lag nie.
“Ek het toe ’n pragtige gemors daarvan gemaak, nè, Debbie?”
“Dis nie jou skuld nie,” sê sy vinnig.
“Dis alles my skuld.” Hy kyk ’n lang oomblik na haar en sê: “Ek is jammer, Debbie. Ek het bedoel om goed te doen.”
Sy steek haar hand oor die tafel na hom toe uit. “Ek weet en ek waardeer dit, Paul. Ek sal dit altyd onthou. Maar dis miskien beter so . . . en ek sal dit as ’n goeie teken vir ons sien. Dat alles goed sal gaan en dat jy eendag as jy klaar is vir my sal kom haal.”
Hy druk haar hand styf in syne vas.
“Ek hoop jy is reg, Debbie. En as jy my nodig het . . .”
“Dit sal goed gaan, ek is seker dit sal goed gaan.”
“Die Vader gee dat jy reg is.” Hy kyk in haar oë, diep en innig. “Ek het jou lief, Debbie, liewer as ooit vantevore. Ek sal gou maak, so gou ek kan, en jou dan kom haal.”
Die kelnerin bring hulle tee en dankbaar drink hulle dit. Debbie kom agter dat Paul ook kalmer word. Maar sy weet dis ’n ondervinding wat nie een van hulle ooit sal vergeet nie.
Toe hulle uitstap, koop hy vir haar ’n tamaai doos sjokolade en ’n entjie verder by ’n juwelier ’n stringetjie fyn, pragtige pêrels. Daarna het hy haar na ’n groot, deftige plek toe geneem waar hulle geëet het en nou kon sy sien dat Paul hom daarop toespits om die oggend se teleurstelling en vernedering te probeer vergeet en vir haar ook daarvan te laat vergeet sodat hulle laaste paar uurtjies saam gelukkig sal wees.
Die middag het hulle uitgery na die Boksburg-meer, maar die weer het vroeg opgesteek en dit het sommer gou begin reën. Hulle is na ’n teekamer toe waar hulle gesit het totdat dit tyd was om weer te gaan eet. Hulle was alleen en tog ook nie alleen nie. Paul het die meeste van die tyd net haar hand vasgehou en hulle kon nie eens veel gesels nie. ’n Rukkie ná hulle klaar geëet het, moes Paul haar trein toe neem. In die motor het hy haar nog vir oulaas teen hom vasgehou, bang om haar te laat gaan. Sy hart was vol liefde en teerheid vir die jong meisie in sy arms en daar was ’n dringende gebed in sy hart dat niks moet gebeur om Debbie te gou te laat grootword nie, dat sy nie te gou moet agterkom dat daar ook pyn en smart, teleurstelling en bitterheid in die wêreld is nie.
Toe hy haar trein toe neem, het dit nog saggies gereën. Hy het vir haar vrugte en boeke gekoop en haar tasse vir haar weggepak, en nog steeds het hy gevoel hy moet iets doen voor sy vertrek. Maar daar was niks meer wat hy kon doen nie. Hulle was ’n klein rukkie alleen in die kompartement en hy het daar vir haar tot siens gesê. Saggies het hy die ooglede, wat swaar was van die trane, gesoen en toe die warm, lieflike mond.
“Ek kom jou haal,” het hy gesê.
“Ek sal wag,” het sy gefluister.
Hulle kyk ’n lang oomblik in mekaar se oë, toe glimlag Paul effens.
“Jy moet grootword. As ek weer met jou trou, sit jy wragtie nie ’n swart hoed op nie.”
Deur haar trane het sy geglimlag . . . en toe het die eerste van haar reisgenote gekom. Saam het sy en Paul op en af op die perron gestap totdat dit tyd geword het vir die trein om te vertrek.
’n Laaste vinnige omhelsing en die trein is die swart reënnag in terwyl Paul alleen op die perron bly staan.
Hoofstuk 8
Hoofstuk 8
Aandrus, Debbie se pa se plasie, grens aan die dorpie Sandspruit en beslaan nagenoeg dertig morg goeie riviergrond. Pieter Malan was jare lank boekhouer by een van Sandspruit se prokureursfirmas, maar die kantoorwerk was vir hom ’n marteling omdat sy hart maar altyd by boerdery gelê het. Om eendag ’n plaas te besit, al was dit ook hoe klein, en sy eie baas te wees, was die groot strewe van sy lewe. Dis om dié rede dat hy dit nooit so ver gebring het om hom by een van sy base te laat inskryf om self prokureur te word nie. Klein soos sy salaris was, het hy en Miem, sy vrou, hier afgeknyp en daar geplooi om gereeld elke maand ’n bedraggie by die “plaasgeld” te voeg. Toe Aandrus op die mark kom, het hy al sy spaargeld getrek, wat hy kortgekom het by sy werkgewers op verband geleen, en sy boerderytjie aan die gang gesit met ’n paar melkkoeie en varke en hoenders. Die eerste jaar het hy op die dorp bly woon en middae, ná sy kantoorwerk klaar was, op die plaas gewerk tot donker toe. Maar dit het selfs vir hom te veel geword. Toe het hy sy dorpshuis verkoop en met sy familie plaas toe getrek en elke dag sy werk in die dorp gaan doen, want hulle kon nie sonder die bykomende inkomste uitkom nie. Selfs so het dit maar swaar gegaan, want daar was geen einde aan die uitgawes op die plaas nie. Maar dinge was darem beter. Miem kon nou bedags ’n oog oor die boerdery hou en weldra, toe die inkomste uit die plaas bestendig geword het, het hy sy werk op die dorp gelos en al sy aandag aan sy boerdery gewy. Hy het hard gewerk,