Ena Murray Keur 1. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 14

Ena Murray Keur 1 - Ena Murray

Скачать книгу

dat dit nodig is nie! Daar skort beslis niks met my eetlus nie, en die kos is heerlik. Maar ek waardeer jou vriendelikheid en besorgdheid, mevrou. Dis ’n rariteit vir ’n oujongkêrel soos ek om ’n slag deur ’n vrou bederf te word!”

      Nina staan op en neem die skinkbord by hom toe hy sy mes en vurk neersit en behaaglik agteroor leun teen die kussings.

      “Kan ek nie nog iets vir jou bring nie?” vra sy besorg.

      “Ek kan regtig nie meer nie. Dit was baie lekker, dankie.”

      Gustaf tree vorentoe.

      “Laat ek die skinkbord vir jou terugdra, mevrou.”

      “Ag, dankie, maar ek sal regkom. Ek sal sommer jul koffie hiernatoe stuur as julle dit so verkies.”

      Hulle knik en sy stap uit. Sandra kyk vraend na die jong man wat ’n oomblik sy gasvrou die gang af agternastaar. Maar toe hy haar blik ontmoet, skud hy net sy kop effens heen en weer en kyk dan na Powell. “Hoe voel jy nou?”

      “Heeltemal goed, dankie. Ek sê mos daar skort niks met my nie. Ek het dit ook vir die dokter gesê, maar hy is ’n pynlik versigtige en deeglike mens.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Hemel, soos hy aangegaan het met bloeddruk neem en toetse en dies meer, sou ’n mens sweer ek het iets vreesliks onder lede,” lag hy.

      Gustaf glimlag ook.

      “Ja, maar dis beter so. Laat hy maar liewer oorversigtig wees as wat hy nalatig is. Ek hou van die man.”

      “Wat het hy gesê is die fout, meneer Powell?”

      “Blykbaar ’n bietjie onreëlmatigheid in die bloeddruk. Maar hy sê dis niks ernstigs nie. Ek moet net die eerste paar dae ’n bietjie versigtig wees, nie so baie rondloop en so aan nie. Hy het pille hier gelos.”

      Dickens lyk gerusgestel, maar nog nie heeltemal oor sy kommer nie.

      “Dan moet jy doen wat die man sê, John. As jy moedswillig gaan wees, gaan ons dadelik huis toe,” dreig hy en Gustaf laat vinnig hoor terwyl Sandra hom tersluiks aankyk.

      “Ag, dit sal seker nie nodig wees nie. Dokter Johnson sê mos dis maar ’n kleinigheid. A, hier is ons koffie.”

      Hierdie keer is dit ’n huishulp wat die koffie inbring en Gustaf neem die skinkbord by haar.

      Ná die koffie gaan almal ’n bietjie rus. Sandra wil net haar kamergordyne toetrek, want sy voel vaak ná die byna slapelose nag, toe sy stip in die rigting van die voetpaadjie kyk waarvan ’n gedeelte sigbaar is uit haar kamervenster. Dan herken sy die meisie wat aangestap kom. Toe eers besef sy dat sy nie vir Dianne aan eettafel opgemerk het nie, en frons skerper. Hoekom sou doktor Basson se sekretaresse op die hitte van die middag rondstap? Of het sy en Phil Andrews weer ’n geheime ontmoeting gehad en was dit die rede dat hy skaars geëet het en toe ewe haastig die eettafel verlaat het?

      Sandra skud haar kop en gaan lê op haar bed. Dianne stuur op ’n afgrond af. Sy wens sy kon die meisie beter leer ken sodat sy die vrymoedigheid kan hê om reguit met haar te praat en haar te waarsku. Sy is ’n pragtige meisie en behoort genoeg belangstelling van die teenoorgestelde geslag te kry sonder om ’n ander vrou se man te moet steel. Maar Dianne bly ’n vreemdeling. Jy hoor haar byna nooit praat nie en sy maak haar so gou moontlik uit die voete. As Dianne maar net kan weet met watter bullebak sy deurmekaar is, dink sy ontstoke. Maar dan oorval die slaap haar en toe Dianne minute later haar kamerdeur agter haar toedruk en weer snikkend op haar bed neerval, hoor Sandra dit nie.

      Maar iemand anders het Dianne ook sien terugkeer. Sy sien ook hoe ’n man, haar man, ’n rukkie later uit dieselfde rigting aangestap kom, en binne-in Nina Andrews lê die hartseer en haat langs mekaar. Hoe kan Phil dit aan haar doen? Hy is die enigste mens op aarde wat kan verstaan wat sy deurmaak, hoe nodig sy hom werklik het. En nou het hy sy rug op haar gekeer . . . Sy het Dianne se blonde hare in die sonlig sien skitter, die soepelheid van die slanke, jong ledemate beskou, die aanloklike vroulike rondings wat deur die ligte somerrokkie afgeëts is. En toe het haar blik gesak en lank op haar eie afgetakelde liggaam gerus. Durf sy Phil kwalik neem? As sy ook soos Dianne kan lyk, ook weer mooi en aanloklik en begeerlik . . .

      Toe Sandra later weer wakker word, tref sy Gustaf in die sitkamer aan.

      “Ek wou jou nou net kom wakker maak het. Ek het amper gedink jy gaan die hele middag slaap,” sê hy glimlaggend en kyk haar netjiese gestaltetjie goedkeurend aan. Oulike meisiekind. Jammer dat sy gedagtes op hierdie tydstip so vol probleme moet wees, anders . . .

      “Ek voel heerlik uitgerus. Waar is die koffie en die ander mense?”

      “Daar op die tafel. Kry gerus vir jou koffie. Die huishulp het gesê Nina Andrews voel nie goed nie. Sy lê weer. Basson is terug na sy werk en Dickens is by Powell in die kamer. Dianne Bougard, neem ek aan, is seker in die rondawel aan die werk.”

      Sandra kyk hom fronsend oor die koffiekan aan.

      “Jy sê Nina Andrews lê weer? Maar sy het dan met middagete so goed gelyk.”

      Gustaf trek sy skouers op.

      “Wel, sy lê weer. Miskien moet jy net daar inloer en hoor hoe dit gaan.”

      “Ek kan gerus. Ek drink net gou my koffie.”

      “Goed. En dan gaan maak jy jou reg. Ek voel vanaand lus vir ’n bietjie ontspanning. Sal ons gaan dans in die Sheppard? Dis glo ’n uitstekende hotel.”

      Sandra se oë blink opgewonde.

      “Heerlik! Maar gaan ons so vroeg?”

      “Ja. Ons gaan eet sommer ook daar. Onthou om vir ons gasvrou te sê ons sal nie hier wees nie.” Hy glimlag vir haar opgewonde gesiggie en sê sag: “Jy is mos darem met vakansie, maar tot dusver het jy maar min ontspanning gehad.”

      “Dit maak nie saak nie.” En sy bedoel dit. Hoewel sy haar vakansie vir haar heeltemal anders voorgestel het, weet sy dat sy nie werklik omgee dat dit deur al die vreemde dinge bederf word nie. Want as al hierdie dinge nie gebeur het nie, sou Gustaf Lenard nie hier gewees het nie en sou sy hom nooit leer ken het nie.

      Sy klop liggies aan Nina se slaapkamerdeur en stap binne. Sy tref haar op die bed aan en kan die skok nie heeltemal uit haar oë hou nie. Nina Andrews lyk verskriklik. Sy kan byna nie glo dat dit dieselfde mens van twee, drie uur gelede is nie. Louter lyding is diep op die fyn gesiggie gegraveer en die oë wat na haar opkyk, het ’n smeking in soos dié van ’n stom dier. Dis of ’n hand Sandra se hart vasvat en dit pynlik druk.

      “Mevrou . . . Nina, wat is dit? Kan ek nie help nie, iets doen?”

      Die kop word skaars merkbaar geskud en haar stem is ’n fluistering toe sy met moeite antwoord: “Niks . . . dankie. Dit sal weer oorgaan. Net ’n bietjie . . . rus.”

      “Maar kan ek nie vir jou iets aangee nie? Het jy pille of ’n inspuiting geneem, of wat jy ook al gebruik?” wil Sandra nog hewig ontsteld weet.

      “Ek het alles . . . dankie. Nie nodig om ontsteld te wees nie. Sal weer . . . regkom.”

      “Maar kan ek nie jou dokter laat kom nie?”

      Toe

Скачать книгу