Ena Murray Keur 1. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 18
Sy draai om. Niks op hierdie aarde, nie eens haar jammerte vir en haar bekommernis oor Nina Andrews wat in so ’n ongelyke stryd met die lewe en dood gewikkel is, sal haar beweeg om dieper in die ruïnes na haar te gaan soek nie. Met ’n ruggraat wat hol trek van spanning, gee sy vinnig pad en toe sy die ruïnes agter haar het, roep sy beangs na Gustaf. Sy is byna in trane toe hy skielik uit die donkerte voor haar opduik. Sonder voorbehoud gooi sy haar arms om sy nek.
“Wat is dit? Sandra, wat is dit?” vra hy bekommerd terwyl sy arms beskermend om haar gaan.
Sy veg om haar selfbeheer terug te kry, maar hy kan die bewing van haar tenger gestalte teen syne voel. Sy byt hard op haar onderlip. “Jy gaan my uitlag, maar Gustaf, hierdie plek . . . Dit gee my koue rillings. Dit lewe! Dit voel of dit lewe!” fluister sy verleë. Hy sit sy hand vertroostend teen haar agterkop en druk haar gesig teen sy skouer vas. Maar bokant haar kop staar sy oë stip en ernstig na die ruïnes en daar is geen glimlag om sy lippe nie. Hy weet wat sy bedoel. Hy voel dit ook aan. Ook vir hom voel dit asof daar diep op ’n verskuilde plek ’n bose ou hart klop.
“Kom ons gaan terug. Dis in elk geval te donker in die ruïnes. Ons sal teen haar verbyloop en haar nie sien nie. Miskien het die ander iets uitgerig.”
Met sy arm beskermend om haar stap hulle terug. Eers toe die helder voordeurlig van die vakansieplaas die onmiddellike omgewing verlig, begin Sandra ontspan. Streep-streep kom die ander twee ook aan, maar almal skud die kop. Niks is gevind nie. Hulle staan nog so en beraadslaag wat hulle nou moet doen, toe ’n motor inswaai en nader kom. Sekondes later klim Phil Andrews uit en stap nader met verbasing op sy gesig. Daar is geen spoor van Dianne Bougard nie.
“Skort iets?” vra hy kalm, en daar is net so ’n effense sleep in sy stem. Phil Andrews het beslis ’n hele paar drankies agter die blad, maar hy is nog heeltemal in beheer van homself.
Gustaf en die ander kyk hom speurend aan. As hy iets te doen het met sy vrou se verdwyning, is sy toneelspel onverbeterlik.
“Ja,” antwoord Gustaf. “Hier was mense wat kamers vir die nag wou gehad het, maar ons kon jou . . . en mevrou Andrews nêrens opspoor nie. Hulle is toe maar na die naaste hotel.”
Phil Andrews trek sy skouers ongeërg op en laat doodluiters hoor terwyl hy begin aanstap voordeur toe: “In daardie geval is dit tot daarnatoe. Goeienag.”
“Meneer Andrews!” Gustaf se stem klink so bevelend dat die man verplig is om weer tot stilstand te kom.
“Ja.”
“Het jy gehoor wat ek gesê het? Mevrou – jou vrou – is weg. Ons kan haar nêrens opspoor nie. En toe ons haar laas gesien het, was sy ook nog baie siek.”
Maar Phil Andrews se kalmte – en ongeërgdheid – is onversteurbaar. “Ek het julle gehoor, meneer Lenard. Maar julle hoef julle nie oor my vrou te bekommer nie. Sy gaan stap dikwels wanneer sy . . . e . . . erg pyn verduur. Ek is al so gewoond daaraan dat ek my nie meer daaroor bekommer nie.”
Hy wil weer omdraai, maar Sandra se stem keer hom.
“Maar, meneer, sy was uiters siek, in ’n beswyming ’n paar uur gelede. Sy kon iets oorgekom het!” protesteer die jong meisie ontsteld, maar weer skud hy sy kop.
“Juffrou, ek sal jou wed dat sy oor ’n paar minute heeltemal veilig hier aangestap sal kom. Sy ken die wêreld hier soos die palm van haar hand en sy het nog nooit iets oorgekom nie. Hoekom sal sy vannag nou juis iets oorkom?”
“Omdat sy siek is!” kap Sandra woedend terug. O, aan hierdie man sal sy haar nog te buite gaan . . . die ongevoelige bees!
Die eerste keer lyk dit asof Phil Andrews hom wil vererg.
“En ek het jou reeds gesê dis ’n gewoonte van my vrou om te gaan stap wanneer sy siek is! Dis of die oefening help – dit draaglik maak, sê sy. Julle is begaan oor niks nie.”
Dis Basson se stem wat skielik vererg opklink.
“Maar my sekretaresse is ook weg, meneer Andrews. Ek kan haar ook nêrens kry nie.”
Vier paar speurende oë hou intens elke trek op sy gesig dop, maar hy kyk die argeoloog vas in die oë terug.
“Dit het niks met my te doen nie, doktor. Dis nie my werk om jou sekretaresse op te pas nie. Dit is my werk om my vrou op te pas.”
Voordat iemand nog iets kan sê, draai hy om en stap beslis weg.
Hulle kyk mekaar hulpeloos onder die elektriese lig aan. “Wel, ek weet nie wat julle gaan maak nie, maar ek sal moet teruggaan,” laat Johnson ná ’n swanger stilte hoor. “Dit begin laat word en ek moet nog terug Masvingo toe. Jy sal my eers moet terugneem hotel toe, Lenard, dat ek my motor kan kry.”
“Ja, goed. Ons kan maar gaan.”
“Wat moet ons doen?” wil Sandra weet.
“Daar is niks wat julle kan doen nie. Gaan slaap. Ons sal maar môreoggend kyk of meneer Andrews reg was.”
“En wat van my sekretaresse?” wil Basson bekommerd weet.
“Sy is veilig. Sy en ons vriend het vanaand ’n afspraak gehad. Hy het haar seker net hier anderkant afgelaai, want hy kan tog nie oop en bloot met haar hier aankom nie. Sy sal seker nou-nou haar verskyning maak. Oor haar is ek nie bekommerd nie, maar wat het van Nina Andrews geword? As sy werklik net gaan stap het, soos haar man sê, moes een van ons haar tog raakgesien het, of sy moes ons hoor roep het.”
Hy draai om. “Kom, dokter Johnson, dat ek jou terugneem.”
Hulle keer terug na hul kamers, maar hoewel doktor Basson hom uittrek en die lig afskakel, lê hy nog lank met oop oë in die donker en staar voordat hy insluimer. In Sandra se kamer is daar egter geen teken van slaap nie. Sy het haar nie eens uitgetrek nie. Dis of sy onrustig voel en sy besluit om eers te wag totdat Gustaf terug is. Sy sal tog in elk geval nie slaap voordat sy nie weet dat Gustaf in die nabyheid is nie. En dan hou haar bekommernis oor Nina haar ook wakker.
Sy skud weer haar kop. Dit bly vir haar menslikerwys onmoontlik dat Nina, in die toestand waarin sy was, kon opstaan en gaan stap. Sy kan dit nie glo nie! Daardie vrou het nie krag in haar liggaam gehad om ’n enkele tree te stap nie. En nou wil die bullebak van ’n man van haar beweer, en verwag op die koop toe dat hulle dit soos soetkoek moet sluk, dat sy enige oomblik ewe kalm hier aangestap sal kom! Van al die snert . . .
Sandra frons. Miskien is dit ’n goeie idee om, terwyl sy nou op Gustaf wag, buite te gaan sit en die wêreld ’n bietjie dop te hou. Dalk kom Nina hier aangestap. Sy sal dit graag wil sien.
Sy skakel haar lig af en sluip saggies die gang af, terug na die voordeur. Iemand, seker Phil Andrews, het die buitelig ook afgeskakel. Die hele plek is in duisternis gehul. Versigtig maak sy die voordeur oop, glip met die trap af en pyl op ’n tuinbankie af wat sy weet daar naby onder die boom staan. Van daar af sal sy die voordeur goed kan dophou. Enigiemand wat daar ingaan, sal sy moet raaksien.
Sy het omtrent tien minute gesit en wag – op wat weet sy self nie – toe haar moeite beloon word. ’n Gedempte voetval op die gruispaadjie laat haar vinnig na links kyk in die rigting van die voetpad na die ruïnes. In die dowwe lig van die maan kan sy Dianne Bougard se skraal gestalte duidelik