Ena Murray Keur 1. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 19
Die meisie moet by die boom verby waaronder Sandra in die donker skaduwees skuil, en laasgenoemde staan versigtig van die bankie af op en beweeg agter die dik stam van die bloekom in. Dianne se oë is ook nou gewoond aan die donker en sy kan miskien die gestalte raaksien wat hier digby haar skuil. Sandra se geluk ook, want net toe die meisie by die boom verbykom, hoor hulle duidelik hoe iemand ’n deur oop- en toemaak. ’n Man het by die voordeur uitgekom.
Sandra druk haar lyf so plat moontlik teen die stam en hou haar asem op, want Dianne, toe sy die geluid gehoor het, het vinnig onder die boom in die donkerte skuiling gesoek en Sandra kan haar onreëlmatige asemhaling sommer hier digby haar hoor. Sandra voel die senuwees op die krop van haar maag saamtrek en sy verwens haar dat sy nie liewer in haar kamer gebly en gaan slaap het soos Gustaf beveel het nie.
As Dianne of Phil Andrews – want dit is hy wat nou die paadjie afkom – haar hier moet betrap, weet sy nie wat sy as verduideliking sal aanvoer nie. Hulle sal albei weet dat sy daarop uit was om hulle te bespied, en veral Phil het al duidelik genoeg getoon dat hy moeg is vir haar bemoeisiekheid.
Ten spyte daarvan dat die nag warm is, voel Sandra koue sweet op haar handpalms uitslaan. As Phil op pad is na ’n geheime ontmoeting met Dianne onder die boom, gaan hulle beslis op haar afkom. Dianne staan en wag hom in, soos dit vir haar voorkom, skaars ’n tree van haar af, net aan die ander kant van die boomstam.
Sandra se bene wil amper onder haar swik van skone verligting toe die swaar voetstappe verbygaan en aanstap met die paadjie wat na die ruïnes lei. Hier kort agter hoor sy Dianne ook ’n sagte suggie slaak. Wat die rede ook al mag wees, Dianne wil haar teenwoordigheid onder die boom blykbaar ook geheim hou. Die swaar voetstappe van Phil Andrews raak gedemp en dan hoor Sandra dat Dianne ook weer versigtig begin beweeg. Met elke senuwee gespan, loer sy versigtig om die stam en sien hoe Dianne in dieselfde rigting beweeg as dié waarin Phil reeds verdwyn het.
Sandra se blik volg haar ’n rukkie terwyl sy besluiteloos agter die boomstam bly staan. Sal sy haar agtervolg? Dianne se optrede is vir haar ’n raaisel. Haar hele houding getuig dat sy besig is om Phil te agtervolg, maar dat sy nie ontdek wil word nie. Met ander woorde, sy spioeneer op Phil. En hulle is op pad na die ruïnes . . .
Sandra byt haar onderlip vas en kyk verlangend na die pad, maar daar is nog geen teken van Gustaf se motor nie. As hy net wil kom! Sy het nie lus om Dianne en Phil te agtervolg nie. As hulle in enige ander rigting gegaan het, sou sy nie ’n oomblik geaarsel het nie, maar sedert vannag het sy ’n onverklaarbare vrees vir die ruïnes ontwikkel – veral in die nag wil sy nie weer naby die plek kom nie.
Maar dan kom sy tog in beweging, en hoewel teësinnig, agtervolg sy Dianne versigtig op ’n afstand. Sy moet vasstel wat aangaan. Hoekom stap Phil Andrews hierdie tyd van die nag – haar polshorlosie toon dat dit middernag is – na die ruïnes? En hoekom agtervolg Dianne hom op ’n afstand? Is daar geheime in die lewe van die man wat sy liefhet wat sy self ook probeer ontrafel?
Met ’n laaste terugwaartse blik na die pad waarlangs Gustaf moet kom, verdwyn Sandra in die digte plantegroei om die ruïnes. Versigtig beweeg sy vorentoe. Dis baie donker hier tussen die struikgewasse en onder die bome en sy kan omtrent niks sien nie. Dis eintlik net op instink af en met behulp van ’n takkie wat soms voor haar kraak dat sy weet sy is nog op Dianne se spoor.
Dan is hulle by die ruïnes. Net ’n paar tree voor haar het Dianne tot stilstand gekom, en Sandra wag asemloos. Duidelik sien die twee meisies hoe Phil Andrews oor die oop kol stap en in die donkerte van die ruïnes verdwyn. Dan beweeg Dianne weer vorentoe in dieselfde rigting en nog teësinniger as voorheen sluip Sandra weer agter haar aan.
Toe Sandra die stikdonkerte van die binnekant betree, moet sy met alle mag op haar tande byt om genoeg wilskrag bymekaar te skraap om vorentoe te beweeg. Wat, in hemelsnaam, soek die mense dié tyd van die nag in hierdie plek? Haar bewende vingerpunte beweeg voel-voel teen die ruwe muur.
’n Dowwe geskuifel ’n entjie vorentoe vertel haar dat sy nog op die spoor is. Êrens hier voor haar beweeg Dianne Bougard ook voel-voel vorentoe en Sandra weet dat sy nie die enigste is wat koue sweet op haar voorkop het nie. In die swaar, swart stilte wat drukkend om hulle toevou, kan sy hoor dat die blonde sekretaresse se asemhaling onegalig en rukkerig is.
Hulle is besig om in die rigting van die groot toring te beweeg, al met die geheime wandelgang langs, en vir albei meisies voel dit asof dit tot in die oneindigheid strek.
Skielik, hier voor hulle, klink meteens ’n harde stem op en dit eggo langs die gang af sodat albei meisies in hul spore tot stilstand ruk en net betyds die gil keer wat na hul lippe storm.
“Nina! Is jy al weer hier? Kom huis toe. Die hele wêreld soek na jou. Hulle het agtergekom dat jy weg is en ek moes lelik rondspring met verduidelikings om hulle tevrede te stel. As jy langer so aanhou, gaan jy beslis agterdog wek. Kom dadelik huis toe!”
Phil Andrews se stem klink bars, en ’n ligte skok trek deur Sandra toe ’n vrouestem verbaas antwoord: “Maar hoe het hulle agtergekom dat ek weg is? My kamerdeur was gesluit.”
Sandra sluit haar oë ’n oomblik en skud haar kop. Dit kan nie wees nie – maar dit is Nina Andrews se stem daardie – en sy klink so kalm en normaal as kan kom.
“Maak dit saak? Ek bid jou, Nina, bly weg hier van die ruïnes af! Hoekom moet jy elke keer hierheen kom? Bly weg hier, dan sal dit miskien beter met jou gaan.”
“Ek kan nie. Jy weet ek kan nie. Dis noodsaaklik dat ek hierheen moet kom. Dit lewe . . . Ek is deel van die ruïnes.”
Weer slaan die hoendervel op Sandra se lyf uit. Dis soos twee spookstemme uit ’n duister, ander wêreld wat na haar aangesweef kom. Sou Nina geestelik versteur wees? Is dit moontlik dat hierdie vrou kranksinnig is? Maar andersins tree sy so normaal op. Tog is haar optrede vannag baie vreemd en die wyse waarop sy die laaste sinne uitspreek . . .
“Dis net wanneer dit weer begin dat jy hierheen kom,” klink die beskuldiging in die donkerte op.
“Wie sê dit het weer begin?”
“Moenie my om die bos probeer lei nie, Nina. Teen hierdie tyd moet ek darem al weet wat aangaan . . . en wanneer dit weer aan die gang is. Maar jy sal moet versigtig wees. Daardie onderwysertjie is vir my gans te vol vrae. Sy meisie ook. En ek dink Basson het ook al iets agtergekom. En hierdie middernagtelike rondlopery van jou terwyl jy ’n paar uur gelede in ’n koma was, is genoeg om elke mens se agterdog te wek. Ek is moeg daarvan om jou altyd te beskerm.”
“Jy is geheel en al moeg vir my, Phil, nie waar nie?”
Daar heers ’n oomblik stilte en die vrou se vraag hang soos iets tasbaars in die swaar stilte. Dan klink Phil se stem weer op, maar dis of dit nie meer so seker klink nie.
“Wat . . . wat bedoel jy?”
Dis Nina, die siek, swak, fyn Nina se stem wat skielik sterk en onheilspellend opklink. “Jy weet. Jy het skielik moeg vir my geword sedert . . . Dianne Bougard op die toneel verskyn het.”
Hier kort voor haar in die duister hoor Sandra hoe Dianne haar asem vinnig intrek. Maar hulle bly roerloos staan.
“Jy praat twak.” Maar sy stem klink onoortuigend en dis al vir Sandra asof sy ook nou ’n vae noot van vrees daarin hoor.
“Nee, Phil. Ek praat nie twak nie. Ons weet albei dat dit die waarheid is. Dink jy dan ek is blind? Ek kan sien wat voor my oë aangaan.”