Ena Murray Keur 1. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 15
Stadig lig die swaar ooglede weer en hul oë ontmoet. Op hierdie oomblik is woorde nie nodig nie. Hul oë praat met mekaar, en dis Nina wat eerste die stilte verbreek.
“As dit liewer jy was, Sandra. Jy is . . . dierbaar. Miskien sou ek dit dan kon verduur.”
Sandra se hart bloei vir haar en sy laat haar kop sak.
“Dit sal oorwaai, Nina. Sulke dinge gebeur maar soms, maar meestal gaan dit ook weer verby. Jy moet net moed hou.”
Sy besef dis leë woorde, dat sy maar sommer net praat om iets te sê.
“As die kinders geleef het . . . Miskien sou hy dan ter wille van hulle . . .”
“Het julle kinders gehad?”
“Ja, drie. Al drie het gesterf, het net ’n paar maande oud geword.”
Groot, blink trane biggel oor die bleek, beplooide wange en Sandra moet teen haar eie trane stry. Hierdie vrou se beker is voorwaar galbitter.
“Moenie jou so ontstel nie, Nina. Dit sal weer beter gaan. Doktor Basson sal seker nie meer te lank hier wees nie. Hy is al drie maande hier. Die een of ander tyd moet hy klaarkry. Dan sal sy ook weggaan.”
“Sal sy? Ek wonder.”
Nina huil nou openlik, en Sandra staan vinnig op en stap na die badkamer. Sy gewaar net ’n klein tandeborselglasie, maar sy tap dit vol water. Vlugtig flits haar blik na die rak teen die muur en ’n oomblik kyk sy verbaas na die klompie bottels en potjies room wat daar staan. Dan dring die patos van die toneeltjie tot haar deur en sy sluk hard aan die knop in haar keel. Die arme Nina. Dis natuurlik ’n desperate poging wat sy aanwend om haar gesig te verbeter, die plooie te probeer wegkry, sodat sy teen die jong Dianne kan meeding. Stil draai Sandra om en stap terug na die bed.
“Kom. Drink ’n bietjie water en dan probeer jy ’n rukkie slaap.”
Haar hand bewe effens toe sy die glas nader bring na die bleek lippe en sy stort ’n paar druppels op Nina se hande wat afwerend voor haar gehou word.
“Nee! Ek wil nie . . .”
“Ag, toe kom. Drink net ’n mondjie vol en dan . . .” Sy swyg verskrik en sit die glas hard op die tafeltjie langs die bed neer.
“Nina! Nina! Mevrou Andrews!”
Dan storm sy deur toe. “Gustaf! Gustaf! Gaan roep dadelik vir meneer Andrews. Nina is in ’n koma!”
Maar dis nie nodig om te gaan roep nie. Hy moet digby gewees het en Sandra se beangste geroep gehoor het, want hy storm by die voordeur in en bars verby Sandra die kamer binne. Sandra en Gustaf is ook dadelik by en eersgenoemde verduidelik vinnig: “Ek wou haar nog ’n bietjie water gee en toe . . . toe raak sy sommer soos sy nou is.” Verslae staar sy op die vrou af. Nina is beslis in ’n beswyming, en sy babbel aanmekaar. Maar dis die vreemdste geluide en maak geen sin uit nie. Haar arms en bene lê gekruis en haar liggaam beweeg al na ’n kant toe asof sy dwars oor die bed wil dwing.
Phil Andrews se stem laat Sandra byna skrik.
“Sy raak maar soms so. Dit duur ’n rukkie en gaan dan weer oor. Jy kan maar gaan.”
Sandra kyk hom verbaas aan.
“Maar gaan jy nie ’n dokter inroep nie? Haar toestand lyk vir my baie ernstig.”
“Dis nie nodig nie. ’n Dokter kan niks doen nie. Sy moet net alleen gelaat word. Sy kom altyd weer vanself reg. Gaan nou, asseblief.”
“Maar . . .” Sandra wil nog protesteer, maar hy het haar skielik aan die arm beet en dwing haar die kamer uit.
“In hemelsnaam, loop! Ek sê mos sy sal vanself regkom. Los haar uit!”
Ná hierdie uitbarsting kan hulle niks anders doen as om te gehoorsaam nie, maar dit verg al Sandra se selfbeheersing om die man nie sommer daar en dan aan te val nie. Sy is hewig ontsteld toe Gustaf met sy arm om haar skouers haar by die voordeur uitdwing.
“Gustaf, daardie vrou . . .”
“Suutjies, Sandra. Kom ons gee eers pad hier,” beveel hy kortaf.
En in die kamer kyk Phil Andrews eers ’n oomblik stil op die brabbelende vrou in beswyming af. Dan draai hy om, stap uit, sluit die deur agter hom en steek die sleutel in sy sak. Hy stap weer na buite, terug na sy werk, sy gesig onleesbaar. Daar is beslis geen bekommernis in sy oë nie, maar ’n hardheid, ’n koudheid wat, as Sandra dit moes sien, weer ’n rilling langs haar ruggraat sou afstuur.
Eers toe hulle al ’n hele ent weg is van die vakansieplaas, droog Sandra haar oë af en vra: “Waarheen gaan ons?”
“Na die Sheppard toe.”
“Maar ek is nie aangetrek vir ’n hotel nie!”
“Vergeet daarvan. Nie een van ons twee is nou in die luim vir dans nie. Ons drink maar net iets en eet daar. Ek dink dis tyd dat ons albei ’n bietjie wegkom van Ruined Paradise af. Dit is beslis ’n geruïneerde paradys vir Nina Andrews. Ek wonder darem wat presies daardie vrou makeer. Daar is vir my iets eienaardigs aan haar siektetoestand.” Dan lag hy skeefweg. “Of miskien is my verbeelding maar net op loop, maar ’n mens kan nie help om dingetjies op te merk nie.”
“Wat bedoel jy?”
Hy frons weer.
“Sy is sieklik en swak, só swak dat sy nog nooit die swaar teepot opgetel en self vir haar gaste tee ingeskink het nie. Elke keer het Dianne dit nog gedoen. Maar vanmiddag het sy die swaar belaaide skinkbord vol kos heen en weer na Powell se kamer gedra. En dis ’n swaar skinkbord van embuia, dieselfde waarop die huishulp ons koffie gebring het.”
“En net daarna het sy amper in ’n oogwink weer so verswak dat ek seker is daardie vrou staan op die rand van die graf,” wys Sandra ook uit.
“Tog het haar man geensins ontsteld gelyk toe hy sy vrou in ’n koma aantref nie,” voeg Gustaf by. “Inteendeel. Hy was heel ongeërg en het ons byna onbeskof die kamer uitgejaag.”
Gustaf skud sy kop. “Eienaardige mense, dié Andrews-egpaar.”
Hy swaai voor die hotel in, een van dié wat om die ruïnes vir toeriste gegroepeer is, en laat hoor: “A! Johnson wag seker al op ons.”
“Het julle dan ’n afspraak?”
“Ja. Ons wil die geval Powell bespreek. Ons kon nie te lank by die vakansieplaas praat nie, ingeval iemand ons dophou. Dan sou dit snaaks voorkom. Kom ons stap binne.”
Dokter Johnson wag reeds op hulle in een van die sitkamers. Hulle gaan sit en hy val ook sommer weg nadat Gustaf hom gerusgestel het oor Sandra se teenwoordigheid.
“Die bloeddruk- en hemoglobientoets toon duidelik ’n verlies aan bloed. Powell is beslis nog ’n geval. Wat gaan jy doen?”