Ena Murray Keur 1. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 16

Ena Murray Keur 1 - Ena Murray

Скачать книгу

verward aan.

      “Van wie praat jy?”

      “Van die gees.”

      Sandra blik Gustaf ergerlik aan. Dis nie nou tyd vir grappies nie.

      “Gustaf is sommer verspot. Hy spot nou omdat doktor Basson gesê het die hele aangeleentheid hou vir hom ’n bonatuurlike skynsel in.”

      Johnson kyk die speurder stip aan.

      “En ons briljante kaptein dink dis ’n verspotte gedagte. Ek weet. Ek het al een keer tevore teenoor hom opgemerk dat hier vir my ’n bonatuurlike iets aan die hele saak is, en toe het hy my ook uitgelag.”

      Gustaf Lenard frons skerp.

      “Dokter, ek gee nie om as jy en doktor Basson aan spookstories glo nie, maar moet dit nie van my verwag nie. Ek glo nie aan spoke nie. Laat ons tot die punt kom. Powell moet onder die strengste waarneming gehou word. Dis jou taak. Elke dag moet hy nougeset getoets word. Die pille wat jy hom gegee het . . . Waarvoor is dit?”

      “Dit is maar eintlik net om hom te troos, maar as dit werklik sy bloeddruk is wat ’n bietjie lol, behoort daardie pille dit reg te kry.”

      “Goed. Ek wil ’n volledige verslag hê van elke toets wat jy van nou af op hom uitvoer, asook van sy vordering of verswakking.”

      Johnson frons.

      “Ons gaan daar probleme ondervind, veral by Powell. Hy het my openlik uitgelag omdat ek hom vandag so uitermate goed ondersoek het. Ek het met die verskoning verbygekom dat ’n dokter verplig is om alle moontlikhede te ondersoek. Ek het vir hom gesê ek sal môre weer daar inloer omdat ek na Morgenster moet gaan, maar as ek weer die hele ondersoek van voor af gaan herhaal, en dit terwyl die man uitdruklik verklaar dat hy nie regtig siek voel nie, gaan dit agterdog wek. En watter verskoning gaan ek aanvoer as ek skielik elke dag daar opdaag en elke dag hemoglobien- of ander toetse wil doen, sonder om hom en Dickens agterdogtig te maak? Ek dink nog steeds dit sal beter wees om hulle maar in ons vertroue te neem.”

      “Nee. Nie nou al nie. Net wanneer dit absoluut noodsaaklik is, en dit sal wees wanneer Dickens hom wil wegneem.”

      Sandra kyk Gustaf met groot oë aan.

      “Bedoel jy dat jy daardie man hier gaan hou? Maar besef jy dan nie dat hy gaan sterf as . . .”

      “Dis nog nie ’n uitgemaakte saak daardie nie, meisie. Dit is maar nog net een van ons hipoteses. Ons sal binnekort sien of ons gelyk gehad het daarin. Powell moet so lank moontlik op Ruined Paradise bly. Dis jou taak, Johnson, om my betyds te waarsku as dit lyk asof hy dieselfde paadjie gaan loop as oubaas Brijns.”

      Johnson lyk ontevrede.

      “Dis speel met ’n mens se lewe daardie, Lenard –”

      “Ek neem die verantwoordelikheid op my,” word hy vasberade in die rede geval. “As ons Powell nou in ons vertroue moet neem, sal hy dadelik sy goedjies pak en padgee en ons sal weer net wees waar ons was. As Powell bly, sal ons moontlik iets kan waarneem, ’n vae spoor of leidraad.” Daar is ’n geïrriteerde frons tussen sy wenkbroue. “Ons tas in die donker rond. Daar is geen vastigheid waarop ek kan werk nie, nie werklik nie. Eintlik sit ek nog tot dusver net met ’n spul hipoteses en veronderstellings en ’n klomp los drade wat moontlik niks met mekaar te doen kan hê nie, soos die Andrews-egpaar, byvoorbeeld.”

      “Die Andrews-egpaar!” Johnson lyk verbaas. “Wat bedoel jy?”

      “Net dit: albei is vir my . . . eienaardig, veral die vrou. Ek weet nie eintlik hoe om haar te beskryf nie.”

      Hy skets kortliks die vrou se eienaardige siektetoestand wat miskien ook nie eienaardig is as ’n mens presies kan weet wat sy makeer nie. “Ek sal wat wil gee dat jy haar ondersoek, maar dis natuurlik heeltemal buite die kwessie. Gister was sy swak, soos ’n mens ná ’n lang siekte, onvas op haar voete, en so meer. Vanmiddag het sy skielik wonderlik beter gelyk en skielik daarna het sy só verswak dat sy in ’n koma was toe ons daar weg is.”

      Johnson frons.

      “Dit klink eienaardig, maar tog moontlik. Dit kan wees dat die vrou ook neuroties is, afgesien van die feit dat sy kanker het, soos wat jy sê Basson vertel. ’n Ongeneeslike siektetoestand kan ’n geweldige invloed op die gees van die mens hê, en dit kan wees dat dit eerder geestesmarteling is wat haar toestand so laat verander as die kwaadaardigheid op sigself. Ek kan natuurlik geen diagnose waag sonder om haar deeglik te ondersoek nie. En soos jy gesê het, is dit buite die kwessie. Nina Andrews is ’n private pasiënt en as sy my nie self nader en vra nie, kan ek niks doen nie. Ek het haar seker maar nog net twee keer gesien. Ek was een keer daar, onthou ek, oor ’n huishulp van haar. Die tweede keer was ek op pad na Morgenster en het toe daar aangegaan om iets koels te drink. Albei kere het die vrou vir my nie gesond voorgekom nie.”

      “Van watter Morgenster praat jy?” wil Sandra weet.

      “Dis die sendingstasie ’n entjie anderkant die vakansieplaas.” Hy kyk Gustaf ernstig aan. “Maar dink jy daar is ’n verband tussen Nina Andrews se toestand en die ander gevalle? Op watter wyse?”

      Gustaf skud sy kop en sug.

      “Ek weet nie. Eintlik voel ek dat sy ’n heeltemal aparte en normale geval is wat niks te doen het met die ander ding nie. Maar tog is daar iets wat ek nie kan plaas nie, en ek sal baie graag haar dokter wil opspoor en ’n bietjie met hom gesels. Net om heeltemal seker te maak sy is wat hulle sê sy is: ’n kankergeval en klaar.”

      “Wel, ek neem aan dat as sy ’n dokter het, sal dit een van Masvingo wees. Ek kan navraag doen as jy wil.”

      “Asseblief. Ek sal bly wees. Laat ons eers gaan eet. Daar lui die klokkie.”

      Op pad na die eetkamer stap hulle verby ’n private kroeg en dis Sandra wat net terloops by die oop deur inkyk en dan byna gaan stilstaan van skok.

      “Gustaf! Het jy gesien wie is daar binne?” Toe hy ontkennend knik, laat sy ontstoke hoor: “Dis die heer Phil Andrews in intieme gesprek met Dianne Bougard by ’n tafeltjie in die een hoek.” Haar oë blits. “En dit terwyl sy vrou bewusteloos siek by die huis lê!”

      Gustaf neem haar kalmerend aan die arm en wink vir Johnson.

      “Dit sal te opsigtelik wees as ek nou daar instap. Ons gaan solank eetkamer toe. Stap jy daar in en bestel ’n drankie en kyk hulle goed deur net om seker te maak dit is hulle.”

      Enkele minute later sluit Johnson hom weer by die ander twee aan. Hy knik, sy gesig bekommerd.

      “Dit is hulle. Dit is in elk geval beslis Andrews. Die blonde meisie, neem ek aan, is Basson se sekretaresse. En albei, lyk dit my, het dit al taamlik hoog deur.”

      “Daar is die spyskaart,” laat Sandra hoor, maar haar gedagtes is besig met die twee in die private kroeg.

      Gustaf staan vinnig op terwyl hy die kelnerin met die spyskaart wegwys.

      “Kom.”

      “Waarheen?”

      “Terug. Ons kan nie hierdie geleentheid laat verbygaan nie. Andrews is uit die pad en sal seker nie gou terugkeer nie. Dis nou jou kans om Nina Andrews te ondersoek.”

      “En

Скачать книгу