Ena Murray Keur 1. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 20
“Jou duiwelskind! As jy een haar van Dianne se hoof aanraak . . . Dit sal die einde wees, Nina. Ek waarsku jou ook nou. Laat Dianne iets oorkom en ek sal weet waarheen om met my storie te gaan . . . al kruip ek op my hande en knieë daarheen. Verstaan jy? Jy hou jou vuil duiwelsmag van Dianne af!”
“Dianne is veilig, redelik veilig. Sy is ’n vrou. Maar jy moet my nie te ver dryf nie, Phil. Ek het net tot op ’n sekere punt beheer en dan . . .”
“Dreig jy mý . . . die man wat jare lank deur hel gegaan het om jou ontwil? Dreig jy mý, Nina?”
“Nee, Phil. Ek dreig nie. Ek waarsku net.” Dan, skielik, breek haar stem en sy roep hartstogtelik uit: “Phil! Phil, moenie my in die steek laat nie! Jy is al een . . . al een wat weet, wat my kan beskerm! Moenie my nou verstoot nie! Ek het jou nodig, hóé nodig sal jy nooit weet nie!”
Daar heers ’n oomblik stilte waarin net die rou snikke van die vrou gehoor word. Dan klink Phil Andrews se stem somber op.
“Nee, Nina. Jy het niemand nodig nie. Maar ek is ’n mens, ’n mens van vlees en bloed, en ek het Dianne nodig. Ek kan nie langer so aangaan nie. Jy moet my my vryheid gee. Jy moet my laat gaan, Nina. Dis geen lewe hierdie nie. Ek belowe dat niemand ooit sal weet, ooit van my sal hoor . . .”
“Nee! Nee! Phil . . .” Haar stem is laag en skor en dit klink hol in die leë gang op. “Phil, onthou wat ek eendag vir jou gesê het. Ek sal jou nooit laat gaan nie. Ek, net ek, sal jou besit.”
“Maar jy besit my nie, Nina. Dis juis die ding. En ek kan jou nooit besit nie. Daar is geen normale lewe moontlik nie.”
“Dit kan weer moontlik raak. Ek sal weer jou vrou word.”
“Jy is geen vrou nie, Nina. Jy weet jy praat nou teen jou beterwete. Dinge het te ver gevorder. Jy weet dit tog beter as ek. Dit word al erger, nie waar nie? Beter sal dit nooit weer word nie. Asseblief . . .” Phil Andrews pleit nou openlik. “Laat my gaan! Jy kan alles vat. Die plaas, alles. Ek wil niks hê nie.”
“Nee! Ek sien jou liewer dood.”
Phil antwoord nie hierop nie. Hulle hoor duidelik hoe hy omdraai en teruggestap kom met die wandelgang af. Elke tree is onseker asof hy strompel. Styf druk Sandra haar lyf teen die ruwe klipmuur vas sodat sy voel hoe die kante van die klippe in haar rugspiere inboor. As hy nou in die donker teen haar of Dianne moet stamp . . .
Sy voel hom digby haar verbykom, só naby dat sy selfs sy hortende asemhaling duidelik hoor en dis of sy die storm wat op hierdie oomblik binne-in die man broei met die blote oog kan sien. Dan is hy verby. Sy hoor sy voetstappe wegsterf en dit raak weer stil . . . onheilspellend stil. Hier êrens voor haar en Dianne staan nog iemand en luister na sy wegsterwende gestrompel.
Sandra besef dat nie sy óf Dianne nou kan beweeg sonder om hul teenwoordigheid te verraai nie. Die geringste geluid sal Nina se ore in hierdie grafstilte bereik, en Sandra weet dat sy in geen omstandighede hier deur Nina ontdek wil word nie. Tot ’n paar minute gelede was sy net intens jammer vir hierdie vrou. Maar nou . . . nou is sy skielik bang vir haar, banger as wat sy vir Phil Andrews is.
Dan ruk haar lyf van skok toe Dianne skielik beweeg.
“Nina!”
Sandra beweeg instinktief vorentoe om haar te keer, maar dis reeds te laat. Sy het al in die toring verdwyn.
“Nina! Ek smeek jou, laat Phil gaan!” Haar stem klink histeries en Sandra word yskoud om haar onthalwe. Besef Dianne dan nie dat sy nou uiters dwaas optree nie? Want Sandra voel oortuig dat Nina nie normaal is nie. Vannag het sy tot die besef gekom dat Nina Andrews, die patetiese vroutjie vir wie sy so innig jammer is, beslis nie normaal is nie, dat daar selfs iets boos in haar skuil.
Daar kom geen antwoord nie en Dianne gaan hartstogtelik voort: “As jy Phil nie laat gaan nie, sal ek jou dwing! Hoor jy? Jy is nie normaal nie, in geen opsig nie. Jy is mal, van die duiwel besete! Ek sal sorg dat jy in ’n gestig opgeneem word! Hoor jy?”
“Ek hoor jou, Dianne. Jy weet nie waarvan jy praat nie. Gaan weg hiervandaan en vergeet van Phil . . . voordat dit te laat is, om jou eie onthalwe, maar ook ter wille van Phil. Gaan weg, Dianne.”
“Ek sal weggaan, maar Phil gaan saam met my. Ek gaan hom hier wegvat en jy gaan my nie keer nie. Ek weet nie waarmee jy besig is nie, maar dis die een of ander duiwelse spel wat jy met Phil aan die speel is en ek gaan nie toelaat dat jy hom verder vernietig nie!”
Sandra het intussen versigtig nader beweeg en waag dit om om die hoek te loer. Reg voor haar staan Dianne met haar rug na haar toe en oor haar skouer kan sy ’n vae, wit gestalte in die middel van die toringvloer sien staan. As sy nie geweet het dit is Nina Andrews nie, sou sy maklik kon glo dit is ’n gees wat voor hulle staan. ’n Flou skynsel bo uit die toring verlig die stikdonkerte effens en dan sien sy dit ook, soos Dianne wat ook skielik opkyk – bewegende skaduwees teen die toringmuur.
“Wat . . . wat is dit?”
“Dis my vriende, Dianne. En jy moet gou padgee . . . baie gou.”
“Jou . . . vriende! Wat is dit? Dis dan . . .” Dan beier haar gil die hoë skag van die toring uit die naghemel in, slaan oorverdowend teen die ruwe klipwande vas en eggo met die wandelgang af.
Verstom, versteen van vrees, kan Sandra net kyk . . . en kyk hoe die bewegende skaduwees nader sak en saamsmelt soos ’n digte, swart wolk. Al laer sak dit, sweef dit asof dit vlerke het, deinend soos ’n swart golf van onheil, reg op Dianne af. Weer en weer gil die jong meisie terwyl Sandra vasgenael in haar spore net kan staan en toekyk asof sy na ’n grusame rolprent staar, asof sy haar eie oë nie kan glo nie, glo dat dit werklik besig is om te gebeur nie.
Nina se arms is uitgestrek na bo en sy vertoon onaards in die dowwe lig. Dan roep sy iets uit en asof dit ’n bevel is wat sy geuiter het en hulle haar verstaan, swiep die wolk neer. Asof in ’n nagmerrie eien Sandra dit. Dis vlermuise, honderde van hulle, wat met fyn skreeugeluidjies op Dianne neersak, haar toesak.
Spontaan gaan Sandra se mond oop om te gil, maar vanuit die donker agter haar skiet ’n hand blitsvinnig oor haar skouer en sluit knellend om haar mond.
6
Sandra is magteloos om te beweeg. ’n Arm het stewig om haar gegaan en sy word styf teen die persoon agter haar vasgedruk. Die ander hand knel oor haar oopgesperde mond waarin die gil gestuit is. Net bokant die knellende vingers blink haar oë groot en vol afgryse op die toneel voor haar.
Dianne se gille klink hol en boaards soos die een die ander opvolg terwyl sy wild – en tevergeefs – na die swart gedaantes om haar slaan. Maar dit hou hulle nie terug nie. Al digter en digter pak hulle om haar saam, raak verstrik in haar hare, en hul piepende skreeugeluidjies raak al harder . . . en dreigender. Dis ’n swart wolk van die dood self wat Dianne op hierdie oomblik omring.
Dan, skielik, klink daar bo die gille en piepgeluide weer ’n roep uit, en met oë vol ongeloof sien Sandra hoe die swart wolk meteens weer oplig, begin wegdein, en stadig, soos ’n dik, swart mantel om Nina vou. Sy sien hoe die vlermuise op die tenger vroutjie se uitgestrekte arms gaan sit, op haar kop, en die piepgeluidjies het opgehou.
Dianne