Ena Murray Keur 1. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 21
Dianne swaai om en begin wild die toring uithardloop, storm verby Sandra en die persoon wat haar nog steeds vashou, af met die wandelgang totdat dit weer stil word.
Roerloos staan Sandra en die man wat haar gevange hou. Sy weet dis ’n man, want sy kan sy warm asem teen haar slaap voel vasslaan en sy weet ook dat hy, nes sy, versigtig en stadig asemhaal. Wie dit ook al is wat haar vashou, wil net so min soos sy hê dat Nina op hulle moet afkom.
Nina praat weer, maar dis te sag vir hulle om iets uit te maak. Weer sien Sandra se verstarde oë ’n wonderwerk in die dowwe lig voor haar. Dis of Nina Andrews ’n tweede bevel geuiter het en die vlermuise haar verstaan, want hulle begin opvlieg, al hoër, totdat hulle soos ’n swart wolk bo by die toringbek uit verdwyn, die nag in.
Sandra voel die man se hand losgly van haar mond en hoe sy met haar rug plat teen die toringmuur aangedruk word, só hard dat haar ribbe pyn en sy skaars kan asemhaal, want Nina het in beweging gekom en stap nou stadig, maar met vaste tred, in hul rigting aan.
Toe sy regoor hulle kom, sluit Sandra haar oë en hou haar asem op. Haar knieë swik onder haar toe die voetval egter verbygaan sonder om af te breek. Was dit nie vir die sterk arm wat haar ondersteun nie, sou sy grondwaarts geval het. Dan sou Nina beslis op haar afgekom het. Toe die voetstappe eindelik wegsterf, loop die koue angssweet in nat spore oor haar voorkop en ’n snik breek oor haar lippe. Die volgende oomblik voel sy hoe die man haar styf teen hom vastrek.
“Toemaar. Toemaar, kleintjie. Dis verby. Jy is veilig.”
“Gustaf!” Met wilde geweld gooi sy haar arms om hom en druk haar so styf moontlik teen hom aan terwyl sy onbedaarlik bewe. “O, Gustaf! Dis vreeslik, dis . . . onmoontlik!”
“Toemaar. Kom ons gee pad uit hierdie duiwelse plek.”
Hy ondersteun haar en dra haar omtrent die wandelgang af. Eers toe die ruïnes agter hulle lê en net die somber silhoeëtte nog sigbaar is, kom hulle tot stilstand. Gustaf neem haar weer styf in sy arms.
“Jy moet dit nooit weer doen nie! Nooit weer nie! Jy kom nooit weer in die nag hierheen nie, Sandra!”
Sy skud haar kop en lê haar gesig styf teen die veilige warmte van die een breë skouer aan.
“Geen mag op aarde sal my weer hier kry nie,” belowe sy dadelik en sidder. “Ek was nog nooit in my lewe so bang soos netnou nie. My hart het byna gaan staan.”
“Myne ook, veral toe ek besef dat jy ook hier is en . . .”
Hy skud sy kop en sy stem is vol ongeloof. “Ek kan nou nog nie glo dat ek werklik gesien het wat ek gesien het nie!”
Sandra staan terug. Haar gesig is bleek en die oë groot en bang wat in die flou maanlig na hom opkyk.
“Ek ook nie. Ek kan nie glo dat dit werklik kan wees nie! Dis . . . dis tog nie moontlik nie, Gustaf!”
Hy knik en sy gesig vertoon die grimmigste wat sy dit nog gesien het. Op hierdie oomblik skiet doktor Basson se woorde hom te binne: There are more things in heaven and on earth . . . Dan skud hy sy kop. Twak!
“Kom.” Sy bevel is kortaf. Hy neem Sandra aan die hand en begin vinnig terugstap. Sandra laat haar nie twee keer nooi nie. Met ’n laaste, ongelowige terugblik in die rigting van die nagomhulde ruïnes agter hulle drafstap sy om by te hou. Daar is niks wat sy meer begeer as die veiligheid – en nugterheid – van haar kamer nie.
Hulle nader die voordeur van die vakansieplaas versigtig. Alles is in donkerte gehul, maar hulle weet dis ’n bedrieglike donkerte. Hulle weet dat ten minste drie mense in hierdie donker gebou nie slaap nie. Daarom sluip hulle versigtig die treetjies op. Gustaf slaak ’n sug van verligting toe hy vind dat die voordeur nie gesluit is nie. Hy gaan saam met Sandra tot by haar kamer. Eers toe hy die vensters op grendel het, laat hy haar toe om die bedlampie aan te skakel. Sy blik dwaal ’n oomblik deur die vertrek. Hy loer onder die bed en kyk selfs in die ingeboude kas.
“Alles veilig. Hou jou vensters en gordyne toe en sluit jou kamerdeur snags.” Hy sien die vrees in haar oë en hou sy arms uit. Sy kom dadelik, en weer druk hy haar styf teen hom vas.
“Ek is bang, Gustaf,” erken sy met ’n gesmoorde stem teen sy skouer, en sy arms span nog ’n bietjie stywer.
“Jy sal niks oorkom nie, kleinding. Daarvoor sal ek sorg. Maar jy gaan nêrens ooit weer alleen nie. As ek nie by is nie en daar gebeur iets, gaan stel jy nie weer ondersoek in nie. Laat dit wees net wat dit wil. Verstaan?”
Hy lig haar ken met sy hand op en kyk in haar oë af. Sandra kan net knik. Op hierdie oomblik is die speurder se oë allermins kil en meedoënloos.
“Ek wil nie hê jy moet iets oorkom nie, meisie. Want wanneer hierdie saak afgehandel is, is daar iets wat ek vir jou wil sê.”
Sy kyk op in die vreemde, teer oë en ’n ligte blos skiet oor die wange wat nog nie hul bleekheid verloor het nie. Dan gaan haar lippe gewillig oop terwyl kaptein Lenard sy mond nader bring. Eindelik breek hulle los uit die omhelsing en hy fluister sag: “Nou moet jy gaan slaap. Dis al oor een.”
“Nag, Gustaf.” Sy stap saam tot by die deur, maar daar hou sy hom terug. “Hoe het jy geweet ons is . . . daar?”
“Julle moet pas weg gewees het toe ek hier aankom,” verduidelik hy fluisterend. “Ek het jou kom soek om te kyk of alles hier reg is, en toe kom ek agter jy is ook weg.”
Weer sirkel sy arms om haar. “Jy sal nooit kan dink wat ek op daardie oomblik deurgemaak het nie. Dit was blote instink wat my in die rigting van die ruïnes laat gaan het. Ek was net betyds om te sien hoe jy oor die maanligkol die ruïnes binnesluip.”
Teer streel sy vingerpunte haar een wang. “Maar vergeet nou van daardie dinge en gaan slaap. Dit lyk nie vir my ons gaan ooit in hierdie plek ’n volle nagrus geniet nie.”
Vlugtig soen hy haar weer op die voorkop en glip dan geruisloos by die deur uit. Sandra draai die sleutel met bewende vingers in die slot.
Die volgende oggend, toe Sandra wakker word, is daar ’n oneindige verligting in haar om te sien dat die son helder skyn. Sy trek die gordyne oop en maak die vensters wyd oop terwyl haar blik ’n oomblik rus op die gedeelte van die ruïnes wat hiervandaan af sigbaar is.
Vanoggend voel sy amper ’n bietjie belaglik as sy aan gisternag en haar vrese terugdink, hoe sy haar verbeel het dat die ruïnes ’n lewende ding met ’n siel is. Misterie en diepe geheimsinnigheid omhul wel die Zimbabwe-ruïnes, maar dis op geskiedkundige terrein, in sy oorsprong, wie dit gebou het, wie hier geleef het en so onverklaarbaar verdwyn het dat niemand vandag met werklike oortuiging en bewyse kan sê wie die bouers was nie. Verskillende teorieë bestaan, het doktor Basson vertel, maar nie een van die talle geleerdes wat al die geheim probeer ontrafel het, kon nog onomstootlik bewys dat hul teorie waar is nie. Maar verder . . .
Sy kyk stip na die hoë kliptoring wat teen die blou lug uittroon. Verder is dit maar net ’n klomp klippe wat op ’n besonder kunstige wyse sonder ’n voegmiddel opgestapel is en die aanslag van eeue weerstaan het, om nou, in hierdie verligte eeu, heerlik diep binne-in hom te lag wanneer geleerde mense in sy ingewande ronddelf om iets meer te wete te kom terwyl hy meerderwaardig die swye bewaar.
Daar begin