Louisa du Toit Omnibus 8. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 8 - Louisa du Toit страница 11
“Beslis,” sê Jonker, en net hy weet wat hy met die duistere sinspeling bedoel. “Maar dis nie rede vir jou om pad te gee nie. Na dese is jy klaar hier opgeteken.” Hy beduie na die wit kaartjie. “Ek moet net nog jou kinders se name kry. Of sal ek julle sommer Tdein en Bdood noem?” wil hy ernstig weet.
As hy vir Berna sien weifel, vervolg hy: “Roux het klaar besluit vir wie hy wil hê, en dis wederkerig. Niks wat hulle kan doen, sal iets aan die saak verander nie. En niks wat iemand sê of doen, kan jou verplig om met enigiemand op aarde te trou nie. Jy kan dus net sowel bly. Dis ’n gesonde omgewing hierdie. Die landelikheid, stilte. Sê vir my, en dis ’n bloot nuuskierige vraag: is jy geskei?”
Sy het dit sien kom, en kan nie lieg nie. “Weduwee. Maar laat ek maar eerlik wees, dit het glad nie meer so goed gegaan nie.”
“Wanneer gaan dit ooit goed? Maar wees gerus, jy is nie in die biegstoel nie.”
Lammie kom in die binnedeur staan, om te hoor “of dominee Johan nie ’n stukkie saam wil eet nie”.
Dus, dink Berna, is hy beslis ongetroud, anders sou Lammie hom nie genooi het nie. Seker dan verloof. Andersins sal menige gemeentemoeder die oog op hom hê vir ’n hubare dogter.
“’n Stukkie? As my neus my nie bedrieg nie, is daar ’n hele volstruiskuiken, met naeltjies gestowe.”
“Naeltjies is ’n wonderlike ding. Dit help ook vir vismotte,” gee Lammie erkenning aan die pluimpie.
“Perfek,” roep hy uit. “Waar kan ek een kilogram kry vir die vier miljoen vismotte tussen my boeke?”
“Ek het ’n klompie om af te staan, maar nie so baie nie,” weifel Lammie.
“Nee, daar moet meer naeltjies as vismotte wees, want dalk gooi ek nie die eerste keer raak nie,” meen hy.
“Maar mens gooi hulle nie,” hyg Lammie, en kom dan agter dat sy perfek in die slagyster getrap het. Sy glimlag vergewend.
“O, askies. Gee dan maar ’n paar, tant Lammie. Maar net ’n paar. En ek sal nie saam eet nie, maar baie dankie. Ek het nog besoeke.”
Egte beletsel, of net ’n verskoning? wonder Berna. Sou hy saam geëet het as sy juffrou Joubert was, sonder aanhangsels? Of sou Lammie hom dan glad nie genooi het nie, omdat Roux voor in die tou staan? Sy moet dit in elk geval baie, baie veilig ag om hom in die geselskap van ’n weduwee met twee kinders te plaas. Veilig genoeg dat daar nie in Roux se slaai gekrap sal word nie.
Vergeet nou van Roux, vermaan sy haarself. Hy is tien teen een verstok en vol geite. En daarby het hy mos glo iemand. En hierdie Jonker is reg: niks, maar niks, en niemand, maar niemand, kan haar dwing om haar aan hom te laat uitveil nie. Sy verskaf terstond die tweeling se volle name sodat Jonker dit kan opskryf.
“Bly jy nou?” vra Johan toe Berna, ’n kind aan elke hand, in die tuinhekkie staan om hom weg te sien. Hy het sommer gestap. Wonderlik, dink sy, om jou skielik in ’n plek te bevind met loopbare afstande, na die geworstel om ’n paar keer elke dag fisiek uit te kom waar jy moet wees.
“Wel, jy het my oortuig dat ek reeds hier gedokumenteer is.” Hoe lank “jy” en “jou” hulle mekaar al? Reg van die begin af, dalk? Dit verbaas haar noudat sy daarvan bewus raak, maar dis te laat om terug te skakel na ’n formele “u”.
Toe bars dit uit haar: “Ek wil nie terug nie. Ek het so seer daar gekry, en dit sal weer dieselfde wees.” Dis nie die regte tyd om hom, onder meer, van die onsimpatieke gesindheid van haar skoonouers te vertel, of die vervreemding van haar eie ma nie.
“Moet jou net nie bluf nie,” sê hy baie sag. “Mens kry maar oral seer. Soos die digter sê: ‘Maar die hart ken sy verdriet oral, in elk landgebied.’ Dit weet jy natuurlik so goed soos ek.”
“Ja, ek weet dit. Maar ek wil dit net ’n rukkie lank vergeet.”
En dis hoe hulle afskeid neem, sy met die kinders aan weerskante van haar, hy met die pen en die kaartjie wat hy vashou. Sy het ook van lyftaal geleer dat so ’n vashou van ’n artikel ’n soort stut bied. Waarteen sou hy ’n stut wou hê? Hy lyk so ontspanne, so seker van homself, ongedeerd, oortuig van wat hy wil en wat hy weet.
En tog loop hy anders hier weg as wat hy hier aangekom het. Sy weet dit diep en instinktief sonder dat sy dit in woorde sou kon omskryf.
“Oom Dawie en tannie Lammie,” sê Berna toe sy aan tafel sit en die vleis vir die kleintjies in hulle bordjies sny, “domineer Johan het my weer ’n keer oor my teruggaan laat dink. Ek is nou hier, met groot moeite, en met die oorspronklike bedoeling dat ek kom om te bly. Om ’n lewe te maak. As ons kan ooreenkom dat julle my op geen manier verder aan Roux probeer afsmeer nie …”
“Maar natuurlik nie,” sê Lammie en, in dieselfde asem: “Ek hoop nou nie doom Johan het self planne met jou nie.”
“Tannie Lammie, daar gaan ons al weer. Ek het nie kom man soek nie. Ek het kom werk, en werk sal ek werk. Julle haal net vir julle ’n groot ding op die hals met twee kleintjies in julle huis. Ek sal maar graag in daardie buitekamers wil intrek, as dit moontlik is.”
“Net môre begin ons daar verf en regmaak,” sê Dawie, so formeel asof hy die oprigting van ’n vyfsterhotel aankondig.
‘Sal ek my meubels laat kom?”
“Nee, wag eers, op die plaas staan daar van alles en nog wat,” sê Dawie. Daar moet heftige geheime gedagtes wees wat hy op die naeltjiehoender uithaal, want hy lê behoorlik in met mes en vurk.
Sodat Berna dink, met onrus en gelatenheid: Dis nog nie die einde van sy planne nie. Sy sien dit steeds in sy oë woel. Maar op hierdie presiese oomblik kan sy nie ’n duiwel omgee nie. Sy wil net haar leë maag tevrede stel en daarna haar moeë liggaam. Vir die kinders is daar reeds ’n dik, sagte kermisbed langs haar eie hoë wit bed gemaak, en hulle kan nie wag om daarop te gaan baljaar nie.
Wat moet wees, moet dan maar wees.
Sy is nou ’n inwoner van Rensdal. Hier gedokumenteer, soos Johan Jonker gesê het, met die drie fyn, regop plooitjies langs elke mondhoek.
5
Hoewel Berna haar voorgeneem het om nie meteens die groot hervormer te speel nie, kan sy haarself nie keer nie. Sy spring in Koskas weg met ’n soort skeppingsdrif wat sy kwalik moontlik geag het. Dis ook nie net ’n geval van nuwe besems nie, daarvoor het die lewe haar al te veel versigtigheid geleer. Dit werk egter aansteeklik, en sy het haar hande vol met voornemende lede wat wil help bak, brei of naaldwerk doen. Menige vrou is verleë oor ’n ekstra inkomstetjie en gryp na hierdie geleentheid.
Dan is daar ook die veranderinge aan die winkel se struktuur. Toe Berna dit net vaagweg noem, moes sy hoor dat Dawie en Lammie dit lankal oorweeg om die middelmuur uit te breek, maar net nog nooit so ver gekom het nie. Dawie kontrakteer sommer