Reënboog van koraal. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Reënboog van koraal - Ena Murray страница 9
“Maar dit kan nie wees nie! Ek het dan ’n brief teruggekry van hom waarin …”
“Ek het daardie brief geskryf.” Hy kyk kalm terug in haar geskokte oë. “Jou brief het op Inhaca aangekom toe Hein dodelik siek in die hospitaal gelê het. Ek wou jou laat weet het van die ongeluk, en moes die brief oopskeur om jou adres in die hande te kry. Ek het hom liewer niks van die brief vertel nie, want ten eerste was hy nog te swak, en ten tweede was ek nie geneë dat jy juis op hierdie kritieke tydstip die verlowing moet verbreek nie.”
“Maar dan … dan het jy mos van die begin af geweet dat ek die verlowing wil verbreek. Hoe kan jy my dan ’n fortuinsoeker noem?” vra sy verontwaardig.
“Ek het al tevore gehoor van ’n meisie wat so maklik verloof geraak het en dan raak die verloofring gerieflik weg elke keer dat sy besluit dit is nog nie die regte man nie. So het sy ’n hele fortuintjie ingesamel in die vorm van diamantringe totdat die polisie haar vasgetrap het.”
“En jy dink dit was my plan ook?”
“Nee, ek sê dit nie, maar jy moet toegee dat alles baie verdag lyk. As ek nie die dosie oopgemaak het nie, sou ek teruggekeer het na Inhaca met ’n leë ringdosie en eers dáár tot die ontdekking gekom het die ring is weg. Dit kon ook ek gewees het wat dit verloor het en dan het ek geen saak teen jou gehad nie. Maar nou is dit darem ’n heeltemal ander storie, nie waar nie?”
Estelle besef dat sy maar net sowel die stryd gewonne kan gee. Waar en wanneer daardie ring uit die dosie kon verdwyn het, kan sy nie dink nie. Op die vliegtuig was dit nog in haar besit. Die enigste moontlike tyd wat dit gesteel kon gewees het, was toe sy haar bagasie by die toonbank in die lughawegebou ontvang het. Sy onthou sy het haar handsak op die toonbank neergesit en daar was ’n samedromming van passasiers. Dis al tydjie dat haar handsak uit haar hande was. Sy sug. Wat maak dit ook saak wanneer en waar dit gesteel is? Die feit bly dat die duur ring weg is en dat nóg hierdie man nóg die hof sal glo dat sy dit nie doelbewus vir haar toegeëien het nie.
Haar oë ontmoet die potblou oë oor die tafeltjie tussen hulle. Dan, baie teësinnig maar magteloos, sê sy eindelik: “Goed. Ek kan niks anders doen nie, kan ek? Ek sal saam met jou na Inhaca gaan.”
’n Duidelike trek van verligting flits oor sy gesig. Dan staan hy op en buig formeel.
“Dankie, Crystelle. Ek is jammer dat ek jou so te sê moes dwing, maar die doel heilig die middele in hierdie geval. Ons het teen wil en dank bondgenote geword in hierdie saak. Ek hoop net nie ons antagonisme teenoor mekaar gaan dit verongeluk nie.”
Hy glimlag liggies in haar oë af. “Nie dat dit soveel saak sal maak dat jy my haatlik vind nie. Dis op Hein wat jy moet konsentreer, nie op my nie.”
“Dank die gode dáárvoor,” antwoord sy spontaan en gevoelvol. “Ek sal liewer probeer om ’n slang op my verlief te laat raak.”
Skielik klink sy helder lag op.
“Jy weet, ek dink daar lê nogal ’n interessante maand vir ons voor!”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.