Reënboog van koraal. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reënboog van koraal - Ena Murray страница 7

Reënboog van koraal - Ena Murray

Скачать книгу

ten minste die halwe waarheid.

      “Ek het nie die ring aan my vinger gehad nie, juis omdat ek eintlik hierdie afspraak met Hein gemaak het om ons verlowing te verbreek.”

      “Werklik?” Die sarkasme drup uit sy stem. “Regtig, Crystelle Reynders, hoe oud skat jy my?”

      “Maar dit is so!” roep sy uit, nou werklik benoud. Dit lyk asof hierdie man die waarheid nog minder sal glo indien sy hom nou alles moet vertel. Hy sal dink dis maar nog een van haar planne om haar uit hierdie penarie los te wikkel. Liewe aarde, maar Crystelle het haar darem in ’n gemors laat beland.

      “Goed. Kom ons veronderstel jy praat hierdie keer die waarheid en dat jy werklik gekom het om die verlowing te verbreek. Wat is jou rede? Hoekom wil jy die verlowing verbreek?”

      “Omdat … omdat ek … daar is ’n ander man, ek bedoel …”

      Weer skiet die donker wenkbroue op en sy stem klink sag, bedrieglik begrypend.

      “Ek verstaan. ’n Ryker man as Hein?”

      Sy laaste woorde tref die kol.

      “Jy het regtig nie ’n hoë dunk van my nie, nè, Chris Albrecht?”

      “Kan jy my dit verkwalik, Crystelle Reynders?”

      Dan breek die styfgespanne veer binne-in haar. Sy probeer nie meer om haar selfbeheersing te behou nie. Nou het sy darem net mooi genoeg van hierdie man gehad.

      “Ek dink jy is die agterdogtigste, bemoeisiekste, meerderwaardigste, haatlikste mansmens wat ek nog ooit die twyfelagtige eer gehad het om mee kennis te maak. Goed dan. Dink wat jy wil. Dit kan my nie skeel nie. Gaan gee my by die eerste die naaste polisiekantoor aan vir diefstal. Dit kan my nog minder skeel.”

      Haar uitbarsting het geen uitwerking op hom nie. Hy bly kil en kalm, so senutergend kalm.

      “En jy, Crystelle Reynders, is nie net die valsste vroumens met wie ek nog te doen gekry het nie, maar ook die swakste leuenaar. Daar is net so min ’n ander man in jou lewe as wat daar ’n ander vrou in myne is. Jy is net so min op hierdie oomblik ’n verliefde meisie as die man in die maan.”

      “O, in hemelsnaam, jy maak my siek met jou alwetendheid! Ek weet nie waaroor jy nou so kerm nie. Jy het vandag hierheen gekom om jou bes te doen om die verlowing te verongeluk. Wel, jy het dit reggekry. Wat meer wil jy hê? Dis wat jy wou gehad het. Waar dit die ring aangaan …”

      “Laat ons ’n oomblik van die ring vergeet. Jy verkeer onder ’n wanindruk, Crystelle. Ek het nie hierheen gekom om jou en Hein se verlowing te vernietig nie. Inteendeel. Ek het hierdie afspraak namens Hein nagekom om jou te oorreed om saam met my na Inhaca terug te keer.”

      “Wat?”

      Hy knik.

      “Jy het reg gehoor. Ek wou jou vra om saam met my te kom en ’n rukkie, sê ’n maand, op Inhaca te kom vakansie hou … by my en by Hein. Dit was nie, en is steeds nie my bedoeling om jul verlowing te vernietig nie.”

      Estelle sak terug in haar stoel, haar stem gedemp.

      “Ek verstaan jou nie, meneer Albrecht. Ek verstaan jou glad nie.”

      Die eerste keer is daar ’n beduidenis van ’n glimlag om sy lippe.

      “Ek is ’n moeilike mens om te verstaan. Moet dus nie probeer om resultate met die eerste kennismaking te kry nie. Maar miskien sal jy my ná ’n maand onder een dak beter verstaan … en ek vir jou.”

      “Jy kan nie regtig ernstig wees nie. Eers beledig jy my soos ek nog nooit beledig is nie. Dan trek jy my uitmekaar. En nou nooi jy my ewe kalm vir ’n vakansie! Is jy heeltemal seker jy is Hein se broer en dat jy van Inhaca af kom?”

      Hierdie keer lag hy saggies, blykbaar geamuseer deur haar poging tot sarkasme.

      “Ek is werklik Hein se broer en ek kom werklik van Inhaca af en het nie uit ’n gestig ontsnap nie. My uitnodiging is ook heeltemal eg en baie ernstig. Ek nooi jou om ’n maand lank op Inhaca by ons te kom kuier. Ek wil sommer nog vandag vertrek.”

      “Hoekom wil jy hê dat ek daar moet kom kuier?” vra sy, openlik agterdogtig. “Dis vir my so duidelik soos daglig dat jy nie ons verlowing goedkeur nie. Tog … is jy bekommerd oor die ring, dat jy daardie geld gaan verloor? Dan kan ons sommer nou na ’n prokureur gaan en ’n kontrak opstel vir ’n sekere bedrag wat ek jou elke maand moet terugbetaal totdat die bedrag gedek is. Ek rol nie in die geld nie en ek het nie so ’n groot bedrag om jou meteens terug te betaal nie. Maar met ’n kontrak van ’n prokureur behoort jy redelik veilig te wees.”

      “Ek het gesê ons vergeet eers van die ring. Ek is nie bang dat ek daardie geld sal verloor nie. Dit is nie dáárvoor dat ek jou op Inhaca wil hê nie.”

      “O! Waarvoor dan?”

      Hy antwoord nie dadelik nie, en sy kyk hom fronsend aan. “Is dit miskien om Hein van sy verliefdheid te genees? Dink jy dat hy oor sy gevoel sal kom as ons mekaar elke dag sien en mekaar beter leer ken?”

      “Miskien.”

      “Of is daar ’n ander rede? Wat voer jy in die mou, meneer Albrecht?” vra sy reguit, haar stem vol agterdog.

      Hy aarsel nog en dan gee hy toe.

      “Jy is tog slimmer as wat ek vermoed het.”

      “Dankie.”

      “Plesier. Jy het gelyk. Daar is ’n spesifieke rede hoekom ek jou ’n maand lank op Inhaca wil hê … as Hein se verloofde. Daar is niks waaroor jy bekommerd hoef te wees nie. Al wat ek van jou verlang, is om bloot net vir daardie tyd op Inhaca te kom bly as Hein se verloofde. Jy sal nie veel las van hom ondervind nie. Hy voel nog te siek en swak ná die ongeluk. Wanneer die maand verby is, kan jy terugkeer Johannesburg toe soos jy verkies, of, as jy en Hein dan werklik nog kans sien om met hierdie klug voort te gaan, beloof ek om my nie meer in te meng nie.”

      Hy leun weer vorentoe en kyk haar stip aan. “Ter vergoeding daarvoor, kan ons vergeet dat daar ooit ’n verloofring van derduisende rande in jou besit was.”

      “Jy bedoel … jy is bereid om my te betaal om ’n maand lank te gaan vakansie hou?” stamel sy verbyster.

      “As jy dit so wil stel, ja, dis waarop dit neerkom.”

      “Maar hoekom? Dit moet ’n belangrike rede wees om soveel werd te wees.”

      Hy huiwer weer effens voordat hy haar vas in die oë kyk.

      “Goed. Ek sal heeltemal oop kaarte met jou speel. Sowat twee jaar gelede het Hein ’n vreeslike kalwerliefde vir ’n sekere vroumens ontwikkel. Die feit dat dié vrou heelwat ouer as hy was en boonop getroud, het haar net interessanter vir hom gemaak. Hierdie vrou en haar man kom nou weer ’n maand lank op Inhaca by my kuier. Hulle was die vorige eienaars van die hotel op die eiland. Ek is bang dat daar ’n herhaling gaan wees van die vorige keer. Die feit dat Hein so skielik aan jou verloof geraak het, laat my sterk twyfel aan sy danige liefde. Ek is byna honderd persent seker dat hy nie dolverlief op jou is nie. Die blitsverlowing laat my vermoed dat hy ook vir dieselfde ding bang is en dat hy hierdie vrou nog nie uit sy sisteem het nie.”

      Sy

Скачать книгу