Reënboog van koraal. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reënboog van koraal - Ena Murray страница 5

Reënboog van koraal - Ena Murray

Скачать книгу

vliegtuig bestyg op pad na Durban nie. In haar handsak lê Heinrich Albrecht se telegram waarin hy hul afspraak vir dieselfde middag by ’n sekere hotel in Durban bevestig.

      Op pad wens sy met ’n opregte gebed dat daar iets mag voorval wat hom sal verhoed om die afspraak na te kom, hoewel sy terselfdertyd besef dat dit maar net haar beproewing sal uitstel en nie afstel nie. Dan weer wens sy net so opreg dat hy die afspraak sal kan nakom, want hoe gouer hierdie ding van haar skouers af is, hoe beter vir haar gemoedsrus.

      ’n Honderd keer gedurende die lugreis maak sy haar handsak oop om te kyk of die dosie met die verloofring nog daarin is. Later is dit nie meer genoeg om net die dosie te sien nie. Nee. Toe begin die duiwel haar wysmaak die ring is nie meer in die dosie nie. Dit het daaruit weggeraak. Wanneer sy op die lughawe uitstap, voel haar knieë soos saggebreide klei wat al dwing om onder haar te knak, en die afspraak met haar suster se verloofde doem soos ’n berg voor haar op.

      Nog nooit in haar lewe het sy doelbewus bedrog gepleeg nie. Selfs met haar mansvriende was sy nog altyd van die begin af openhartig. Sy het gehou van mansgeselskap, maar was nog nie bereid om ’n ernstige verhouding met net een man aan te knoop nie. Sy is nog maar drie en twintig, jonk en wil sommer nog berge versit en baie gaan reis voordat sy haar aan ’n man gaan verbind. Daarom het sy nog altyd van ’n ernstige verhouding weggeskram. Haar mansvriende het geweet as hulle haar vriendskap wil verloor, moet hulle net ernstig begin raak.

      En op hierdie oomblik is sy ’n “verloofde” meisie, op pad om haar onbekende “verloofde” te ontmoet, en sy sien geensins na hierdie afspraak uit nie. Hoewel sy baie lief is vir haar suster, is daar ’n stille verwensing in haar hart teenoor Crystelle toe sy die stoeptreetjies van die hotel opstap. Sowaar, eendag sal Crystelle moet vergoed vir hierdie benoude ure wat sy haar laat deurgaan. Dié dametjie is natuurlik op hierdie oomblik in die sewende hemel saam met haar bruidegom, salig onbewus van die koue sweet wat nou in haar suster se handpalms uitslaan.

      By ’n tafeltjie, eenkant op die ruim stoep, het ’n man haar aankoms met belangstelling dopgehou, en nou staan hy op en kom met afgemete pas nader gestap.

      2

      Estelle is onbewus van die man wat haar na die ingangsportaal van die hotel volg en kort agter haar stelling inneem toe sy die registerboek teken. Eers toe sy omdraai, gewaar sy hom. ’n Oomblik trek alles styf binne-in haar. Dan ontspan sy weer. Dit kan nie Hein Albrecht wees wat hier voor haar staan nie. Hy is volgens Crystelle se beskrywing te oud daarvoor en ook donker. Sy wil net wegdraai toe die man egter ’n tree nader gee.

      “Juffrou Reynders?”

      “Ja?”

      “Jy het natuurlik verwag om my broer hier te ontmoet, maar daar het iets voorgeval wat hom verhinder om jul afspraak na te kom. Daarom het ek maar gekom. Ek is Chris Albrecht, Hein se broer.”

      Estelle hoop van harte dat die man nie die groot verligting op haar gesig kan sien nie. Sy kan haarself nou uitlag oor die nare voorgevoelens wat sy oor hierdie afspraak gekoester het. Beter kon dit nie vir haar verloop het nie. Daar bestaan nou geen gevaar dat sy en die hele bedrogspul ontmasker sal word nie, want hierdie man het Crystelle nog nooit in sy lewe gesien nie. Dan sal dit ook nou baie makliker wees om haar saak te stel en die ring aan die broer te gee om aan Hein te oorhandig.

      “As jy my ’n oomblik van jou tyd sal vergun …”

      “Sekerlik.”

      Hy lei haar na ’n hoekie van die sitkamer en neem regoor haar plaas. ’n Oomblik volg daar ’n stilte waarin hulle mekaar opsommend aankyk. Estelle bestudeer hom met onpersoonlike belangstelling. Sy moet erken dat haar “verloofde” se broer op ’n vreemde manier ’n baie aantreklike man is. Niemand sal hom ’n mooi man noem nie. Daarvoor is sy gesig in te streng lyne saamgevat. Dis sy oë wat ’n mens dadelik tref. Hulle is ’n besonderse blou, amper ’n donkerblou, en uit hulle straal ’n sterk persoonlikheid.

      Die verligting in Estelle begin so stadigaan wegsypel en sy twyfel of dit so ’n groot genade is dat Hein nie self opgedaag het nie. Die blou oë wat so sonder huiwering na haar kyk, vertel haar dat sy nie hier met ’n jong, onervare mannetjie te doen het, soos Hein blykbaar nog is nie. Sy reguit blik vertel haar dat dit ’n volwasse man van by die dertig is aan wie geen spek en bone opgedis sal kan word nie. Die reguit, effens geboë neus met die streng mond daaronder verraai dat hy ’n wil en ’n siening van sy eie het. Sy weet sommer intuïtief dat hierdie man nie met hom laat speel nie. Die effense rooi skynsel in die donker hare vertel haar ook dat hy ’n humeur het waarmee sy rekening sal moet hou.

      Dis die man wat eerste die stilte verbreek.

      “Stel jy belang om te weet wat Hein verhinder het om jul afspraak na te kom?”

      Dis asof ’n toon van sarkasme net so wil-wil deurslaan in sy stem, en Estelle voel ’n ligte blos langs haar nek opstoot.

      “Natuurlik wil ek graag weet,” sê sy vinnig, amper oorhaastig, en sy sien die donker wenkbroue lig.

      “Jy het nie baie gretig gelyk nie.”

      Estelle soek na woorde. As sy net kon weet of Hein sy broer in sy vertroue geneem het en of hierdie man weet dat sy die verlowing wil verbreek, dan sal sy weet wat om te antwoord. Sy voel egter glad nie lus om hom daarvan te vertel as hy dit nie weet nie. Skielik voel sy ’n ergernis teenoor haar onbekende “verloofde” in haar opstoot. Vir wat kon hy nie self hierdie afspraak nagekom het nie? Of is hy ook maar van Crystelle se soort wat altyd ander stuur om hul kastaiings uit die vuur te krap? Dan ruk sy haar reg. Sy is nou onredelik. Die bruin oë wat in syne opkyk, is koel en uitdagend.

      “Ek is nie ’n mens wat met my gevoelens te koop loop nie, meneer Albrecht. Sou jy meer van my gedink het as ek in trane uitgebars het?”

      Die blou oë vernou en dan glimlag hy effens.

      “Nee, beslis nie, juffrou. Ek kan emosionele vroumense nie verdra nie.”

      En ek, meneer Chris Albrecht, kan weer nie hooghartige, meerderwaardige mansmense verdra nie, dink Estelle swyend. Een ding is baie seker. Sy hou nie van hierdie broer van haar verloofde nie. Sy hoop van harte dat Hein nie baie na hom aard nie.

      “Kan ek nou hoor wat Hein makeer?”

      “Sekerlik. Hein is tydens ’n duikery deur ’n haai aangeval. Hy was baie ernstig beseer, maar is darem nou weer uit die hospitaal en terug op Inhaca. Die wond aan sy been sal egter nog ’n lang tyd neem om ten volle te genees. Daarom kon hy nie jul afspraak nakom nie.”

      “’n … Haai?” Haar ontsteltenis is heeltemal opreg. “Maar wat gaan soek hy dan ook tussen die haaie?” Die woorde kom spontaan oor haar lippe en die man se wenkbroue lig afkeurend.

      “Juffrou, dit raak al meer by my ’n sekerheid dat jy en Hein op aarde niks van mekaar af weet nie. Aan jou opmerking van so ewe kan ek aflei dat dit dieselfde met jou gesteld is. Tog het julle kans gesien om verloof te raak.”

      Estelle vererg haar op die daad, juis omdat sy so volkome met hom hieroor saamstem. Sy het Crystelle telkemale verwyt dat sy so blindelings aan ’n man gaan verloof raak het van wie sy absoluut niks weet nie, maar dit staan haar nou glad nie aan dat hierdie man daardie feit ook nou teenoor haar noem nie. Hy het niks te doen met sy broer se liefdeslewe nie. Sy steek haar kennetjie uitdagend na vore.

      “Dít, dink ek, is my en Hein se saak, meneer Albrecht. En ek het ’n naam. Dis Crystelle.”

      Sy

Скачать книгу