Reënboog van koraal. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reënboog van koraal - Ena Murray страница 4

Reënboog van koraal - Ena Murray

Скачать книгу

kry weer ’n kleurtjie.

      “Wel, nie gewoonlik nie, maar dit was nou toevallig hy wat op daardie besondere tydstip op die toneel verskyn het. Hy is ’n baie gawe en aantreklike seun, Estelle, en ek het werklik ons vakansietjie saam geniet.”

      “Maar jy het geweet toe julle verloof geraak het dat hy nie jou soort man is nie,” beskuldig Estelle reguit. Haar kommer verdiep. Die jong man het natuurlik tot oor sy ore verlief geraak op die wêreldwyse Crystelle en was totaal onbewus daarvan dat hierdie ervare meisie hom eintlik as ’n soort ontvlugting gebruik het.

      Haar ontevredenheid met haar suster neem toe. Sy haat dit om mense onnodig seer te maak, en dis asof haar simpatie begin oorswaai na die kant van die onbekende jong man. Crystelle se optrede was niks anders as gemeen nie en dis of sy Hein Albrecht nie meer so kwalik kan neem dat hy moeilikheid wil maak nie. Crystelle verdien dit eintlik. Estelle sug.

      “Wat van sy familie? Weet jy iets van hulle af?”

      “Nie veel nie. Sy ouers is al dood en hy het ’n paar keer gepraat van ’n broer, ek dink ’n ouer broer.”

      “Weet jy regtig niks meer van hom af nie?”

      “Nee, regtig nie.” Crystelle ontwyk haar suster se oë. Sy besef maar te goed dat die hele saak, veral noudat Estelle dit so sit en uitpluis, haar in ’n baie slegte lig stel.

      Soos dit haar gewoonte is, skuif sy die effense skuldgevoel in haar opsy. Hein is nog jonk. Hy sal die teleurstelling wel oorleef. Estelle is verniet so bekommerd. As daar egter een ding in Crystelle is wat eg is, dan is dit haar gevoel vir Dawid, en Estelle besef dit blykbaar ook, daarom dat sy ingestem het om haar te help.

      Sy moet erken dat sy verbaas is dat haar suster wel ingestem het tot so iets. Estelle is in daardie opsig so heeltemal anders as sy. Sy ken net die reguit paadjie en sy haat alle vorme van oneerlikheid. Haar oë versag toe sy na haar suster kyk. Dis nie die eerste keer dat Estelle haar te hulp moet kom nie, maar sy moet erken, hierdie keer is dit darem ’n bietjie erg.

      “Ek sal jou ewig dankbaar bly, Estelle,” sê sy nou sag en met soveel gevoel dat Estelle nie anders kan as om aan die egtheid van haar woorde te glo nie.

      Sy glimlag en laat dan saaklik hoor: “Laat ons nou tot ’n punt kom. Waar en wanneer sal ek hom ontmoet? Hoe maak ons ’n afspraak?”

      Crystelle staan op en haal ’n briefie uit die spieëltafellaai.

      “Hier is die brief wat hy aan my geskryf het.”

      Estelle lees dit aandagtig. Die handskrif is duidelik leesbaar, hoewel die brief vinnig geskryf en baie kort, saaklik en ontmoedigend is. Hy sê net kortliks dat hy haar brief gekry het, maar weier om die saak per brief te bespreek. Daar is geen teken van ’n pleitende minnaar in die kort briefie nie, en die afsluiting is so onromanties as wat kan kom: Groete, Hein Albrecht. Boaan is die adres. Estelle frons.

      “Nou wonder ek … Hierdie naam Inhaca … Sou dit nou die huis se naam wees of die eiland s’n?”

      “Nee, ek weet nie. Maar as jy ’n brief na daardie adres stuur, behoort dit hom te bereik.”

      “Dis al wat ek in elk geval kan doen. Wanneer sal ek hom ontmoet? Hoe gouer, hoe beter, dink ek.”

      “Ek wonder tog of dit nie beter sal wees as jy dit uitstel totdat ek eers weg is nie, sus,” laat Crystelle huiwerig hoor. As daar iets moet skeefloop met die afspraak en daardie man moet op haar troudag die kerk binnestap … Nee. Estelle moet hom eers ontmoet wanneer sy en Dawid al op die vliegtuig op pad Engeland toe is. Sy bemerk haar suster se vraende blik en vervolg vinnig: “Veronderstel daar loop iets skeef en hy stel die waarheid vas.”

      Estelle sug weer saggies. Wat jy eintlik bedoel, my sussie, dink sy, is dat ek jou kastaiings uit die vuur moet begin krap wanneer jy reeds veilig weg is. Solank Crystelle se sake net vlot verloop … Maar dan, miskien is dit ook beter om te wag totdat Crystelle uit die land is. Soos sy gesê het, as daar iets moet skeefloop, kan hierdie tweede verloofde van haar die wêreld vir haar baie warm maak.

      “Ons kan hom per telegram laat weet dat jy hom oor tien dae in Durban sal ontmoet. Dan het ons reeds in Engeland aangekom en jou jaarlikse verlof het al begin,” vervolg Crystelle.

      Estelle frons ontevrede.

      “Maar ek was van plan om na die Drakensberge te gaan vir my vakansie, Crystelle, nie Durban toe nie. My plek is al bespreek en ek het al my treinkaartjie –”

      Crystelle val haar half ongeduldig in die rede: “Ek sê mos ook nie jy moet jou hele vakansie in Durban deurbring nie. Jy kan mos net ná die afspraak Drakensberge toe vertrek. Jy sal uiters ’n halfuur in Durban nodig hê.”

      Estelle bly maar stil. Soos gewoonlik dink Crystelle nie daaraan dat die reis Durban toe ekstra koste sal meebring wat ’n groot hap uit haar vakansiegeldjies sal beteken nie. Estelle is maar ’n doodgewone private sekretaresse by ’n bekende maatskappy in die stad, maar haar salaris kan nie vergelyk word met haar suster se inkomste uit die vooruitstrewende, gesogte sjarmeskool nie. En omdat Crystelle nog nooit nodig gehad het om ’n sent om te draai nie, dink sy nie daaraan nie dat haar suster dit tog wel soms nodig vind.

      “Nou maar goed dan. Laat ons sommer dadelik die brief stuur, anders kom hy nog een van die mooi dae hier aan.”

      In die geharwar van die finale voorbereidings vir die troue vergeet die twee susters amper van Heinrich Albrecht. Eers toe hulle mekaar op die lughawe groet waar die groot Boeing van die Suid-Afrikaanse Lugdiens reeds gereed staan om sy vrag na Londen te vervoer, kom hy weer in ’n paar gefluisterde woorde ter sprake.

      Die susters omhels mekaar innig, onbewus van die belangstellende blikke in hul rigting. Só ’n besonderse identiese tweeling is skaars, en hulle is al gewoond daaraan om aangestaar te word wanneer hulle bymekaar is.

      “Tot siens, sus. En … alle sukses met jou afspraak oormôre. Ek hou duim vas dat dit goed sal afloop,” laat Crystelle saggies hoor en Estelle knik.

      “Ek ook, van harte,” skerts sy lighartig terwyl haar hart skielik vinniger klop. Sy het amper van die mansmens vergeet! “Geniet jou oorsese verblyf. Ek gaan vreeslik verlang,” erken sy met ’n knop in haar keel.

      Hulle was nog al die jare bymekaar, en veral sedert hulle hul ouers gelyk in ’n motorongeluk verloor het, het hulle vreeslik geheg aan mekaar gegroei. Nou gaan hul paadjies uiteen, en albei weet dat daar tog ’n mate van verwydering tussen hulle sal kom.

      ’n Rukkie later draai Estelle saam met Dawid se ouers en die paar vriende wat die wittebroodspaartjie op die lughawe kom wegsien het, weg toe die silwer voël tussen die wolke in verdwyn. Sy probeer saam met die ander gesels en lag, maar ’n swaarmoedigheid het haar oorval. As die ander dit opmerk, skryf hulle dit maar aan Crystelle se vertrek toe, en lewer geen kommentaar nie.

      Maar dis nie die gedagte aan haar suster se vertrek of die feit dat sy haar eers weer oor ’n paar jaar sal sien wat die glimlag op Estelle se gesig styf en onnatuurlik maak nie. Heinrich Albrecht, haar suster se tweede verloofde, is soos ’n wagtende monster op die voorgrond van haar gedagtes, en sy wens met haar hele hart dat dit al die dag ná oormôre kan wees. Sy het so moedig geklink toe sy en Crystelle die saak bespreek het, maar hoe nader dit aan die uur van die afspraak kom, hoe meer verwater haar bravade. Sê nou maar die mansmens is moeilik, wil geen rede verstaan nie, ontmasker haar en hul bedrogspul sommer binne die eerste oomblik? Haar wange brand nou al by die

Скачать книгу