Reënboog van koraal. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Reënboog van koraal - Ena Murray страница 6
Estelle knip haar oë vinnig. Sy kyk verward terug in die oë wat nou forsend op haar gerig is.
“Ek begryp nie wat jy bedoel nie. Hoekom sal ek toneelspeel?” Haar stem vertel hom duidelik dat sy haar begin vererg. Die man moet darem nie dink dat hy enigiets vir haar kan sê nie.
“Die tydjie dat ek en Hein mekaar geken het, was te kort om veel besonderhede oor mekaar uit te ruil. Ek sal jou eerlik vertel wat ek van hom weet, en dis baie gering, ek erken dit. Ek weet dat hy op Ilha de Inhaca, ’n eiland naby Maputo, woon. Hulle noem dit sommer net Inhaca. Ek weet ook dat hy ’n ouer broer het, ’n soort … e … seewetenskaplike van beroep. Maar wat dit presies behels, wel, daarvan het ek nie die vaagste benul nie. Dis al.”
“Hoekom het jy aan hom verloof geraak, juffrou?”
“Wel,” en haar blik sak vinnig voor syne, “wel, hoekom raak ’n mens verloof?”
“Dit beantwoord nie my vraag nie, Crystelle.”
Hy noem haar die eerste keer op die voornaam, maar Estelle is skaars bewus daarvan. Al waarvan sy bewus is, is dat hierdie man ’n net om haar trek en vroeër of later gaan hy haar ontmasker. Vroeër of later gaan sy ’n glips maak wat haar bedrog aan die lig gaan bring. Haar senuwees is aan rafels en die hoeveelste keer verwens sy haar suster uit haar hart. Die verdekselse Crystelle!
“Jul optrede is dié van romantiese tieners en tog is nie een van julle twee meer tienderjarig nie. Hein miskien nog in sekere mate, maar nie jy nie. Julle twee is ook net so min dolverlief op mekaar as wat ek op hierdie oomblik dolverlief is. Ek het reeds ’n sterk vermoede hoekom Hein aan jou verloof geraak het.”
Estelle se bruin oë blits nou. Hierdie man se aantygings staan haar glad nie aan nie. Sy het geen benul waarop hy sinspeel nie, maar dat dit beslis nie vleiend vir haar, of liewer vir Crystelle, is nie, is duidelik.
“Terwyl jy nou so alles uitgewerk het, kan jy my vertel hoekom ek aan Hein verloof geraak het?”
“Net soos jy verkies,” is die kalm antwoord. “Al het Hein dit miskien nie self aan jou vertel nie, is jy bewus van die feit dat hy uit ’n baie welgestelde familie kom. Ook, juffie, sal ek my kop op ’n blok lê dat jy bewus is van die feit dat Hein, wanneer hy oor drie jaar vyf en twintig is, ’n aardige sommetjie geld gaan erf. Vir baie meisies van ’n sekere soort sal daardie feit meer as genoeg rede wees om verloof te raak, al weet hulle absoluut niks meer van die man af nie.”
Estelle is ’n oomblik te verslae om te antwoord. Hierdie keer begryp sy die aantyging in sy woorde baie duidelik. Dis net met die grootste wilsinspanning dat sy haar kalmte in so ’n mate behou dat sy kil opmerk: “Met ander woorde, meneer Albrecht, ek is in jou oë ’n fortuinsoeker.” Hy leun effens vooroor.
“Crystelle, beantwoord net hierdie een vraag. Is jy werklik verlief op Hein?”
Estelle besef onmiddellik dat hy haar eindelik in ’n hoek het. Antwoord sy nee op daardie vraag, sal dit ’n erkenning van haar kant wees dat hy gelyk het in sy bewering dat sy aan Hein verloof is om sy erfenis. Dis vir haar heeltemal onmoontlik om ja daarop te antwoord, want sy het gekom om die verlowing te verbreek en Hein se ring terug te gee. Hoe kan sy dan nou teenoor hierdie man beweer dat sy werklik verlief op sy broer is?
Hy sit terug in sy stoel en hierdie keer huiwer hy nie om reguit te praat nie.
“Jy is dus ’n fortuinsoeker, juffrou Reynders.”
Estelle trek haar asem skerp in. Nog nooit in haar lewe is sy so beledig nie en was sy so magteloos om haar teen ’n aantyging te verdedig nie. Dan, skielik, spoel daar ’n groot verligting deur haar. Sy besef dat hierdie man onbewustelik meehelp om haar probleem op te los. Hy is baie duidelik sterk teen die verlowing gekant. Dit pas haar uitstekend. Beter kon dit nie gewees het nie, besef sy. As sy nou haar rol oortuigend speel, kan sy binne die volgende minuut van die gehate verloofring ontslae wees. Dit kan haar regtig nie skeel wat hierdie man van haar dink of wat Hein gaan dink nie. Ná vandag sal sy tog nooit weer kontak met die Albrechts van Inhaca hê nie.
Sy tel haar handsak op, knip dit oop en lê dan die dosie waarin die verloofring is voor hom op die tafel neer.
“Daar is jou broer se ring, meneer Albrecht. Gee dit asseblief aan hom met my komplimente. Ek laat my nie eens vir die Albrecht-miljoene so beledig nie. Goeiedag.”
Toe sy om die tafel stap, is hy ook op sy voete.
“Gaan sit, Crystelle. Ek het nog nie klaar gepraat nie.”
“Maar ek het, meneer Albrecht. Ek het niks meer om met jou te bespreek nie.”
“Maar ek het wel, of verwag jy dat ek moet stilbly wanneer jy ’n leë ringdosie aan my gee?”
Sy staar geskok na die leë ringdosie op sy handpalm. Dis leeg! Dis werklik, wettig leeg! ’n Koue rilling gaan langs haar ruggraat af. Sy het geweet die verdekselse ding sal nog wegraak, en nou het presies gebeur wat sy gevrees het. Sy skud haar kop verdwaas.
“Dit kan nie wees nie! Dit was nog op die lughawe daarin. Ek het gekyk. Ek sweer dit!”
Al haar bravade van ’n oomblik gelede is weg.
“Gaan sit, Crystelle. Ons het nog blykbaar heelwat om te bespreek.”
Sy sak soos in ’n droom weer terug op die stoel en hierdie keer is die bruin oë pleitend.
“Regtig, meneer Albrecht, ek … ek weet nie wat daarvan kon geword het nie.” Hy antwoord nie, sit en kyk haar net strak aan, en sy vervolg bleek: “Nou is ek natuurlik nog ’n dief ook in jou oë!”
Sy stem klink meteens minder kil.
“Ek weet eerlik nie wat om te dink nie. Die feit bly staan dat die ring weg is. Ek kan nie toelaat dat ’n ring van derduisende rande sommer net soek raak nie. Selfs nie eens die Albrecht-miljoene, soos jy dit verkeerdelik genoem het, kan so ’n skade sonder ’n oogknip dra nie.”
“Derduisende rande!” roep sy met groot oë uit en hy frons.
“Dit was die pryskategorie, nie waar nie? Die bedrag wat ek daarvoor moes betaal, was in elk geval ’n syfer met ’n hele paar nulle!” Die donker wenkbroue skiet weer op. “Of waar het jy gedink sal ’n student soveel geld kry om vir ’n ring te betaal? Hein kry eers oor drie jaar volmag oor sy geld, soos ek reeds gesê het. Intussen is hy van my afhanklik. Ek is sy voog. Terloops, hy moet ook eers my toestemming kry voordat hy kan trou, dit wil sê, as hy wil trou voordat hy vyf en twintig is.”
Estelle se kop begin draai. Die skokke volg nou te vinnig op mekaar. Haar senuwees was reeds aan flarde toe sy hier aangekom het. Toe moes sy nog hoor dat sy ’n fortuinsoeker is. Daarna moes sy tot die ontdekking kom dat die waardevolle ring weg is. Dan moes sy hoor hierdie haatlike mansmens het daarvoor betaal, en nou, les bes, hoor sy dat haar “verloofde” ’n jong student is wat geheel en al afhanklik is van sy broer.
Maar Hein Albrecht is op die oomblik van minder belang. Al wat nou by haar spook, is dat sy ’n peperduur ring laat wegraak het en dat hierdie man dit nie daarby gaan laat nie. Waar gaan sy soveel geld kry om hom terug te betaal? Haar stem is hees en haar hande bewe merkbaar.
“Ek weet nie waar die ring is nie. Ek weet regtig nie.”
“Hoekom