Die skuilplek. Corrie ten Boom
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die skuilplek - Corrie ten Boom страница 12
Die dorpie Made én Willem se gemeente het onlangs baie gekrimp. Tog is die ou kerkgebou uit beter dae groot, en Willem en Tine se huis oorkant die straat heerlik ruim. In vergelyking met die Beje is dit reusagtig. Die eerste paar aande lyk die plafon vir my so hoog dat ek nie kan slaap nie. Ooms en tannies trek elke dag in, maar ongeag hoeveel mense daar instap, die vertrekke bly vir my leeg lyk.
Drie dae ná ons aankoms klop iemand aan die deur. Toe ek gaan oopmaak, staan Karel daar met spikkels steenkool van die treinreis nog op sy skouers. Hy gooi sy bruin reistas by my verby tot in die portaal, gryp my hand en trek my buitentoe tot in die Junie-sonskyn. “Dis ’n lieflike dag hier op die platteland, Corrie!” roep hy uit. “Kom ons gaan stap.”
Van toe af is dit vanselfsprekend dat ek en Karel elke dag gaan stap. Elke keer stap ons ’n bietjie verder af in die lane wat in elke rigting vanuit die dorpie tot in die veld kronkel. Die grond onder ons voete is so totaal anders as die steenstrate van Haarlem. Terwyl ons so stap, is dit eintlik onmoontlik om te glo dat die res van Europa in die bloedigste oorlog in die menslike geskiedenis gewikkel is. Die waansin het selfs na oorkant die oseaan uitgebrei. Die koerante sê Amerika gaan ook tot die oorlog toetree.
In die neutrale Holland volg die een sonnige Junie-dag op die ander. Net ’n paar mense, soos Willem, bly glo dat die oorlog ook vir Holland tragies is. Dit is dan ook die tema van sy eerste preek. Europa en die wêreld is besig om te verander, sê hy. Ongeag wie die oorlog wen, ’n leefwyse sal vir ewig verdwyn. Ek kyk rondom my na sy gemeente, die stoere dorpenaars en boere. Ek sien onmiddellik raak sulke idees staan hulle nie juis aan nie.
Ná die diens begin vriende en familie van ver huis toe vertrek. Maar Karel bly. Ons gaan stap al hoe verder en langer. Dikwels gesels ons oor Karel se toekoms, en skielik praat ons nie oor wat Karel gaan doen nie, maar oor wat óns gaan doen. In ons verbeelding het ons ’n groot, ou pastorie soos Willem-hulle s’n om mooi te maak. Ons is so bly toe ons ontdek ons hou van dieselfde soort meubels, blomme en selfs kleure. Net oor hoeveel kinders ons wil hê, verskil ons. Karel wil vier hê, en koppige ek wil ses hê.
Nie een keer sê een van ons die woord “troue” nie.
Toe Karel op ’n dag dorp toe is, kom Willem uit die kombuis met twee koppies koffie in sy hande. Tine is vlak agter hom met haar eie koppie.
“Corrie,” sê Willem terwyl hy my koffie vir my aangee, en ek kan hoor hy probeer hard om ongeërg te klink. “Het Karel jou laat glo hy…”
“… is ernstig?” voltooi Tine die sin vir hom.
Die haatlike blos wat ek nooit kan beheer nie slaan op my wange uit. “Ek… nee… ons… hoekom?”
Willem se gesig word ook rooi. “Omdat dit nooit sal kan gebeur nie, Corrie. Jy ken nie Karel se mense nie. Hulle begeer vir hom net een ding vandat hy klein was. Hulle het groot opofferings gemaak, daarvoor beplan, hulle lewe daarop gebou. Karel moet… ‘goed trou’. Soos hulle dit stel.”
Die groot leë sitkamer lyk skielik nog leër. “Maar wat wil Karel self hê? Hy is nie meer ’n kind nie,” wil ek weet.
Willem kyk na my met sy nugter oë. “Hy sal dit doen, Corrie. Ek sê nie hy wíl nie. Dis vir hom net nog ’n feit van die lewe, soos al die ander. Toe ons op universiteit gepraat het oor die meisies van wie ons hou, het hy altyd gesê: ‘Natuurlik sal ek nooit met haar kan trou nie. Dit sal my ma se dood beteken.’”
Die warm koffie verbrand my mond, maar ek wurg dit af en ontsnap tuin toe. Ek haat die somber ou huis. Ek haat byna vir Willem omdat hy altyd die donker, harde kant van die lewe sien. In die tuin is dit anders. Daar is nie ’n struik of ’n blom waarna ek en Karel nie saam gekyk het nie. Aan alles kleef nog die herinnerings van ons gevoel vir mekaar. Willem weet dalk meer as ek van godsdiens en oorlog en politiek, maar wanneer dit by liefde kom, en by dinge soos geld, sosiale aansien, families se verwagtings… Nee, in die liefdesverhale verdwyn dit net soos mis voor die son, elke keer…
Sowat ’n week later vertrek Karel uit Made. Sy afskeidswoorde aan my laat my voel of ek op die wolke sweef. Eers maande later sou ek onthou hoe vreemd hy hierdie woorde gesê het, die dringendheid, byna wanhoop, in sy stem.
Ons staan in die oprit van die pastorie en wag vir die kar en perd wat in Made steeds as die enigste betroubare vervoermiddel beskou word wanneer iemand ’n trein moet haal. Ons het net ná ontbyt reeds afskeid geneem. As ’n deel van my teleurgesteld is omdat hy my nog nie gevra het om met hom te trou nie, is ’n ander deel van my tevrede om nou net langs hom te staan.
Skielik gryp hy albei my hande vas, sommer daar in die oprit.
“Corrie, skryf vir my!” vra hy, maar nie vrolik nie. Pleitend eerder. “Vertel vir my van die Beje. Ek wil alles weet. Alles van daardie lelike, pragtige, verbrokkelende ou huis. Skryf vir my oor jou pa, Corrie. Vertel weer vir my hoe hy vergeet om sy rekenings uit te stuur. O Corrie, dis die gelukkigste huis in die hele Holland!”
So is dit inderdaad toe ek, Pappa, Mamma, Betsie, Nollie en tannie Anna almal terug is by die huis. Ons huis was nog altyd ’n gelukkige plek, maar nou gloei elke gebeurtenis, hoe klein ook al, omdat ek dit met Karel kan deel. Elke ete wat ek kook, is ’n offer aan hom. Elke blink kastrol ’n gedig, elke vee met die besem ’n daad van liefde.
Karel skryf nie so dikwels vir my soos ek vir hom nie. Maar ek skryf dit toe aan die baie werk wat hy het. Die predikant vir wie hy help, laat die huisbesoeke aan hom oor, skryf hy. Die gemeente is welgesteld en mense wat groot bydraes maak, verwag gereelde en uitgerekte besoeke van die leraars.
Mettertyd word sy briewe al hoe minder. Ek vergoed daarvoor met myne, en ek neurie my pad deur die somer en herfs oop. Een heerlike, skraal Novemberdag, toe die hele Holland saam met my sing, lui die deurklokkie. Ek is nog besig om die middagete se skottelgoed in die kombuis te was, maar ek vlieg deur die eetkamer en met die trap af voor die res van die gesin kan roer.
Ek pluk die deur op die stegie oop. Dis Karel.
En langs hom staan ’n jong meisie.
Sy kyk glimlaggend na my. Ek sien met een oogopslag die hoed met die wuiwende veer, die hermelynkragie, die hand in die wit handskoen wat op sy arm rus. Toe is dit of alles dof word. Want Karel sê: “Corrie, ontmoet my verloofde.”
Ek moet seker iets sê, besef ek. Ek moet hulle seker neem na tannie Jans se voorste kamer, wat ons nou as ’n sitkamer gebruik. Ek besef in ’n waas dat my gesin tot my redding kom. Hulle praat, skud hande, neem jasse, dra stoele aan, sodat ek nie iets hoef te doen of te sê nie. Mamma verbeter selfs haar koffiemaakrekord. Tannie Anna dra die koekies aan. Betsie praat met die jong meisie oor wintermodes. Pappa keer vir Karel in ’n hoek vas en peper hom met internasionale en persoonlike vrae. Wat dink hy van die nuus dat president Wilson Amerikaanse troepe na Frankryk stuur?
Op ’n manier sleep die halfuur tog verby. Wonder bo wonder kry ek dit reg om die meisie se hand te skud, om Karel se hand te skud en hulle ’n wonderlike toekoms toe te wens. Betsie sien hulle by deur af. Nog voordat die deur behoorlik agter hulle toe is, vlug ek met die trap op na my kamer toe. En die trane begin vloei.
Hoe lank ek op my bed gelê en huil het oor die enigste liefde van my lewe, weet ek nie. Later hoor ek Pappa se voetstappe met die trappe op kom. ’n Oomblik is ek weer ’n dogtertjie wat lê en wag dat hy my moet kom toemaak. Maar die seerkry wat ek nou ervaar, kan geen kombers van my af weghou nie. Skielik is ek bang