Die skuilplek. Corrie ten Boom
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die skuilplek - Corrie ten Boom страница 8
Net toe ek besluit hulle het my hierdie keer regtig heeltemal vergeet, kyk die groothandelaar op, sien my raak asof dit die heel eerste keer is en slaan met sy handpalm teen sy voorkop.
“’n Gas! ’n Gas binne my poorte en ek het haar geen verversing aangebied nie!” Hy spring op, vroetel rond onder rakke en in kaste en kort daarna hou ek op my skoot ’n bord met die heerlikste lekkernye in die wêreld vas – heuningkoekies, dadelkoekies en lekkers gemaak van neute, vrugte en suiker. Nagereg is maar skaars in die Beje, en taai lekkernye soos hierdie heeltemal onbekend.
Om vyf voor twaalf is ons terug op die stasie. Ons staan op ’n plek op die platform van waar ons die toring van die Vloot se observatorium duidelik kan sien. Heel bo-op die toring, waar dit duidelik deur al die skepe in die hawe gesien kan word, is ’n lang staaf met twee beweegbare arms. Elke dag presies om twaalfuur val die arms. Pappa staan op sy uitkykpunt op die platform, amper op sy tone van lekkerkry en noukeurigheid, met sy sakhorlosie, skryfboekie en potlood in die hand. Daar’s hy! Vier sekondes voor twaalf. Binne ’n uur is die astronomie-horlosie in die winkel in Haarlem akkuraat ingestel, tot op die sekonde.
Tydens die treinreis huis toe kyk ons nie meer by die venster uit nie. Ons gesels eerder – oor verskillende dinge namate die jare verbysnel. Betsie wat hoërskool voltooi ten spyte van al die maande wat sy weens haar siekte verloor het. Willem wat ’n beurs sal kry wanneer hy klaar is met skool, wat hom in staat sal stel om universiteit toe te gaan. Betsie wat in die winkel as Pappa se boekhouer begin werk.
Dikwels gebruik ek die reis huis toe om met Pappa te praat oor dinge wat my hinder, want enigiets wat ek by die huis vra, word onmiddellik deur die tannies beantwoord. Eendag, tot ek tien of elf jaar oud was, vra ek vir Pappa uit oor ’n gedig wat ons die vorige winter by die skool gelees het. Een reël het “’n jongman wie se gesig nie die skaduwee van sekssonde op gehad het nie” beskryf. Ek was gans te skaam om vir die onderwyseres te vra wat dit beteken. Toe ek vir Mamma daaroor uitvra, het sy net bloedrooi gebloos. In daardie dae, net ná die einde van die eeu, het niemand oor seks gepraat nie, nie eens by die huis nie.
Juis daarom het dié reël in my kop bly vassteek. Ek was doodseker “seks” verwys na die feit of jy ’n seun of ’n meisie is, en “sonde”, het ek geweet, maak vir tannie Jans bitter kwaad. Maar wat dié twee saam beteken, kon ek nie uitpluis nie. Terwyl ek langs Pappa in die kompartement sit, vra ek hom toe skielik: “Pappa, wat is sekssonde?”
Hy draai skuins om na my te kyk, soos altyd wanneer hy ’n vraag beantwoord. Maar tot my verbasing sê hy niks. Uiteindelik staan hy op, tel sy reistas van die rak bo ons koppe af en sit dit op die vloer neer.
“Sal jy dit van die trein af dra?” vra hy vir my.
Ek staan op en trek aan die tas. Dit is propvol horlosies en onderdele wat Pappa die oggend gekoop het.
“Dis te swaar,” sê ek.
“Ja,” sê hy. “En dit sal ’n patetiese pa wees wat sy dogter vra om so ’n swaar vrag te dra. Dit werk dieselfde met kennis, Corrie. Daar is kennis wat net te swaar is vir kinders. Wanneer jy ouer en sterker is, sal jy dit kan dra. Nou moet jy my eers vertrou om dit vír jou te dra.”
Ek is tevrede. Meer as tevrede. Wonderbaarlik rustig. Daar is ’n antwoord vir hierdie vraag, vir ál my moeilike vrae. Nou is ek eers tevrede om dit in my pa se sorg oor te laat.
In die aand is daar altyd geselskap en musiek by die Beje. Gaste bring hulle fluite of viole saam, en omdat elke lid van ons familie ’n instrument bespeel, maak ons nogal ’n oulike orkes rondom die regop klavier in tannie Jans se voorste kamer.
Die enigste aande wat ons nie self musiek maak nie, is wanneer daar ’n konsert in die dorp is. Ons kan nie die kaartjies bekostig nie, maar wanneer ons gaan staan by een van die sydeure wat na die verhoog lei, kan ons die klanke van binne duidelik hoor. Daar in die stegie buitekant die deur volg ons en tientalle ander musiekliefhebbers van Haarlem elke enkele noot. Mamma en Betsie is nie sterk genoeg om so lank te staan nie, maar die meeste van ons wat in die Beje woon, is daar, of dit nou reën of ryp of sneeu. Al kan ons die gehoor binne hoor vroetel en hoes, luister ons daar in die stegie so stil soos muise.
Die heel lekkerste is wanneer daar ’n konsert in die katedraal gehou word, want een van ons familielede is die koster daar. Net binnekant sy privaat ingang is daar ’n houtbank teen die muur. Daar sit ons dan, ons rûe yskoud teen die eeue oue muur, maar ons ore en harte word warm van die musiek.
Mozart self het op die groot goue orrel gespeel, en sommige note klink of hulle uit die hemel self neerdaal. Ek is seker die hemel moet soos Sint Bavo wees en waarskynlik net so groot. Die hel, weet ek, is ’n warm plek; dan moet die hemel wees soos dié koue, vogtige, heilige gebou waar rook soos wierook opstyg van die voetverwarmers van dié wat daarvoor kan betaal. In die hemel, glo ek vas, het almal voetverwarmers. Selfs in die somer bly die koue in die marmerblokke op die vloer onder ons voete vassteek. Maar wanneer die orrelis die klawers raak, merk ons dit skaars op – en wanneer hy Bach speel, glad nie.
Ek volg vir Mamma en Nollie met ’n donker, reguit trap op. Die spinnerakke kleef aan ons hare vas en muise skarrel voor ons weg. Die gebou staan minder as ’n blok van die Beje af en is waarskynlik ’n eeu jonger, maar hier woon nie ’n tannie Anna wat skrop en poets nie.
Ons besoek een van die arm gesinne in die buurt, een van die vele wat Mamma aangeneem het. Die gedagte kom nooit by enigeen van ons kinders op dat ons self arm is nie; “die armes” is mense na wie ons mandjies neem. Mamma is altyd besig om voedsame sop en pap te kook vir bejaarde mans wat in hierdie wêreld vergete is en vir bleek, jong ma’s – natuurlik net op dié dae dat sy self gesond genoeg voel om voor die stoof te staan.
Die vorige nag het ’n baba gesterf, en met die vars brood wat sy self gebak het, lê Mamma nou haar normale besoek by die gesin af.
Moeisaam swoeg sy met die relinglose trap op en gaan staan dikwels om asem te skep. Aan die bopunt van die trap lei ’n deur na ’n enkelkamertjie wat baie duidelik die rol van kombuis, eet- en slaapkamer vervul. Daar is reeds baie besoekers. Die meeste van hulle staan omdat daar nie genoeg stoele is nie. Mamma gaan dadelik na die jong ma toe, maar ek bly vasgenael in die deur staan. Net regs van die deur, so vreeslik stil in die tuisgemaakte wiegie, lê die baba.
Hoe vreemd dat ’n gemeenskap wat die feite oor seks so sorgvuldig vir kinders verberg, geen poging aanwend om hulle teen die dood te beskerm nie. Ek staar na die beweginglose lyfie en my hart klop met ’n vreemde ritme teen my ribbes. Nollie, altyd dapperder as ek, steek haar hand uit en raak aan die bleekwit wangetjie. Ek wil dit so graag doen, maar ek aarsel, te bang. Nuuskierigheid en vrees voer ’n stryd in my. Eindelik druk ek een vinger teen die toegevoude handjie.
Dit is koud.
Koud terwyl ons stadig terugstap Beje toe; koud terwyl ek voor aandete was; koud selfs in die snoesige, gasverligte eetkamer. Tussen my en elke bekende gesig om die tafel kruip daardie ysige vingertjies in. Al het tannie Jans al so dikwels daaroor gepraat, was dood vir my nog altyd maar net ’n woord. Nou weet ek dit kan werklik gebeur – nie net met ’n baba nie, maar ook met Pappa, Mamma en Betsie.
Steeds bewend van dáárdie koue, volg ek vir Nollie kamer toe en kruip langs haar in die bed. Eindelik hoor ons Pappa se voetstappe met die draaitrap op kom. Dit is die wonderlikste oomblik van elke dag – wanneer hy boontoe kom om ons lekker warm toe te maak.