Die skuilplek. Corrie ten Boom
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die skuilplek - Corrie ten Boom страница 6
Toe sy die deksel oplig, lê daar die fraaiste hoedjie wat ek nog ooit gesien het. Dit is van pels en het ’n blou satynlintjie om dit onder jou ken vas te bind.
“Ag, hoe pragtig!” Betsie tel die hoedjie eerbiedig op en hou dit in die skrefie lig wat sy pad oor die omringende dakke na die kamer oopgespook het. “Waar op aarde het jy…”
“Mev Van Dyver het dit vir my gegee.” Die Van Dyvers besit die hoedewinkel twee deure verder af in die straat. “Sy’t gesien hoe ek daarna kyk. Toe bring sy dit hierheen nadat tannie Jans daai een gekoop het,” sê Nollie en wys met haar vinger na iets bo-op die klerekas. ’n Bruin breërandkappie met ’n tros ligpers fluweelrose wat in elke opsig die stempel dra van die persoon wat dit gekies het.
Tannie Jans, Mamma se oudste suster, het by ons kom bly toe haar man oorlede is. Volgens haar wou sy “haar laaste paar dae” hier deurbring, al was sy toe nog maar net iets in die veertig.
Haar aankoms hier by ons het die lewe baie ingewikkeld gemaak. Ons huis was reeds oorvol omdat Mamma se ander twee susters, tannie Bep en tannie Anna, toe ook al by ons ingetrek het. Om alles te vererger het tannie Jans meubels met haar saamgebring, alles natuurlik gans te groot vir die Beje se kamertjies.
Tannie Jans het die twee kamers op die tweede verdieping, direk bokant die horlosiewinkel en die werkkamer, dadelik vir haar toegeëien. In die eerste kamer skryf sy die vurige Christelike traktaatjies waarvoor sy oor die hele Holland bekend is. In die tweede kamer ontvang sy op ’n gasvrye manier die welgestelde dames wat haar werk ondersteun. Tannie Jans glo ons toestand in die hiernamaals hang af van die hoeveelheid goeie dinge wat ons hier op aarde doen. Sy het net ’n bitter klein deeltjie van haar skryfkamer afgeskort vir ’n slaapkamer. Dit is net groot genoeg vir ’n bed. Die dood, sê sy dikwels, wag net vir die regte oomblik om haar van haar werk af weg te ruk. Daarom hou sy haar ure van rus so kort en prakties moontlik.
Ek kan nie die lewe in die Beje onthou voordat tannie Jans daar aangekom het nie. Ek kan nie onthou aan wie die twee kamers voorheen behoort het nie. Bokant daardie kamers is ’n smal solderkamer onder die steil, skuins dak van die eerste huis. Solank ek kan onthou, is dié ruimte al in vier piepklein kamers verdeel. Die eerste een wat oor Barteljorisstraat uitkyk – en die enigste een met ’n regte venster – is tannie Bep s’n. Agter haar kamer, ingeryg soos die spoorwegkompartemente langs ’n nou gangetjie, is tannie Anna, Betsie en ons broer Willem se kamers. Vyf trappies boontoe van die kamer af, in die tweede huis aan die agterkant, is my en Nollie se kamertjie, onder Mamma en Pappa se kamer. Onder hulle kamer is ook die eetkamer, met die kombuis soos ’n nagedagte aan die kant vasgeheg.
Al is tannie Jans se deel in die reeds vol huis merkwaardig groot, het dit nog nooit vir enigeen van ons so gelyk nie. Dit was die natuurlikste ding in die wêreld om vir tannie Jans plek te maak.
Die hele dag klip-klop en klingel die perdetrem by ons huis verby Grote Markt toe, die sentrale dorpsplein ’n halwe blok van ons af. Altans, dit is waar hy vir ander mense stilhou. As tannie Jans iewers heen wil gaan, gaan staan sy net presies voor die horlosiewinkel se deur op die sypaadjie. Wanneer die perde dreunend naderkom, steek sy net een vinger in die lug op. Dit voel altyd vir my dit sou makliker gewees het om die son in die lug te laat stilstaan as om die trem se stormloop na sy bestemde plek te stuit. Maar vir tannie Jans hou hy altyd stil. Die remme skreeu, die perde val byna oor mekaar en die drywer groet met sy vingers liggies teen sy hoë hoed wanneer tannie Jans met ’n swaai van haar rok op die trem klim.
Voor dié kommanderende oë moet Nollie nou met haar pelshoedjie verbystap. Tannie Jans koop die meeste van ons drie meisies se klere vandat sy by ons ingetrek het, maar teen ’n prys. Vir tannie Jans verteenwoordig die klere wat in die mode was toe sý jonk was die Skepper se finale woord oor kleredrag; alle veranderings wat daarna gekom het, is direk uit die duiwel se modeboek. Een van haar bekendste pamflette ontmasker die duiwel inderdaad as die uitvinder van die pofmou en die fietsryromp.
“Ek weet!” roep ek uit terwyl die knoophaak in Betsie se hand seepglad teen my skoen opbeweeg. “Jy kan die pelshoedjie netjies binne-in die groot hoed inpas. En wanneer jy buite kom, af met die groot hoed!”
“Corrie!” Nollie is werklik diep geskok. “Dis mos oneerlik!” Met ’n byna onheilspellende blik na die groot bruin hoed tel sy die pelshoedjie op en kies koers agter Betsie aan, met die trap af na die ontbyttafel toe.
Ek tel my hoed op, die verlepte een van die vorige jaar, en stap sleepvoet agter hulle aan, my hand gelate op die reling. Laat tannie Jans dan maar die verspotte hoedjie sien. Ek gee nie om nie. Ek kon nog nooit al die bohaai oor klere verstaan nie.
Wat ek wel goed verstaan, en wat ontstellend is, is dat ek vandag vir die eerste keer skool toe gaan. Om die ou huis bokant die horlosiewinkel te verlaat, om Mamma en Pappa en my tannies daar te los, om eintlik alles wat bekend en dierbaar is daar te los… Ek gryp die reling so styf vas dat my handpalm ’n piepgeluid maak toe ek die draai vat. Die laerskool is net ’n blok en ’n half van ons huis af, en Nollie is nou al twee jaar daar sonder enige probleme. Maar Nollie is heeltemal anders as ek; sy is mooi en soet en het altyd ’n sakdoek by haar.
Net toe ek om die laaste draai loop, skiet die oplossing my eensklaps te binne. Dis so eenvoudig dat ek hardop begin lag. Ek sal net nie skool toe gaan nie! Ek gaan net hier bly en vir tannie Anna help kos kook. Mamma sal my help lees en ek sal nooit na daardie snaakse, lelike ou gebou toe hoef te gaan nie. Verligting en vertroosting vloei deur my. Met een enkele sprong is ek by die laaste drie trappies af.
“Sjuut!” Betsie en Nollie wag vir my buite die eetkamerdeur. “In hemelsnaam, Corrie, moenie iets doen om tannie Jans kwaad te maak nie,” smeek Betsie. “Ek is seker,” sê sy met die twyfel duidelik in haar stem, “dat Pappa en Mamma en tannie Anna van Nollie se hoed sal hou.”
“Tannie Bep sal nie,” sê ek.
“Sy hou nooit van iets nie,” sê Nollie. “So sy tel nie.”
Tannie Bep met haar ewig afkeurende, misnoegde gesig is die oudste van ons tannies, en die een van wie ons die minste hou. Sy het dertig jaar lank as goewernante by ryk gesinne gewerk, en sy vergelyk gedurig ons gedrag met dié van die jong meisies en seuns aan wie sy skynbaar gewoond was.
Betsie wys na die Friesland-horlosie teen die muur by die trap. Met ’n vinger op haar lippe maak sy dan die eetkamerdeur saggies oop. Dit is twaalf minute oor agt: ontbyt het reeds begin.
“Twee minute laat!” roep Willem triomfantelik uit.
“Die Waller-kinders was nooit laat nie,” sê tannie Bep.
“Maar hulle is hier!” sê Pappa. “En die vertrek is sommer vol sonskyn.”
Ons drie hoor skaars sy woorde, want… tannie Jans se stoel is leeg.
“Bly tannie Jans vandag in die bed?” vra Betsie hoopvol toe ons ons hoede aan die kapstok hang.
“Sy is besig om vir haar ’n tonikum in die kombuis aan te maak,” antwoord Mamma. Sy leun vorentoe om koffie te skink en praat dan sagter. “Ons almal moet vandag meer bedagsaam as ooit teenoor tannie Jans wees. Dit is die dag waarop haar man se broer ’n paar jaar gelede gesterf het. Of was dit sy neef?”
“Ek verbeel my dit was sy tannie,” sê tannie Anna.
“Dit was ’n neef… en dit was ’n verlossing,” sê tannie Bep.