Die skuilplek. Corrie ten Boom
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die skuilplek - Corrie ten Boom страница 9
Maar vanaand, toe hy by die deur instap, bars ek in trane uit. “Ek het Pappa nodig,” snik ek. “Pappa mag nie doodgaan nie. Pappa mag nie.”
Langs my op die bed sit Nollie dadelik regop. “Ons was vandag by mev Hoog,” verduidelik sy. “En Corrie het vanaand niks geëet nie.”
Pappa gaan sit op die rand van die smal bedjie. “Corrie,” sê hy vol deernis, “as ek en jy Amsterdam toe gaan, wanneer gee ek vir jou jou kaartjie?”
Ek snuif ’n paar keer terwyl ek oor die vraag dink.
“Net voordat ons op die trein klim.”
“Presies. Net so weet ons wyse Vader in die hemel wanneer ons dinge nodig het. Moet Hom nie vooruit hardloop nie, Corrie. Wanneer die tyd kom dat party van ons moet sterf, sal jy in jou hart inkyk en jy sal die krag wat jy nodig het daar vind – betyds.”
3
Karel
Toe ek veertien is, ontmoet ek die eerste keer vir Karel, by een van die “geleenthede” waarvoor Mamma so bekend was. Vandag kan ek nie onthou of dit ’n verjaarsdag, ’n huweliksherdenking of ’n nuwe baba was nie – Mamma kon ’n partytjie van enigiets maak.
Willem stel vir Karel aan ons voor as ’n vriend uit Leiden, en hy groet ons elkeen met die hand. Toe ek sy sterk, slanke hand in myne neem en diep in sy bruin oë kyk, raak ek onherroeplik verlief.
Die oomblik toe almal hulle koffie het, gaan ek sit om net na hom te kyk en te kyk. Hy is skynbaar onbewus van my, maar dit is heeltemal natuurlik. Ek is immers net veertien jaar oud. Hy en Willem is reeds universiteitstudente met ruie baarde. Die blou sigaarwolke bol tussen hulle terwyl hulle gesels.
Dit is vir my heeltemal genoeg om maar net in dieselfde kamer as Karel te wees. Om nie raakgesien te word nie, wel, daaraan is ek gewoond. Nollie is die een vir wie die seuns raaksien, maar soos die meeste mooi meisies gee sy nie eintlik om nie. Wanneer ’n seun haar vir ’n haarlok vra – die gewone manier om jou liefde te verklaar – trek sy sommer ’n paar drade uit die stokou vaal tapyt in ons slaapkamer, bind hulle met ’n sentimentele blou lintjie vas en maak my die boodskapper. Die tapyt is nou al vol kaal kolle en die skool vol gebroke harte.
Ek, weer, raak om die beurt op elke seun in my klas verlief. Dis al ’n soort hopelose, gereelde ritme. Omdat ek nie mooi is nie en te skaam is om te sê hoe ek voel, word ’n hele geslag seuns groot, totaal onbewus van die meisie in bank nommer twee en dertig.
Maar Karel, dink ek en hou hom dop terwyl hy suiker in sy koffie gooi, Karel is ’n ander saak. Vir Karel sal ek vir ewig liefhê.
Twee jaar gaan verby voordat ek hom weer sien…
In die winter van 1908 reis ek en Nollie Leiden toe om by Willem te gaan kuier. Sy yl gemeubileerde kamer is op die vierde verdieping van ’n privaat huis. Toe ons daar instap, gryp hy vir my en Nollie sommer so saam in ’n kragtige omhelsing vas. Dan trek hy ons na die venster toe.
“Hier,” sê hy en haal ’n roomkoekie van die vensterbank af waar hy dit neergesit het om koud te bly. “Ek het dit vir julle gekoop. Eet dit gou-gou, voor my uitgehongerde vriende hier aankom.”
Ons sit op die rand van Willem se bed en verslind die kosbare koek. Ek vermoed dat Willem sonder middagete moes klaarkom om dié stukkie bederf vir ons te kon koop. ’n Oomblik later vlieg die deur oop en vier van sy vriende bars in – lang jong mans met diep stemme, geklee in jasse met die krae al twee maal omgedraai en die moue verslete. Een van hulle is Karel.
Ek sluk die laaste stukkie koek af, vee my hande aan die agterkant van my romp af en staan op. Willem stel vir my en Nollie aan die besoekers voor, maar toe hy by Karel kom, val hy vir Willem in die rede.
“Ons ken mekaar reeds.” Hy maak ’n buiginkie.
“Onthou jy? Ons het mekaar tydens ’n partytjie by julle huis ontmoet.” Ek kyk van Karel na Nollie, maar nee, hy kyk reguit na my. My hart wil jubelend antwoord, maar my mond is nog vol van die taai oorblyfsels van die roomkoek en die antwoord bereik nie my lippe nie. Gou sit die jong mans by ons voete op die vloer, almal hard en gelyktydig aan die praat.
Nollie sit langs my op die bed en gesels saam asof ’n besoek aan ’n universiteit vir ons ’n alledaagse gebeurtenis is. Vir haar is dit natuurlik glad nie moeilik nie. Op agttien dra sy reeds lang rokke terwyl ek nou pynlik bewus is van my dik swart skoolkouse, die hele vyftien sentimeter daarvan tussen my rok en my skoene.
Buitendien is daar baie dinge waaroor Nollie kan praat. Sy is verlede jaar al kollege toe. Sy wil nie regtig ’n onderwyseres word nie, maar die universiteite ken nie studiebeurse aan meisies toe nie, en die kolleges is nie so duur nie. Sy gesels so gemaklik en vlot oor die dinge waarin studente belangstel – die nuwe relatiwiteitsteorie van ene Einstein, en die vraag of admiraal Peary werklik die Noordpool sal bereik.
“En jy, Corrie? Gaan jy ook ’n onderwyseres word?” Van waar hy op die vloer by my voete sit, glimlag Karel vir my. Ek voel hoe die bloed warm onder my hoë kraag opstoot.
“Volgende jaar, bedoel ek,” voeg hy by. “Dit is mos jou laaste jaar op skool, nie waar nie?”
“Ja. Ek bedoel, nee. Ek gaan by die huis bly, saam met Mamma en tannie Anna.”
Dit klink so kortaf en so saai. Hoekom sê ek so min as ek so baie wil sê?
In die lente maak ek klaar met skool en neem die huishouding oor. Dit was nog altyd die plan, maar nou is daar ’n bykomstige rede. Tannie Bep ly aan tuberkulose. ’n Ongeneeslike siekte. Die enigste bekende behandeling daarvoor is rus in ’n sanatorium, en dít is slegs vir die rykes beskore. Tannie Bep lê daarom maar maande lank in haar kamertjie en hoes haar lewe weg.
Om te keer dat ons almal aansteek, gaan net tannie Anna by tannie Bep se kamer in. Dag en nag verpleeg sy haar suster en baie nagte kry sy geen slaap in nie. Daarom neem ek die hele huishouding oor. Ek hou van die werk. As dit nie vir tannie Bep se siekte was nie, sou ek heeltemal gelukkig gewees het. Maar oor alles lê haar skaduwee – nie net die skaduwee van die siekte nie, maar ook die skaduwee van haar hele onvergenoegde en teleurstellende lewe.
Dikwels wanneer ek vir tannie Anna ’n skinkbord by die deur aangee of een by haar neem, val my blik vlugtig op die siekekamer. Al wat daar is, is die enkele patetiese aandenkings van ’n lewe waarvan sy dertig jaar in ander mense se huise deurgebring het. Parfuumbottels – baie jare al leeg – want goed opgevoede gesinne gee altyd vir die goewernante parfuum as ’n Kersgeskenk. Etlike verdofde sketse van kinders wat teen hierdie tyd reeds hulle eie kinders en selfs kleinkinders moet hê. Maar dan gaan die deur toe. Telkens bly draal ek in die nou gangetjie onder die dakrand, smagtend om iets te sê, om iets te genees, om haar meer lief te hê.
Ek praat ’n keer met Mamma oor my gevoelens. Ook sy word al hoe meer bedlêend. In die verlede, wanneer die pyn van die galstene te erg geword het, het sy altyd ’n operasie ondergaan. ’n Ligte beroerte ná die laaste operasie het egter enige verdere operasies onmoontlik gemaak. Baie dae wanneer ek vir tannie Bep ’n skinkbord met kos voorberei, dra ek ook vir Mamma ’n skinkbord vol eetgoed na haar kamer.
Toe ek vandag haar middagete vir haar neem, is sy besig om briewe te skryf. Wanneer Mamma nie die buurt se mense van musse en babarokkies voorsien nie, skryf sy opbeurende boodskappe vir die ingehoktes oor die lengte en breedte van Haarlem. Die gedagte dat sy self ’n groot gedeelte van haar lewe ingehok