Die skuilplek. Corrie ten Boom
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die skuilplek - Corrie ten Boom страница 10
Ek kyk by Mamma se enigste venster uit na die baksteenmuur een meter van die venster af. “Mamma,” sê ek toe ek die skinkbord op haar bed neersit en langs haar gaan sit, “kan ons nie iets vir tannie Bep doen nie? Ek bedoel, is dit nie hartseer dat sy haar laaste dae moet deurbring op die plek wat sy juis so haat nie? Hoekom kan sy nie liewer by die Wallers gaan woon nie, of op een van die ander plekke waar sy so gelukkig was?”
Mamma sit haar pen neer en kyk na my. “Corrie,” sê sy ná ’n rukkie, “Bep is hier by ons net so gelukkig as op enige ander plek, nie meer nie en nie minder nie.”
Ek staar haar onbegrypend aan.
“Weet jy wanneer sy die Wallers so vreeslik begin prys het?” vra Mamma. “Die dag toe sy by hulle weg is. Terwyl sy by hulle was, het sy steen en been gekla. ’n Mens kan die Wallers nie vergelyk met die Van Hooks waar sy vroeër was nie. Maar by die Van Hooks was sy inderdaad ongelukkig. Geluk hang nie van ons omgewing af nie, Corrie. Dis iets wat ons binne-in onsself maak.”
Tannie Bep se dood laat haar susters op die kenmerkende manier reageer. Mamma en tannie Anna kook dubbel soveel en doen al hoe meer naaldwerk vir die buurt se behoeftiges, asof hulle besef hoe kortstondig ’n mens se lewe van diens werklik is. Tannie Jans se besondere spookbeeld beweeg al hoe nader aan haar. “My eie suster,” sê sy elke nou en dan in die dag. “Sowaar, dit kon so maklik ek gewees het.”
’n Jaar of wat ná tannie Bep se dood neem ’n nuwe dokter dr Blinker se huisbesoeke oor. Die nuwe dokter se naam is Jan van Veen, en sy suster, wat ook sy verpleegster is, is Tine van Veen. Saam met hom bring hy ook ’n nuwe toestel om bloeddruk te meet. Ons het geen benul wat dit beteken nie, maar elke lid van die huisgesin laat toe dat die strook materiaal om ons boarm gedraai en vol lug gepomp word.
Tannie Jans, wat ’n groot liefde vir enige soort mediese hulpmiddels het, is geweldig ingenome met die nuwe dokter. Sy raadpleeg hom dan ook so dikwels as wat haar geldjies dit toelaat. So kom dit dat dr Van Veen ’n paar jaar later ontdek tannie Jans ly aan suikersiekte.
In daardie tyd is diabetes ’n doodsvonnis, net so seker soos tuberkulose. Dae lank is ons as gesin verlam van die skok. Ná soveel jare waarin die blote gedagte ons met vrees vervul het, is dié siekte met sy verskrikking nou tussen ons. Toe tannie Jans die nuus kry, gaan sy reguit bed toe.
Ledigheid is egter nie in pas met haar energieke persoonlikheid nie. Een oggend verskyn sy, tot almal se verbasing, stiptelik om tien oor agt in die eetkamer vir ontbyt. Sy sê vir ons dat dokters dikwels verkeerd is. “Al hierdie buisies en toetse,” sê tannie Jans wat nog altyd onvoorwaardelik daaraan geglo het, “wat bewys dit nou eintlik?”
Van toe af wy sy haar energie nog meer aan haar skryfwerk en toesprake. Sy stig nog klubs en begin met allerhande nuwe projekte.
Soos die res van Europa, mobiliseer Holland in 1914 vir die oorlog. Skielik is die strate van Haarlem vol jong manne in uniforms. Vanuit haar venster hou tannie Jans hulle dop terwyl hulle doelloos in die straat af slenter en verveeld by die winkelvensters inloer. Die meeste van hulle is jonk, sonder geld en eensaam. Dadelik tref die idee van ’n soldatesentrum haar. Nogal ’n radikale idee vir daardie tyd, maar tannie Jans pak dit hartstogtelik aan. Net dié van ons wat haar die beste ken, weet van die verskriklike vrees wat haar dryf.
Intussen bring tannie Jans se siekte ook geldelike probleme. Elke week moet die suikerinhoud van haar bloed getoets word. Omdat dit ’n ingewikkelde en duur proses is, moet óf dr Van Veen óf sy suster na ons huis toe kom om die toets te doen.
Uiteindelik leer Tine my om self die toets te doen. Dit bestaan uit verskeie stappe. Die belangrikste stap is om die finale mengsel tot presies die regte temperatuur te verhit. Dit is maar moeilik om akkuraat te werk op die ou steenkoolstoof in ons donker kombuis, maar uiteindelik leer ek tog hoe. Elke Vrydag meng ek die chemikalieë en doen self die toets. As die mengsel helder bly, is alles reg. As dit swart word, moet ek vir dr Van Veen laat weet.
In die lente van daardie jaar kom Willem vir sy laaste vakansie voor sy ordening as predikant huis toe. Hy het twee jaar vroeër al sy universiteitsgraad behaal en is nou in sy laaste maande by die kweekskool.
Een warm aand tydens sy besoek sit ons almal om die eetkamertafel. Pappa sit met dertig horlosies voor hom uitgestal en skryf in sy noukeurige en netjiese handskrif “twee sekondes verloor” of “vyf sekondes gewen” by elkeen neer terwyl Willem hardop uit die geskiedenis van die Nederlandse Hervorming voorlees.
Skielik lui die klokkie in die steeg. Buite die eetkamervenster is daar ’n spieël wat op die deur in die laan afkyk sodat ons kan sien wie die besoeker is voordat ons ondertoe loop om oop te maak. Ek kyk in die spieël en spring van die tafel af op.
“Corrie!” sê Betsie berispend. “Jou romp!”
Ek kan maar net nie onthou dat ek ook nou lang rokke dra nie. Arme Betsie offer so baie aande op om al die skeurplekkies heel te maak. Ek spring sommer vyf trappies op ’n slag tot onder, want voor die deur, met ’n ruiker affodille in haar hand, staan Tine van Veen. Of dit nou die sagte lenteaand is wat my die gedagte gee en of dit Willem se dramatiese preekstoelstem is, weet ek nie. Ek weet net skielik die ontmoeting tussen hierdie twee jongmense sal ’n baie besonderse oomblik wees.
“Vir jou ma, Corrie,” sê Tine en hou die blomme na my toe uit. “Ek hoop sy is…”
“Nee, nee, dra jy die blomme. Jy lyk so lieflik met hulle in jou hande.”
Sonder om haar jas te vat, stoot ek die halfverskrikte meisie voor my met die trap op. Ek druk haar by die eetkamerdeur in terwyl ek amper op haar hakke trap om Willem se reaksie te kan sien. Ek weet presies wat gaan gebeur. Ek leef immers my lewe in die romantiese verhale wat ek by die biblioteek uitneem en in Engels, Nederlands en Duits lees. Dikwels lees ek dié waarvan ek baie hou sommer in al drie die tale. In my verbeelding tower ek die toneel op waar die held die heldin mekaar ontmoet, en ek laat dit duisende kere in my gedagtes afgespeel.
Willem staan stadig op. Sy oë bly stip op Tine gerig. Ook Pappa staan op. “Juffrou Van Veen,” sê Pappa op sy ouderwetse manier, “laat ek u voorstel aan ons seun, Willem. Willem, dis nou die jong dame van wie se bekwaamheid en goedhartigheid jy ons al so dikwels hoor praat het.”
Ek twyfel of een van die twee Pappa se woorde hoor. Hulle staar in mekaar se oë asof daar geen ander mens in die vertrek of in die hele wye wêreld is nie.
Willem en Tine trou twee maande ná sy ordening. In al die weke terwyl ons vir die troue voorberei, steek één gedagte by my vas: Karel gaan daar wees.
Die troudag breek koel en helder aan. My oë vind dadelik vir Karel in die skare voor die kerk. Hy dra ’n manel en keil soos al die ander mans, maar hy is verreweg die aantreklikste.
Vir my voel dit of ek ’n radikale verandering ondergaan het sedert ek hom laas gesien het. Die verskil tussen my een en twintig jare en sy ses en twintig is nou nie meer so groot soos vroeër nie. Meer nog, ek voel… Nee, nie mooi nie. Selfs op so ’n romantiese dag kan ek myself nie oortuig ek is mooi nie. Ek weet my ken is te vierkantig, my bene te lank, my hande te groot. Maar ek glo werklik – en al die boeke stem daaroor saam – ek sal mooi wees vir die man wat my liefhet.
Betsie het die oggend my hare gedoen, ’n moeilike taak wat ’n uur met die krulyster geverg het. Dit is hoog op my kop opgestapel, en wonder bo wonder hou dit nog. Betsie het ook my syrok gemaak, net soos sy vir elke vrou in die gesin in die aand by lamplig ’n rok gemaak het. Sy moes maar in die aand werk, want die winkel is ses dae per week oop en op Sondae mag sy nie naaldwerk doen nie.