Die skuilplek. Corrie ten Boom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die skuilplek - Corrie ten Boom страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Die skuilplek - Corrie ten Boom

Скачать книгу

nog maar vieruur begin die winkelligte in die Januarie-skemer brand. Ek het nog heelwat kleinsus-aanbidding vir my ouboet, wat vyf jaar ouer is as ek. Hy is ’n geordende predikant en die enigste Ten Boom wat ooit op universiteit was. Willem sien baie dinge raak, glo ek. Hy weet wat in die wêreld aangaan.

      Eintlik wens ek dikwels Willem kan dinge nie altyd so helder sien nie, want baie van wat hy sien, maak my bang. ’n Volle tien jare gelede, reeds in 1927, het Willem in sy doktorale proefskrif, wat hy in Duitsland geskryf het, beweer dat ’n afgryslike euwel besig is om in daardie land wortel te skiet. Daar by die universiteit self word die saad gesaai vir ’n minagting van menselewens soos die wêreld nog nooit gesien het nie. Die enkeles wat sy proefskrif gelees het, het net gelag.

      Maar nou lag niemand meer vir Duitsland nie. Die meeste goeie horlosies kom van daar. ’n Hele paar firmas met wie ons al jare lank sake doen, het feitlik oornag en baie geheimsinnig verdwyn. Willem meen dit is deel van ’n doelbewuste, grootskaalse optrede teen die Jode. Elke firma wat verdwyn het, het immers aan Jode behoort. As die hoof van die Nederduitsch Hervormde Kerk se program om die Jode te bereik, bly Willem op hoogte van al hierdie dinge.

      Liewe Willem, dink ek toe ek by die huis instap en die deur toestoot. Hy is net so ’n goeie “verkoopsman” van die kerk as wat Pappa van sy horlosies is. As hy een enkele Jood in twintig jaar tot bekering gebring het, het ek beslis nie daarvan gehoor nie. Willem probeer nie mense verander nie; hy bedien hulle net. Hy het genoeg geld gespaar om ’n tehuis vir bejaarde Jode in Hilversum te bou – eintlik vir bejaardes van alle gelowe, want Willem is teen enige skeidsmure tussen mense.

      Die afgelope paar maande is die tehuis egter oorstroom deur jonger inwoners – almal Jode, en almal uit Duitsland. Willem en sy gesin het al selfs hulle eie woonruimte prysgegee en slaap in ’n gang om almal te kan huisves. Steeds droog die stroom verskrikte, daklose vreemdelinge nie op nie… en saam met hulle kom stories van ’n groeiende waansin.

      Ek stap op kombuis toe waar Nollie so pas ’n vars pot koffie gemaak het. Ek neem dit en dra dit na tannie Jans se kamers toe.

      “Wat wil hy hê?” vra ek vir ’n groep mans wat om die koektafel kom saamdrom toe ek die pot koffie neersit. “Hierdie man van Duitsland, wil hy oorlog maak?” Ek weet dis nie eintlik partytjiepraatjies nie, maar op die een of ander manier dwing my gedagtes aan Willem my altyd om oor “moeilike onderwerpe” te praat.

      ’n Ysige stilte sak om die tafel neer en versprei vinnig deur die vertrek.

      “Wat maak dit saak?” verbreek ’n stem skielik die stilte. “Laat die groot lande dit uitbaklei. Dit sal ons nie raak nie.”

      “Dis waar,” sê ’n horlosieverkoopsman. “Die Duitsers het ons in die Groot Oorlog met rus gelaat. Dis tot hulle voordeel dat ons neutraal bly.”

      “Jy kan maklik praat,” roep ’n man van wie ons altyd horlosie-onderdele koop. “Jou voorraad kom uit Switserland. Wat van ons? Wat maak ek as Duitsland oorlog verklaar? ’n Oorlog kan my hele onderneming kelder.”

      Net toe stap Willem by die vertrek in, gevolg deur Tine, sy vrou, en hulle vier kinders. Alle oë is egter vasgenael op die figuur wie se arm Willem stewig vashou.

      Die man is ’n Jood in sy vroeë dertigerjare. Hy dra die tipiese swart breërandhoed en lang swart jas. Wat egter almal se oë gevange hou, is die man se gesig.

      Hy het gruwelik verbrand. Voor sy regteroor hang ’n kroeserige grys krulletjie, soos die hare van ’n stokou man. Die res van sy baard is heeltemal weg; net ’n groot rou seer het oorgebly.

      “Herr Gutlieber,” kondig Willem in Duits aan. “Hy het net vanoggend in Hilversum aangekom. Herr Gutlieber, ontmoet my pa.”

      “Hy is in Duitsland op ’n melkwa uit,” vertel Willem in Nederlands. “Hulle het hom op ’n straathoek voorgekeer – tienerseuns van München – en sy baard aan die brand gesteek.”

      Pappa staan uit sy stoel op en skud die vreemdeling se hand verwelkomend. Ek bring vir hom ’n koppie koffie en ’n bord met Nollie se koekies. Hoe dankbaar is ek nou dat Pappa aangedring het dat sy kinders Duits en Engels byna net so gou en net so goed soos Nederlands moes leer praat.

      Herr Gutlieber gaan sit met stokkerige bewegings op die rand van sy stoel en hou sy oë op die koppie op sy skoot gerig. Ek trek ’n stoel tot langs hom en praat ’n bietjie onnodige onsin oor die ongewone weer wat ons in Januarie beleef. Rondom ons begin die mense weer gesels en die gegons van stemme styg en daal.

      “Bullebakke!” hoor ek die horlosieverkoopsman sê. “Gespuis! Dit gaan in elke land so. Die polisie sal hulle nog kry. Julle sal sien. Duitsland is ’n beskaafde land.”

      Só val die skaduwee oor ons op daardie wintermiddag van 1937, maar dit rus liggies op ons. Niemand vermoed eens dat hierdie wolkie so groot sou groei dat dit die hele lug sou verdonker nie, dat ons elkeen opgeroep sou word om in daardie duisternis ’n rol te speel nie: ek, Pappa en Betsie; mnr Kan en Willem; selfs die koddige ou Beje met sy vloere op ongelyke vlakke en sy horingoue hoeke.

      Toe die laaste gaste vertrek het, klim ek met die trap op na my kamer toe. My gedagtes bly dwaal na die verlede. Op my bed lê die maroen rok. Ek het skoon vergeet om dit weer aan te trek. Ek het nog nooit juis omgegee vir mooi aantrek nie, dink ek. Selfs toe ek jonk was…

      Tonele uit my kinderdae verrys voor my, eienaardig naby en dringend. Vandag weet ek sulke herinnerings is die sleutel tot die toekoms, nie tot die verlede nie. Ek weet die ervarings van ons lewe, as ons God toelaat om dit te gebruik, word die geheimsinnige en perfekte voorbereiding vir die taak wat Hy vir ons gee om uit te voer.

      Daardie aand het ek dit egter nie geweet nie, ook nie dat daar ’n nuwe toekoms was waarvoor ek voorberei moes word in ’n lewe so alledaags en voorspelbaar soos myne nie. Toe ek in my bed lê, daar bo in die huis, het ek net geweet dat sekere oomblikke van lank gelede vir my helder uitgestaan het teen die dowwe herinnerings aan vergange jare. Eienaardig skerp en naby was hierdie oomblikke, asof hulle nog nie voltooi was nie, asof hulle nog iets gehad het om te sê…

      2

      Almal bymekaar

      Dit is 1898. Ek is ses jaar oud. Betsie laat my voor die spieël teen die hangkas staan en lees my die leviete voor.

      “Kyk net hoe lyk jou skoene! Elke tweede knoop is los. En hoe kan jy daardie flenterkouse op jou heel eerste skooldag dra? Kyk net hoe mooi lyk Nollie.”

      Ek en Nollie slaap saam in die kamer bo in die Beje. Ek kyk na my suster wat agt jaar oud is. En sowaar! Haar skoene se knope is netjies vasgemaak. Traag trek ek my skoene uit terwyl Betsie in die klerekas rondkrap.

      Op dertien is Betsie al vir my ’n grootmens. Sy lyk natuurlik altyd ouer as wat sy regtig is, want sy kan nie hardloop en rowwe speletjies speel soos die ander kinders nie. Betsie is met skadelike bloedarmoede gebore. Terwyl ons ander aan-aan of met hoepels speel of in die winter skaatsresies op die bevrore kanale hou, sit Betsie en doen vervelige grootmensdinge soos om te borduur. Nollie speel natuurlik net so geesdriftig saam soos al die ander kinders en sy is nie veel ouer as ek nie. Dis hoekom dit vir my net te onregverdig is dat sy altyd alles reg doen.

      “Betsie,” sê Nollie skielik ernstig, “ek gaan nié daardie groot, lelike hoed skool toe dra net omdat tannie Jans dit gekoop het nie. Verlede jaar het sy so ’n lelike gryse gekoop en hierdie jaar s’n is nóg leliker.”

      Betsie kyk simpatiek na haar. “Maar jy kan nie sonder ’n hoed skool toe gaan nie.

Скачать книгу