Ettie Bierman Keur 10. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 10 - Ettie Bierman страница 17
“Ek kon hulle maar net sowel op die solder gelos het, Tante. Al staan hulle op die rakke, sal hier tog nie mense kom om die boeke te leen nie. Ek dink ons moet al daardie koek maar dorp toe neem en aan ’n weeshuis of ’n koshuis skenk, dan mors dit nie. Al Tante se harde werk …” Warm trane begin oor Hennie se wange loop en sy doen nie eers die moeite om na ’n sakdoek te soek nie. Sy wonder ook nie meer oor die motor wat oupa Drik nie gehad het nie, maar wat weggesleep en deur Carl Meiring verkoop is. Sy is te hartseer om haar oor iets in die verlede te bekommer. Dis die hede wat saak maak, die mense wat nie gaan kom om by Sesdorings boeke uit te neem nie … Die biblioteek wat ’n mislukking is …
“Hallo, daar!” roep Donnie se stem. “Moet ek in die tou staan, of kan ek maar binnestap?”
“Hier is nie ’n tou nie, Donnie,” antwoord Hennie stil.
Donnie stap binne. Hy lyk verbaas oor die trane en terneergedrukte atmosfeer. “Is die mense almal al weg?”
“Hier was geen mense nie, Donnie.”
Tant Lettie hou nie van Don Meiring nie. Sy kan dit nie verstaan dat Hennie so vriendelik teenoor hom is nie. Dis egter nie haar plig om haar nuwe werkgeefster daaroor te kapittel nie. Hennie het blykbaar besluit dit was haar oupa se oorlog, nie hare nie, daarom kan sy met Don Meiring vriende wees.
“Verskoon my,” sê tant Lettie styf. “Ek gaan kombuis toe.”
“Wat het oor die ou vrou se lewer geloop?” wil Donnie weet.
“Sy voel omgekrap omdat sy al daardie koek gebak het en niemand opgedaag het om dit te eet nie.”
“Niemand nie? Ek het verwag hier gaan ’n lang tou mense en ’n stormloop wees. Ek het juis gekom om hulp aan te bied.”
“Die mense het van Sesdoringsbiblioteek vergeet, Donnie.”
“Die advertensie in die koerant en die bord by die nasionale pad sou hulle herinner het.”
“Dit het blykbaar nie.”
“Ek wonder of daardie dekselse mense dalk vergeet het om die advertensie te plaas. Het jy nie dalk ’n kopie van die Herald nie?”
“Ongelukkig nie.”
Donnie voel innerlik verlig, hoewel hy uiters versigtig is dat niks van sy gedagtes op sy gesig leesbaar is nie.
“Ek sweer daar het ’n misverstand ingesluip, Hennie. Die mense het óf nie jou advertensie geplaas nie, óf ’n gemors daarvan gemaak. Sal ek hulle skakel en uitvind wat gebeur het?”
“As jy wil,” sê Hennie lusteloos.
Donnie is binne vyf minute terug, erg ontstoke. Hy slaan met sy vuis op die toonbank en moet homself eers kalmeer voor hy in staat is om vir Hennie te vertel wat hy so pas uitgevind het.
6
“Hoe kon so ’n fout ingesluip het?” Hennie se stem is verslae en sy is skielik weer baie na aan trane.
Donnie se antwoord is grimmig. “Ek weet nie. Maar ek gaan uitvind.”
“Dis mos ’n verskriklike misverstand. Dis net die teenoorgestelde van die advertensie wat hulle moes plaas. Hoe kon die koerant so ’n flater begaan het? Om te sê dat Sesdoringsbiblioteek permanent gesluit is … Geen wonder hier het nie mense opgedaag om boeke uit te neem nie.”
“Dis weer een of ander simpel klerk wat nie sy werk kan doen nie, wat net met ’n halwe oor geluister het toe ek die bewoording van die advertensie verstrek het.”
“Maar daar is tog ’n hemelsbreë verskil tussen: ‘Groot Openingsdag van Sesdoringsbiblioteek’ en ‘Sesdoringsbiblioteek is permanent gesluit en sal nie weer open nie’. Hoe kon die klerk ons so verkeerd verstaan het?”
“Dit gaan my verstand ook te bowe. Ek is lus en ry nou op die daad dorp toe om daardie vent ’n opstopper te gee.”
“Wat help dit? Die skade is reeds gedoen. Al die eetgoed gaan mors en ek het my verniet gebreek om alles vandag reg te hê.”
“Die koerant behoort jou skadevergoeding te betaal. Ek gaan ’n eis teen hulle instel. Ek gaan daarop aandring dat hulle ’n week lank elke dag ’n berig dra wat jou biblioteek adverteer. En laat hulle dit net waag om jou ’n rekening daarvoor te stuur. Ek is jammer, Hennie. Dalk was dit my fout. Dalk was my drukskrif nie duidelik genoeg nie en kon die klerk dit nie lees nie.”
“Moenie vir die onnosele vent verskonings maak nie. Ek gaan saam met jou dorp toe ry om vas te stel hoe so ’n fout kon ingesluip het.”
“Nee,” keer Donnie. “Dit sal beter wees as jy hier bly om die mense te ontvang wat my kennisgewing by die grootpad opgemerk het. Dankie tog daarvoor, anders het niemand geweet hier bestaan nog ’n biblioteek met die naam van Sesdorings nie.”
“Tant Lettie!” Hennie storm kombuis toe om haar vennoot die slegte tyding oor te dra. Sy steek verbaas vas toe sy die ou dame penorent op ’n kombuisstoel aantref, haar arms gevou en haar lippe op ’n dun plooi getrek. “En nou, Talettie? Hoekom sit Tante so alleen hier in die kombuis?”
“Laat ons maar sê ek … e … verkies om in die kombuis te sit, tot jou geselskap vertrek het.”
Hennie begryp hoekom die ou dame so optree. Sy het tien jaar lank vir oupa Drik gewerk en sy weet natuurlik van die vete tussen die Vermaaks en die Meirings.
“Donnie is aan ons kant, Tante,” glimlag Hennie. “Hy is anders as sy broer en sy vader. Hy wil graag sien dat ek van die biblioteek ’n sukses maak.”
Al antwoord wat Hennie kry, is ’n snorkgeluid en tant Lettie se lippe pars nog stywer opmekaar.
“Kom sit by ons, Tante,” pleit Hennie. “Donnie sal baie sleg voel as hy moet weet dat Tante hom en die res van die Meirings oor dieselfde kam skeer. Hy baklei aan ons kant, Talettie.”
“Ek sal vir julle tee maak, Hennie, maar ek sal myne maar liewer hier in die kombuis drink. Hoe lank gaan meneer Meiring nog kuier?”
“Ek weet nie.” Terwyl Hennie help om koppies reg te sit en Donnie se bord vol eetgoed op te hoop, vertel sy vir tant Lettie wat gebeur het, wat die rede is waarom geen mense opgedaag het nie.
“Nou voel ek darem beter,” sluit Hennie die verduideliking af. “Ek was bang die mense het intussen almal by ander biblioteke aangesluit. Sodra hulle gehoor het daar was ’n misverstand, sal ons kliënte in hulle honderde opdaag om boeke te leen en Tante se heerlike koek en tee te koop. Ons sal nie kan voorbly nie. Tante sal sien …”
“Is die ou skinderbek te kleingeestig om saam met my tee te drink?” vra Donnie toe Hennie met die skinkbord binnekom en hy sien dat daar net twee koppies is. Hy het saggies op sy tone agterna gegaan toe Hennie kombuis toe gestap het en by die deur gaan staan om te hoor wat die twee in die kombuis praat.
“Sjuut,