Ettie Bierman Keur 10. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 10 - Ettie Bierman страница 20
“Nie vir Carl Meiring nie. Hy sal dit verstaan.”
Hennie voel soos Midas toe sy haar aansluitingsfooie tel en in ’n bliktrommeltjie in haar lessenaar wegsluit. Sy is nie geldgierig nie, maar daar is baie gate om toe te stop. Sy het baie geld uitgegee en dit sal gaaf wees om darem ’n deel van haar kapitaaluitleg te begin terugkry.
Tant Lettie was baie optimisties ná haar eerste kliënte so goed weggelê het aan haar koek en tee. Sy luister hoopvol of daar nie weer ’n dreuning van ’n motor in die laatmiddagstilte klink nie, dog die eerste motor wat weer op die Sesdoringspaadjie afdraai, is Donnie se bakkie. En dit lyk nie of hy ’n goeie tyding bring nie …
“Hennie, kyk hiersô!” Donnie haal ’n groot bord van die bak af. “Ek kon my eie oë nie glo nie …”
“Ek weet reeds wat daarop staan,” sê Hennie stil. “Wynand Bothma en sy ma was hier en hy het my in kennis gestel dat daar ’n kruis oor jou kennisgewing geverf is.”
Donnie lyk meer ontstoke oor die nuus dat sy teenstander op Sesdorings besoek afgelê het as oor die kennisgewing wat doodgeverf is.
“Wat het Bothma hier kom maak?”
“Dokumente gebring en sy ma gebring om by die bib aan te sluit.”
“Het hy baie verbaas gelyk omdat hulle die enigste mense hier was?”
“Nie juis nie.”
“Ek het so gedink. Seker ook nie verbaas oor die verkeerde advertensie in die koerant en die foutiewe kennisgewing by die grootpad nie. Ek dink hy is gestuur om te kom spioeneer of hulle plan vrugte afgewerp het. Ek dink hy is kop in een mus met Carl. Hoekom anders sou hy juis vandag opgedaag het? Hoekom nie verlede week of môre of oormôre nie? Hoekom juis vandag, toe Carl jou so ’n gemene streep getrek het? Hy het niks anders gedoen as om te kom spioeneer, as om Carl se vuilwerk te doen nie. As dit Carl self was wat hier aangekom het, sou dit te opvallend gewees het, toe stuur hy maar sy handlanger.”
“Dis moontlik. Hy het ook ’n voeler uitgesteek om vas te stel of ek nog steeds voet by stuk hou om Sesdorings nie te verkoop nie.”
“Wat het jy geantwoord?”
“My antwoord was dieselfde as wat dit in die verlede was en ook in die toekoms sal wees. Carl se koopaanbod lê in my snippermandjie.”
“Ek is bly.” Donnie glimlag liefkosend. “Vir so ’n fyn ou meisietjie het jy baie durf en moed.”
“Ek mag klein wees, maar moenie vergeet ek het rooi hare en dat ek die berugte Vermaak-humeur geërf het nie.”
“Maar jy is te impulsief, Hennie. Ek gaan baie bekommerd oor jou wees wanneer ek volgende week terug is op universiteit. Ek sal nie hier wees om jou teen Carl en my pa te beskerm nie.”
“Soos ek tevore gesê het, is ek nie vir jou broer bang nie. As hy dit waag om sy voete op Sesdorings te sit, sal ek hom goed die waarheid vertel.”
“Onthou, niks van jou oupa se motor, die ligusterheining en daardie dinge nie. Dit sal Carl net nog meer die harnas injaag en hom versterk in sy kwade bedoelings met jou. Moet ook nie met ou tant Lettie oor hierdie dinge praat nie. Jy weet sy dra die bynaam van die distrik se grootste skinderbek en dit sal wel by Carl uitkom dat jy hom van diefstal en kwaadwillige beskadiging van eiendom beskuldig. Hy sal wraak neem. Jy het gesien tot watter uiterstes hy bereid is om te gaan om jou moed te breek en jou te dwing om Sesdorings aan hom te verkoop.”
“Jy is reg. Ons albei het nou gesien hoe laag Carl kan daal om sy doel te bereik. Het jy iets meer by die koerant uitgevind?”
“Niks nuuts nie. Net dat een van die dametjies ook onthou het dat dit ’n meneer C.J. Meiring was wat geskakel het om die advertensie te laat verander. Hulle het niks verdags vermoed nie. Meneer Meiring het verduidelik dat jy finansiële probleme ondervind en van plan is om die plek te verkoop, daarom dat die biblioteek nie sal open nie.”
“Ja, en dit bewys verder dat dit Carl was, nè? Net hy sal sê ek beplan om Sesdorings te verkoop. Dankie vir jou moeite, Donnie. Ek sal vir tant Lettie vra om vir jou tee te maak. Ek gaan net gou kyk waar daardie stoute hond van my is. Kastig veronderstel om sy nooi te beskerm, maar hy stel meer daarin belang om die affodillebolle in die tuin uit te grawe en smaaklik op te eet. En sy lekker bak vleis staan onaangeraak in die kombuis … Dink jy Lassie sal verkies dat ek vir hom blombolle vir aandete inskep?”
7
Hoewel Donnie belowe het om gereeld te skryf en die eerste vry universiteitslangnaweek huis toe te kom – al moet hy ryloop! – mis Hennie nogtans haar vrolike vriend van die afgelope paar weke. Sy het al daaraan gewoond geraak dat hy elke oggend om tienuur kom tee drink het, nonsenspraatjies verkoop het, gesê het hy gaan eendag met haar trou en dan ’n paar uur lank in die tuin gehelp het om orde in die onkruid-chaos te skep. Van die twee ander lede van die Meiring-gesin het Hennie nie veel gesien sedert die universiteit weer begin het nie. Net die geboë figuur van ou meneer Meiring, kierie in die hand, besig om rose in die tuin te snoei. Hy het nie opgekyk nie en Hennie het ook nie sy aandag probeer trek om te groet nie. Sy het nie die geringste begeerte om Donnie se pa te ontmoet nie, al is hy ook miskien haar toekomstige skoonpa. Die roomkleurige Mercedes het Hennie twee keer sien verbyry. Dog die bestuurder het nie na links of regs gekyk nie, net die hek oopgemaak, weer toegemaak en in ’n stofwolk verdwyn. Hennie het gewonder of dit die beroemde hek is wat oupa Drik noodgedwonge moes breek om sy kliënte deur te laat.
En eenkeer het Hennie Carl per ongeluk by die poskantoor op Dendron raakgeloop toe sy haar pos gaan uithaal het. Albei was ingedagte en nie een van hulle twee was oplettend genoeg om ’n ontmoeting betyds te vermy nie. Hennie wou onverrigter sake omdraai, dog Carl Meiring was vinniger. Toe hy haar by die ry posbusse sien staan het, het hy blykbaar besluit ’n paar koerante, briewe en rekeninge is minder belangrik as om tot elke prys ’n ontmoeting met sy buurvrou vry te spring. Hy het kortom gedraai en weggestap, sonder om te groet. ’n Duiweltjie in Hennie se binneste het haar aangehits om heeldag voor die posbusse te bly staan sodat Carl nie sy pos kan kom uithaal nie. Sy sou graag so moedswillig wou gewees het en gekyk het wat Carl se reaksie is, dog dit was ’n Saterdagoggend en sy het te veel inkopies gehad om te doen voor die winkels om eenuur gesluit het. Wat sy egter wel gedoen het en baie geniet het, was om ’n nota met ’n stukkie hegpleister aan Koedoespoort se posbus vas te plak. Dit het so gelui: Jy hoef nie meer bang te wees om jou posbus te kom oopsluit nie. Ek is weg. Dit was vir Hennie vreeslik amusant en op pad huis toe het sy nog steeds sit en grinnik oor haar oulike sin vir humor. Sy sou wat wou gee om Carl Meiring se gesig te sien wanneer hy by sy posbus kom en haar boodskap lees. Sy glo nie hy besit ’n sin vir humor en dat hy haar spitsvondigheid sal geniet nie. Dis hoekom sy so graag sy gesig sou wou sien …
Nou, drie dae later, giggel Hennie nog steeds oor die nota terwyl sy twee leerlinge van Happy Rest-skoolplaas beduie waar hulle moet gaan soek na boeke wat oor Amerika handel.
“Dis by vakliteratuur, Ansie,” verduidelik Hennie. “Is dit vir ’n aardrykskunde-taak wat jy die inligting nodig het?”
Die dertienjarige dogter glimlag skamerig. “Ja, Tannie, maar dis eintlik my boetie wat die taak moet uitwerk. Hy was te skaam om alleen te kom, toe sê my ma ek moet saam met Kosie kom.” Sy soek na haar jong broertjie en lyk vies toe sy hom buite in die tuin sien speel. “En nou moet ek die boeke soek, terwyl hy buite rondhardloop. Kosie is vreeslik stout. Hy gee my ma grys hare. Ek wens hy was liewer ’n sussie, wat liewerster met poppe gespeel het, pleks van met sy simpel ou karretjies en treintjies en alewig met vuurhoutjies.”