Elza Rademeyer Omnibus 8. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer страница 23
Toe hulle ’n ruk later by die ander kampeerders aansluit, word die meisies aangesê om solank slaai te maak. Alet merk dat Elsie ledig rondstaan en so verdrietig lyk dat sy sommer die aartappel wat sy besig is om te skil, vir Bets gee. “Hier, skil jy verder. Ek gaan gou vir Elsie vra om ons te kom help.” Maar sy is totaal onbedag daarop dat Elsie haar sou afjak.
“En nou?” vra Bets toe sy terugkom. “Wat het Elsie gesê?”
“Sy sê sy werk nie saam met fariseërs nie,” sê Alet oorbluf. “En toe loop sy sommer van my af weg. Wat sou dit beteken?”
“Hmm, ek het gedink jy maak ’n fout om haar te vra.”
“Maar hoekom? Ek het haar mos niks aangedoen nie.”
“Toemaar, sy sal wel die een of ander tyd daaroor kom.”
“Waaroor kom?”
“Oor Ben.”
“Ai, ek het so gehoop dinge gaan weer regkom tussen hulle.”
“Hoe ver is julle met die slaai?” word hul aandag deur Jan in beslag geneem. “Kan ons al die vleis begin braai?”
“Ja, wat,” sê Bets. “Ons gaan nie aartappelslaai maak nie, dit vat te lank. Ons kook dit sommer net.”
“Wat van pap?” wil Peet weet.
“Dit kan Alet weer môreoggend vir jou maak vir ontbyt.”
“Is dit ’n belofte?” vra hy met sy blik op Alet.
“Ja, goed, as die ander ook wil hê.”
“Gaan jy dit weer so effentjies laat aanbrand ook?”
“Ek sal probeer.” Sy verwens die blos op haar wange en loop vinnig weg om kamma haar hande te gaan afspoel. As hy haar so bly treiter, gaan almal in die kamp binnekort besef sy’s tot oor haar ore verlief op hom, dink sy in haar enigheid.
Terwyl die mans vleis braai, kom sy agter daar is vele onderstrominge om die vuur. Dis ook stiller as ander aande. Ben slaan die een ná die ander bier weg en kyk nie na Elsie se kant toe nie. Sy sit weg van hom af in die vuur en staar. Thinus is baie danig met Ernst se meisie, en dit lyk nie asof Mary-Ann haar enigsins daaraan steur nie.
“Nee, my maggies,” sê Jan op ’n keer. “Hoekom lyk almal vanaand of hulle op pad is na ’n begrafnis? Ben, laat waai daar met ’n grap, man.”
Maar Ben glimlag net, maak vir hom ’n soveelste bier oop en gaan sit langs Mary-Ann.
“Gaan haal liewer jou kitaar,” sê Peet.
Toe Jan terugkom met die kitaar, neem Peet dit uit sy hand, tokkel so ’n paar keer met sy vingers oor die snare, en trek uit volle bors weg met “My Sarie Marais”, terwyl hy homself begelei.
’n Paar oomblikke staar almal hom verras aan, maar toe Jan begin saamsing, val die ander ook in.
Alet is verstom. Dit het nog nooit by haar opgekom dat Peet kitaar kan speel nie, laat staan nog so mooi! Maar nou ja, wat weet sy eintlik van hom af? Behalwe dat sy hom liefhet. En dat dit nie net die verliefdheid van ’n vakansie-romanse is nie.
“Ek het nie eens geweet Peet kan kitaar speel of sing nie,” sê Bets wat ná ’n rukkie langs haar kom sit het. “Hy is nogal goed.”
Die musiek skep gou ’n vrolike atmosfeer. Miskien ’n bietjie té vrolik, dink Alet bekommerd toe sy merk Ben sit met sy arm om Mary-Ann se skouers. Dis die laaste ding wat sy verwag het, dat hy hom aan Mary-Ann sou steur. Ben, wat vroeër so uitgesproke daaroor was dat hy nie van mollige meisies hou nie. Wys jou net wat die liefde aan ’n mens kan doen. Het sy nie ook aanvanklik, toe sy Peet die eerste keer gesien het, gedink hy is ’n ou vaal mannetjie nie!
Toe Mary-Ann op ’n keer openlik vir Ben in sy nek kielie, en sy sien dat Bets se blik ook op hulle rus, sê sy: “As jy my vra, het Ben ’n paar sopies te veel in. Arme Elsie. Ek kry haar baie jammer.”
Bets glimlag. “Toemaar, kry liewer vir Mary-Ann jammer. Sy’s ’n sot om te glo Ben steur hom aan haar.”
Toe dit slaaptyd raak, en Bets saam met ’n paar van die ander meisies wegstap ablusieblokke toe, kom sit Peet langs haar. “Het jy gehoor my laaste liedjie was net vir jou?” vra hy sag.
“Dankie. Ek het dit nie besef nie. Jy sing pragtig. Hoeveel fasette is daar nóg in jou lewe waarvan ek nie weet nie?”
“Wat jy dalk nog nie weet nie, is dat ek ’n baie goeie man vir jou gaan wees. En net so ’n goeie pa vir ons kinders.”
“Jy loop dinge vinnig vooruit,” sê sy blosend, maar met ’n warm gevoel in haar binneste.
“Kom ons gaan stap.”
“Nee,” sê sy vinnig. “Ons kan nie alleen gaan stap nie. Wat sal Bets en die ander daarvan dink?”
“Ek gee nie ’n snars om wat hulle dink nie. Toe, kom ons gaan loop ’n entjie.”
“Hoe aanloklik dit ook al klink, nee.”
“Sal jy saam met my gaan stap as Bets haar toestemming gee?”
“Sy sal dit nimmer as nooit gee nie.”
“Jou lojaliteit teenoor haar verstom my.”
“En jou díslojaliteit teenoor haar verstom my. Daar kom hulle juis nou terug,” beduie sy bome se kant toe waar Bets se gelag helder opklink.
“Ek gaan nou vir haar sê hoe sake staan sodat jy kan sien haar sogenaamde liefde vir my is net ’n blufspel.”
“Nee, asseblief nie,” keer Alet vinnig. “Onthou ons twee deel ’n tent. As jy haar wil afsê, moet jy dit liewer môreoggend doen. Anders moet ek die slae alleen verduur.”
“Goed, môreoggend dan. Ek sal my liefde vir jou darem seker nog een nag in toom kan hou.”
Sy woorde maak dat sy weer eens nie kan slaap nie. Sy voel jammer vir Bets, maar is ook bekommerd oor wat haar reaksie gaan wees. Dit gaan bitter jammer wees as dit die einde van hul vriendskap beteken. Maar wat anders moet sy doen?
Die een of ander tyd sluimer sy wel in, maar skrik dadelik wakker toe sy ’n geritsel by die tentopening hoor. Toe sy sien dis Bets wat buitentoe gaan, kyk sy op haar horlosie. Dis twee-uur. Gelukkig darem nog ’n hele rukkie voor opstaantyd. Sy dommel dadelik weer weg, maar skrik wakker toe Bets terugkom. Dis vieruur, sien sy.
“Waar was jy die hele tyd?” vra sy bekommerd. “Is jou maag weer ongesteld?”
“Lê jy al weer wakker en spioeneer op my?”
“Ek spioeneer nie op jou nie. Ek het toevallig wakker geskrik toe jy twee-uur hier uit is. Dis twee uur gelede. En in daardie dun nagklere van jou. Jy sal mos siek raak, man.”
Bets gee ’n kortaf laggie. “Jy hoef jou nie oor my dun nagklere te bekommer nie. Ons het ’n kombers gehad, genoeg bier én ’n bottel vonkelwyn.”
“Wie?