Elza Rademeyer Omnibus 8. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer страница 25
Teen wil en dank kan Alet nie die hele dag lank voorgee sy slaap nie. Veral nie nadat Bets wakker geskrik het en naderhand vir Jan vra of sy siek is nie. Toe hy sy hand teen haar voorkop lê om te voel of sy koorsig is, moet sy noodgedwonge haar oë oopmaak.
“Jy’s ’n mooi een om te lê en slaap, en alles te mis wat jy nog nie in die Richtersveld gesien het nie,” beskuldig Peet haar nadat hy in die truspieël gesien het sy’s wakker. “Nou is dit te laat. Ons het al die reservaat verlaat.”
“Ek kan nie help ek is vaak nie. Dit voel vir my ek kan die hele dag omslaap.”
“Vergeet daarvan! Wat het jy dan laas nag gedoen?”
Op daardie oomblik begin haar selfoon lui, en word dit haar gespaar om hom te antwoord. Dis haar ma. “My kind, jou pa is in die hospitaal. Die dokters sê dis ernstig.”
“In … In die hospitaal! Wat het gebeur?” vra sy geskok.
“Beroerte-aanval. Ek het vir hom gesê hy moenie die swaar meubels skuif nie, maar hy wou nie luister nie. Jy moet dadelik huis toe kom.”
“Ons is op pad huis toe. Maar hoe en wanneer het dit gebeur?”
“Minder as ’n uur gelede. Hy’s met die ambulans hier weg. Ek wag nou vir sus Stien om my te kom oplaai hospitaal toe. Alles is so deurmekaar. Die meeste van ons meubels is al na die ander huis toe. Die res kom hulle môreoggend laai, en hier is nog goed wat ingepak moet word. Hoe laat gaan jy by die huis wees?”
“Dis moeilik om te sê. Seker vanmiddag laterig eers.”
“Kan jy nie vinniger hier kom nie? Ek is so bang jou pa gaan dood! Hy’t baie sleg gelyk.”
“Mamma moenie so negatief wees nie. Die dokters weet wat hulle doen. Sulke dinge lyk partykeer erger as wat dit is.”
“Hier hou sus Stien nou net buite stil.”
“Bel my weer wanneer Mamma-hulle by die hospitaal kom. Sal jy?”
“Goed, ek sal so maak. Dan groet ek nou maar eers.”
“Klink vir my jou pa is in die hospitaal,” sê-vra Jan toe sy die selfoon bêre.
“Ja. Hy’t ’n beroerte-aanval gehad en is ’n rukkie gelede met die ambulans hospitaal toe.”
Sy kom agter Peet ry vinniger. Dis lank sit in die voertuig. “Ek hoop nie jou pa se toestand is ernstig nie,” sê Bets ná ’n tydjie. “Wat gaan van jou ma word? Sy’s dan so afhanklik van hom?”
Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie.” Selfverwyt knaag aan haar. Miskien sou dit nie gebeur het as sy by die huis gebly het nie. Of dan was sy ten minste daar om haar ma by te staan. Haar hospitaal toe te neem, met die trekkery te help …
Nadat haar ma gebel het om te sê haar pa is in die hoësorgeenheid opgeneem, ry Peet nóg vinniger. Sy kom agter hy oorskry die spoedgrens, maar sê niks nie. As haar pa moet sterf … Sy wil nie daaraan dink nie. Sy voel half skuldig oor Peet so jaag maar eintlik is sy dankbaar daaroor.
Sy kan aanvoel Bets is op haar hoede, dat sy elke keer vinnig die gesprek in ’n ander rigting stuur wanneer Peet of Jan iets ophaal van die vakansie. Hoekom het Bets dit aan Peet gedoen, wonder sy telkens. Hoekom het sy hom nie net gelos nie. Dan sou sý hom gevat het, soos Bets dit gestel het. Of, nee, dis beter só. Peet sou tog steeds ander weivelde gaan soek het. ’n Ander meisie soek om mee te mors. Dat haar oë so toe kon wees! Die aand by Springbok moes sy al van beter geweet het. Toe Bets aangeklam die kamer binnegekom het. Peet se kamtige maagpyn oor iets wat hy geëet het … Nee, sy behoort dankbaar te wees teenoor Bets. Eintlik het sy haar ’n groot guns bewys.
8
Toe hulle eindelik voor haar ouerhuis stilhou, sê Bets verlig: “Dankie tog ons is veilig hier. Ek het gewonder of ons heelhuids hier gaan aankom.”
“Ja,” sê Jan, terwyl hy die deur vir Alet oophou om uit te klim. “Ek het nie gedink hierdie voertuig van Peet kan so vinnig loop nie.”
Die twee mans help om haar tasse aan te dra voordeur toe. Sy haal die voordeursleutel uit haar handsak, en draai na hulle toe. “Baie dankie vir alles. Ry maar, julle is moeg. Ek sal regkom.”
“Moet ons nie eers jou bagasie binnetoe neem nie?” vra Jan.
“Dis nie nodig nie, dankie. Ek sal dit later indra. My ma rus seker op die oomblik. Ek wil nie hê ons moet haar steur nie.”
Peet tree na vore en druk ’n kaartjie in haar hand. “Hier is my telefoonnommer. Bel my sodra jy nuus oor jou pa het.”
“Bel my ook,” groet Jan. “Hier is my nommer.”
“Ek sal so maak,” sê sy. “En nogmaals baie dankie vir alles.”
“Ek sal wag dat jy eerste bel,” sê Peet. “Anders pla ek jou dalk op ’n ongeleë tyd.”
As sy nie so sonder gevoel was nie, sou sy kon lag oor sy oënskynlike besorgdheid.
“Nou ja, kom dat ons ry,” jaag Bets die ander aan. “Ek voel so taai en vuil dat ek aan niks anders as ’n bad kan dink nie. Ek sal jou môre bel om te hoor hoe dit gaan.”
Toe hulle ry, sluit sy die voordeur oop, en sien die sitkamer is leeg. Dit laat haar onthou van die trekkery, en skielik raak dit ligter in haar. Die trekkery kon nie op ’n meer geleë tyd gebeur het nie. Nie een van hulle het haar nuwe adres nie. Hulle het ook nie haar selfoonnommer nie, want sy’t dit juis laat verander toe Wouter haar so gepla het. Toe frommel sy die kaartjies wat Peet en Jan vir haar gegee het op, gaan gooi dit in die vullisblik in die kombuis, en loop kamer toe om haar ma te gaan soek.
“Is dit nou die tyd om hier aan te kom!” raas haar ma nadat hulle gegroet het. “Jou pa kon al dood gewees het.”
“Ons het so vinnig gery as wat ons kon. En ek hét Ma mos gesê watter tyd om ons te verwag.”
“Wat gaan van my word?” raak haar ma skielik weer tranerig. “Wie gaan na my kyk as jou pa doodgaan?”
“Moenie aan so iets dink nie, Ma. Pa sal nie doodgaan nie.”
“Kind, ek het lankal ’n voorgevoel gehad dat iets verskrikliks met hom gaan gebeur. En die gesig wat ek voorverlede nag gehad het …”
“Og, is die ou doemprofeet al weer besig om jou ook te probeer oortuig dat jou pa gaan sterf?” kom tant Stien al pratende die vertrek binne. “Dag, my kind. Hoe gaan dit met jou? Eintlik onnodig dat ek vra, want kyk net hoe bruingebrand en gesond lyk jy!”
“Naand, tannie Stien. Baie dankie dat tannie vir Ma kom bystaan het.”
“Jong, ja, hoe jou pa dit uithou met hierdie suster van my, weet ek nie aldag nie. Sy begin my ook al graf toe praat met haar voorbodes en dinge. Maar wag, ek het lekker vars koffie gemaak. Jy’s seker dors, of hoe?”
“Dankie,