Christine le Roux Omnibus 7. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux страница 19
“Maar is julle regtig getroud?” vra meneer Louw. “Dis darem baie vinnig.”
“Maar ons is in die wolke,” sê mevrou Louw. “Dis hoog tyd.”
“Nee, nee,” sê Pieter. “Ons is glad nie getroud nie. Dis net een van Maja se versinsels om Weyers, die jaloerse minnaar, van haar weg te hou.”
“Nog tee vir iemand?” vra mevrou Louw taktvol.
Toe hulle later terugry huis toe, is Maja moeg. Sy lê met haar kop teen die deur en haar oë halftoe.
Pieter kyk ’n paar keer na haar. “Lekker dag gehad?” vra hy.
“Ja, baie dankie. Jy het baie gawe ouers. Hulle is meer soos ek as soos jy. Hulle skrik nie sommer nie, mens kan dit sien.”
“Met drie seuns leer mens om nie maklik te skrik nie,” stem hy saam. “Selfs op hulle ouderdom.”
Sy lê weer stil tot hy in die stad is en teen die berg begin uitry na sy huis. “Hy was nie my minnaar nie,” sê sy dan.
“Wie – Weyers?”
“Ja. Jy’t vir jou ouers gesê hy’s my minnaar. Hy is nie en was dit ook nooit nie. Ek is meer kieskeurig as dit.”
“Ek moet my verspreek het,” sê Pieter, maar kikker op. Die gedagte aan Maja in daardie rooiharige kolos se arms gee hom al die hele dag koue rillings. Hy is, soos hy vir haar gesê het, nie ’n bakleierige soort man nie, maar as Weyers ’n vinger op haar lê, sou hy hom met gemak kon platslaan.
Hoofstuk 7
Maandagoggend groet Annemie vir Pieter met ’n stokstywe gesig. Sy bring vir hom sy gebruiklike koppie koffie en sit dit met besondere sorg voor hom neer, maar haar gesig beweeg nie en sy sê niks nie.
“Dankie,” sê hy afgetrokke en kyk dan op. “Lekker naweek gehad?”
“Ja dankie.” Sy swaai om en stap uit.
Normaalweg sou sy hom ook uitgevra het, maar hy is te besig om regtig oor die saak te wonder. Sy is geneig tot buierigheid en regeer sy hele kantoor met so ’n ysterhand dat almal lig loop vir haar. Dis eers teen die middag toe alles rustiger gaan dat hy regtig besef daar is fout.
“Is iets verkeerd?” vra hy vir haar.
Sy kyk hom uit die hoogte aan, meerderwaardig, maar nie parmantig nie. “Nee, waarom dink jy so?”
“Jy lyk nie baie tevrede nie.”
Sy rol haar skouers, tik ’n denkbeeldige stoffie van haar lapel af en fladder die papiere in haar hand. “Ek verneem dat gelukwensinge aan die orde van die dag is.”
“Gelukwensinge?” vra hy onbegrypend. “Vir wat?”
“Jou huwelik,” sê sy stroef. “Jy het Vrydag vir Kerneels vertel. Ek sou reken as jou persoonlike sekretaresse kon jy my …”
Sy eerste reaksie is om uit te bars van die lag, nie oor haar ongelukkigheid nie, maar oor die rede daarvoor. Sy tweede reaksie – heeltemal onverklaarbaar – is om niks te sê nie. Hy sluk die verduideliking, die weerlegging, net so in en kyk na haar.
“Wel,” sê sy. “Geluk.” Sy swaai om dat haar kort rompie om haar bene swiep en loop uit.
Hy leun terug in sy stoel en tik sy pen teen sy voortande. Die vorige Kersfees, ’n jaar of meer gelede, het hy die firma se Kersfeespartytjie by sy huis gehou. Dit was net na die huis voltooi is en hy ingetrek het, en die idee was om twee geleenthede saam te vier: Kersfees en sy nuwe huis. Hy het spyseniers gekry en Anna het die aand oorgekom om te help. Die partytjie was ’n sukses, is op Oukersaand gehou en later was almal baie jolig en uitgelate soos dit maar op kantoorpartytjies gaan, en agterna het hy besef dat Annemie nie meer … dat sy nie heeltemal so onbetrokke is soos hy …
Hy haal sy skouers op. Annemie is in alle opsigte die perfekte sekretaresse, altyd voorbereid, altyd professioneel. Sy bring vir hom wat hy nodig het voor hy nog besef hy het dit nodig. Sy behoort van beter te weet. Werk en liefde kan nie oorvleuel nie.
Toe hy huis toe gaan, is sy nog in haar kantoor besig en kyk nie op toe hy verbystap nie.
“Tot siens,” sê hy.
Sy bly besig met die dokumente voor haar. “Haastig, nè?”
Hy bly staan. “Wat bedoel jy?”
Sy druk net haar lippe opmekaar. “Sê groete vir … vir … jou vrou.”
“Maja,” sê hy. “Haar naam is Maja.”
Sy beweeg haar kop. “As ons meer waarskuwing gehad het, het ons … was ons voorbereid, maar ons het gekollekteer en … Is daar iets besonders wat julle nodig het?”
“Waarvan praat jy?”
“’n Trougeskenk. Jy het tog seker alles.”
“Dis vriendelik van julle,” sê hy. “Nee, ek kan nie aan iets dink nie.”
“Ek sal maar my eie oordeel gebruik.”
“Seker ’n valbyl,” sê hy later ná hy die storie vir Maja vertel het. Hulle stap in die tuin waar die tuinier die gras gesny het en alles vars ruik al is die gras kol-kol geel gebrand.
“Jy moes haar die waarheid vertel het,” sê Maja betigtend. “Weyers is die enigste een wat moet dink ons is getroud. Die res van die mense hoef nie so te dink nie. Veral nie jou personeel nie.”
“Ek weet,” sê hy. Hy dra sy baadjie aan sy duim gehaak en hulle gaan sit op die tuinstoele wat onder die eikebome staan. “Ek kan dit self nie verklaar nie. Miskien soek ek al lankal na ’n verskoning, ’n rede om haar …”
“Van jou lyf af te hou,” sê sy behulpsaam.
“Dis bietjie kru gestel.”
“Maar waar.”
“Ja,” sug hy. “Helaas.”
“Hoe lank werk sy al vir jou?” vra sy en kyk met blink oë hoe Lappies op die gras baljaar en hom onderstebo skrik toe ’n voël naby hom opvlieg.
“Vier jaar.”
“En is sy die hele tyd al verlief op jou?”
“Hoe sal ek weet? Haar werk en gedrag was nog altyd foutloos, absoluut onverbeterlik. Niks om te kritiseer nie. Dis net sedert voorverlede Kersfees dat sy …”
Sy draai haar kop en kyk na hom. “Wat het voorverlede Kersfees gebeur?”
“Wel …” sê hy ongemaklik. “Was jy al op kantoorpartytjies?”
“O ja,” sê sy. “Dis waar ek Hugo ontmoet het. Hy is ’n kunstenaar en het al die skilderye vir die gastehuis gedoen. Die ding met so ’n partytjie is dat mense altyd beter lyk as in helder