Mispa. Helena Christina Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Mispa - Helena Christina Hugo страница 11
“Als ik dit wonder vatten wil, staat mijn verstand vol eerbied stil …”
Die stem klim soet en suiwer hoër en hoër. Dit raak aan die hemel.
“U, die voor ons geboren zijt,
U zij ons hart, ons lied gewijd,
Wij voegen juichend onze stem
Bij ’t Englenheir van Bethlehem.”
Dis een van die Evangelische Gezange wat in haar ma se tyd verbied was, maar deesdae aanvaar word.
Reent knetter op die dak, die sang raak weg, haar pyne ook, en sy slaap.
’n Paar uur later gryp die duiwel haar en skud haar wakker. Dis donker en sy roep uit.
“Help my!”
Willem vlieg regop. Caroline se gil deurklief die lug en tref hom soos ’n werpspies in sy kop. Hy voel-voel na die kers wat hy byderhand hou om aan te steek.
“Caroline?”
“Dis … tyd.”
Die kers brand. Hoe laat is dit? Die horlosie op die kaggelrak is in die donker. Hy kry sy sakhorlosie wat saam met sy sleutels op die spieëlkas lê, en hou dit by die kers. Kwart oor twee – die donkerste uur van die nag.
“Moet ek Sêrah gaan wakker maak?”
Caroline hyg na asem. “Doen wat jy … wil.”
Dis genoeg. Hy spring in sy broek en haas hom trapaf. Die kers vrek amper en hy moet die pit eers kans gee om op te vlam. Sommige van Mispa se bokkoppe vang die lig in hul dooie glasoë en staar na hom asof hulle hom wil uitdaag. Dis stil in die huis al is elke kamer volgepak met slapers wat deur Caroline se gille gewek kon word. Hy trap sagter en loop stadiger, maar vorder tog vinnig genoeg.
Die kombuisdeur is toe. Hy wonder of hy moet klop, besluit daarteen en stoot dit eenvoudig oop. Die hopie onder die karos voor die vuur roer. Ou Sêrah kom beplooid en met toegeknypte oë te voorskyn.
“Jou gesê hierie kend wil vannag gebore.”
“Ja, maak net gou!”
Hy loop by haar verby, by die agterdeur uit die koel nag in. Die lug is helderskoon en oop. Met sy gesig opgehef na die sterre bid hy: “Here God van Mispa, gee dat dit gou verbykom, en dankie vir hierdie kind en vir die reent van gisteraand.”
Toe hy omdraai, sien hy ou Sêrah skuif die swart pot eenkant toe. Sy gooi nog hout op die vuur en skep water uit die kom wat digby staan. Die werfhonde wat wakker geword het, kom skuur teen sy bene. Die ou vrou bind haar wit voorskoot om, sy was haar gesig en skrop haar hande terwyl hy ongeduldig rondtrap. Sy is nog besig om haar kopdoek te knoop, toe staan hy weer langs haar.
“Wat doen ek nou?” vra hy.
Sy steek vir haar ’n vars kers by syne aan en beveel hom: “Bring die water kamer toe as dit kook.”
“Moet ek nôi Hester roep?” vra hy asof hy haar toestemming nodig het.
“Ek gaan eers. Steek die lamp op en kyk virrie water.”
Wat is dit tog met vroue, dink hy grimmig, dat hulle nie mans kan vertrou as dit by geboortes kom nie?
Toe sy weg is, pluk hy een van die stoele langs die kombuistafel uit, maar hy kom nie so ver om te gaan sit nie. Dit maak vir hom geen sin dat hy wat kalwers en vullens in die wêreld help, uit sy vrou se kraamkamer gestoot word nie. Hy verwens hom omdat hy hom van die stokou Khoi-vrou laat gebied, én boonop sy beste pyp en vol twaksak in die kamer agtergelaat het. Hy het tabak nodig om hom in bedwang te kry voor hy haar nog agternaloop en haar vertel. Hy het meer kennis as enige verdekselse vroedvrou en hier moet hy staan en wonder wat Sêrah Bok met sy kind gaan aanvang!
Koffie. Dis waarmee hy hom solank sal troos – sterk en swart met ’n goeie skeut witblits.
Maar die koffiepot staan koud en leeg eenkant op die stoof, sakkie netjies oor die deksel getrek. Hy is op pad spens toe om die blik met gemaalde bone te gaan haal, toe Hester agter hom praat.
“Het dit begin?”
Hy wil hom vererg, maar haar moeë oë spreek van soveel besorgdheid dat dit hom dwing om ordentlik te wees. “Ek reken so,” sê hy. “Ou Sêrah is op, ek maak koffie.”
Hester sit haar kers neer. “Die swart pot se water kook.”
“Sy vra dit, en die lamp.”
“Beter as kerse.” Sy gee vir hom die kombuisvuurhoutjies. “Steek aan, dan stap ek vooruit met die lig. Jy moes my kom wakker maak het.”
Hy is besig om die lamp se pit op te draai en kyk nie na haar toe hy antwoord nie. “Sy wou eers seker maak.”
“Ek lê al heelnag wakker en luister na elke geluidjie. Ek het Caroline hoor skree, toe weet ek sy en Sêrah het hulp nodig.”
Hy draai na die stoof en beskou die swart pot voor hy dit van die vuur af lig. “Asof ek daai ou vrou nog vertrou.”
Hester staan al gereed met die lamp. “Sy is ’n lewende legende, Willem, ons moet haar glo,” sê sy voor sy omdraai en op haar manier aanstap.
Die lamp hou sy skouerhoogte sodat hy kan sien waar hy loop.
“Stadiger, Hester!”
Die pot se handvatsels is stewig in sy greep, maar dis vol kookwater en hy moet reg trap. Pleks Caroline vir hom geluister het dat hulle aftrek ondertoe, maar nee – sy verseg toe mos. Soms, net soms wonder hy wie die broek in hierdie huis dra en wat Jan Adriaan te sê sal hê as hy alles moet weet. Maar daar is dinge wat nie bedoel is vir almal se oë en ore nie.
Sêrah het die kamerdeur toegemaak, Hester klop saggies en stoot dit oop. Met die eerste oogopslag sien hy die tafel wat gewoonlik langs die bed se koppenent staan, is by die voetenent met Sêrah se kers daarop staangemaak. Caroline klou aan die katelstyl, haar onderlyf is gelig, haar knieë gebuig, die nagrok teruggeskuif. Hy kyk weg. Diere beleef dieselfde angs, maar hoef ten minste nie hul klere uit te trek nie.
Sêrah beduie na die wastafel. “Bring hom hier.”
Willem sit die warm pot op die vloer neer, doen die nodige aansleepwerk en lig die pot op die wastafel. “Wat nog?”
“Die lamp op die tafel!”
Hester los die lamp presies waar Sêrah dit benodig en gaan staan aan die ander kant van die bed. Caroline asem uit en laat val haar kop agteroor, toutjies hare hang in haar oë. Hy wil haar troos, vir haar sê dit maak nie saak nie, sy is nog mooi.
“Caroline …” begin hy.
Maar sy draai haar kop weg voor hy nog ’n woord kan sê. Dis Hester wat die hare in haar gesig met ’n klam doek agtertoe druk.
“Hoe lank nog?”