Suster Leanie se groot hart. Naretha Franken
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Suster Leanie se groot hart - Naretha Franken страница 6
“Nee, matrone, ek het net gou kom kyk –”
“Jy hoort nie hier nie.”
Leanie kyk verbaas na die blitsende groen oë. “Maar die kind het –”
“Suster Lourens, moenie hier kom inmeng nie. Hou jou by jou werk in die teater. Ek gaan nie chaos in my hospitaal toelaat nie. Dis nou al jou tweede misstap vandag. Dink jy jy is verhewe bo die ander personeellede en dat jy kan maak nes jy wil?”
Leanie voel hoe haar wange brand. Matrone Truter is nou regtig onredelik, maar as sy iets terugsê, gaan sy dit net erger maak. Om die hoeke van deure loer nuuskierige gesigte. Almal sien hoe sy uitgetrap word.
Met een laaste blitsende blik, stap matrone Truter sonder ’n verdere woord verby haar in die gang af.
Leanie voel hoe die trane in haar oë opwel toe sy blindelings by die hospitaal uitloop en koers kies na die parkie. Was dit nou regtig nodig om haar so voor almal te verneder?
Hoe kan Elizna Truter, wat haarself ’n matrone noem, so gemeen wees? Sy wou die arme kind se dag net bietjie ophelder. ’n Klein, bang seuntjie wat sy pa verloor het en dalk sy ma ook nog aan die dood gaan afstaan. ’n Kind wat self nog ’n lang pad na herstel voor hom het. Daardie Gousblom kan doen wat sy wil aan haar wat Leanie is, maar om ’n kind so te benadeel is onaanvaarbaar.
Sy is so ingedagte dat sy eers die bossie veldblomme op die bankie sien toe sy daar kom. Dit is met ’n toutjie vasgebind. Langsaan lê ’n stuk boombas met die woord dankie aan die gladde kant uitgekrap. Sy kyk verbaas om haar rond. In die hoek van die parkie gewaar sy Lu se groot gestalte. Die helder blou oë kyk ’n rukkie direk in hare, dan draai hy sy kop weg asof hy skaam kry.
Hy moes die blomme hier neergesit het. Dalk om dankie te sê vir die pille? Maar dit is mos heeltemal onnodig. Die warm gevoel wat sy in haar hart kry, verdryf die ontsteltenis van oomblikke tevore. Sy tel die bossie blomme op, ruik daaraan en druk dit teen haar bors vas. Sy loop na die lang man met die woeste baard.
“Is dit vir my?” vra sy met ’n glimlag.
Hy kyk af en vryf sy hande oormekaar. Knik.
“Dankie,” sê sy en hy kyk vinnig op. “Jy weet nie hoeveel dit vir my beteken nie. Veral vandag.”
3
Die volgende Dinsdag besluit Leanie om tog na die Barnards se wynplaas uit te ry. Gelukkig kon sy die vorige dag alles afgehandel kry wat sy wou doen en dus het sy vandag nog ’n vry dag om te maak wat sy wil. Al is sy op roep, is die plaas darem net ’n kwartier weg.
Maré se verliefdheid op die onderwyser Danie Verster het Leanie geïnspireer om dinge tussen haar en Henk te wil uitstryk. Haar vriendin kon die afgelope week nie uitgepraat raak oor Danie nie. “Hy is regtig een van die min ouens wat die vroulike geslag respekteer en spesiaal laat voel,” het sy met ’n dromerige kyk in haar oë gesê. “Hy is glad nie soos die vorige ouens waarmee ek uitgegaan het wat net een ding op die brein het nie.”
Sy is so bly vir Maré se onthalwe. En sy weet sy en Henk kan ook weer geluk vind. Hulle moet mekaar net in ag neem en meer waardeer. Daarom ry sy vandag na hom toe.
Die temperatuurmeter in die motor dui aan dat dit vier-en-dertig grade buite is toe Leanie haar motor langs die huis in die koelte parkeer. Onder die boom waar sy gewoonlik stilhou, staan ’n groen motortjie wat vir haar vaagweg bekend lyk. Wie kan dit wees?
Die werf is stil. Sy gooi haar sak oor haar skouer, sluit die motor en stap agter om die opstal na die kombuisgedeelte waar sy weet sy tannie Marlene sal aantref. Haar kombuis is haar kuier- en werksplek.
Die sifdeur suig sag agter haar toe terwyl haar oë sukkel om aan die skemerte in die kombuis gewoond te word. Al die luike is toegemaak teen die hitte. Die vertrek is heelwat koeler as buite, maar vreemd verlate.
“Hallo! Iemand tuis?” Haar geroep klink effens hol. “Tannie Marlene?”
Eers toe sy in die gangdeur kom, hoor sy die geluid van ’n naaimasjien, en sy glimlag. Leanie sit haar sak op die naaste stoel neer en stap na die agterste kamer.
“Tannie kan mos nie alles so oop los nie. Sê nou ek was ’n skelm?”
Marlene se liggaam ruk effens van die skok, en die masjien hou op stik. Maar dan glimlag sy vir Leanie. “Middag, kind. Dis ’n verrassing.”
Leanie soengroet die ouer vrou en glimlag. “Tannie sal versigtiger moet wees. Ek kry elke dag lesings omdat ek nie paraat genoeg is nie en nou lyk dit my ek sal dit moet begin oordra na tannie toe.”
“Toemaar, ek word genoeg uitgetrap. Ek het jou nie hoor kom nie, die masjien raas so hard.” Sy kyk by die venster uit. “Weet Henk dat jy vandag sou kom?”
Verbeel sy haar of lyk die tannie effens ongemaklik? “Toe hy gisteraand gebel het, het ek vir hom gesê dat ek gaan probeer kom, maar … Hoekom vra tannie? Is hy nie hier nie?”
Marlene lag liggies. “Nee, ek wonder maar net. Hulle … hy sal seker nou-nou hier wees.”
Daar is definitief iets vreemds aan Marlene se optrede en Leanie frons. “Wie se motortjie staan onder die boom? Dit lyk bekend, maar ek –”
Marlene se arm swaai. “Ag, dis sommer Liz se karretjie. Sy was so lanklaas hier en wou met alle geweld ’n slag kom perdry en in die rivierpoel afkoel. Ek het nie eens geweet sy is weer terug in die land nie, toe maak sy en Henk weer kontak en … Ons en haar ouers kom al ’n lang pad saam.”
Leanie trek haar oë op skrefies. Wat is hier aan die gang? Hoekom is tannie Marlene so ooglopend senuweeagtig as dié Liz so onskuldig is. “Is dit waarheen Henk is? Het sy en Henk …? Is Henk saam met haar?”
“Ja, maar hulle sal seker nou-nou hier wees.” Henk se ma praat vinnig, verskonend: “Die twee ken mekaar al van doeketyd af. Is saam skool toe, saam hoërskool toe en uiteindelik saam matriekafskeid toe.”
Leanie se kop werk oortyd. Hoekom het sy dan nog nooit van die sogenaamde Liz gehoor nie? Hoekom het Henk haar nie van die onlangse herontmoeting met sy jeugvriendin vertel nie?
“Kom, ek gaan sit die ketel aan. Ek en Lien het gister beskuit en melktert gebak. Na die vakansie was alles in die huis op en jy weet hoe voel ek oor ’n leë blik.”
Marlene stryk haar gekreukelde rok met haar hande plat en stap voor Leanie uit kombuis toe. Hulle gaan sit by die kombuistafel en Marlene skuif ’n bakkie beskuit tot voor Leanie en dan ’n bordjie met ’n stuk melktert. “Kry vir jou. Hier’s baie. Ek hoop dit smaak orraait. Vandag se botter wil ook nie meer bak soos altyd nie.”
“Dankie, tannie. Dit lyk heerlik.” Leanie tel die vurkie op. Hoe gaan sy die tert afgesluk kry? Haar keel voel kurkdroog en styf van spanning. Hoekom, weet sy nie. Miskien is dit tannie Marlene se vreemde optrede wat haar so op haar senuwees het.
Sy stik amper aan die laaste stukkie tert toe sy die perdepote hoor nader kom. Sy sluk dit met moeite af, staan op en draai met haar leë bordjie en koppie na die wasbak sodat tannie Marlene nie haar ontsteltenis moet sien nie. Leanie sit die breekgoed in die wasbak en gaan staan verskrik by die yskas toe sy die laggende stemme by die kombuisdeur hoor.