Suster Leanie se groot hart. Naretha Franken

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Suster Leanie se groot hart - Naretha Franken страница 7

Suster Leanie se groot hart - Naretha Franken

Скачать книгу

      Die vrou langs Henk se hand is besitlik om sy boarm geklem.

      Leanie voel hoe haar hand na haar mond toe gaan. Haar bene voel skielik of hulle aan iemand anders behoort. Gelukkig is sy gedeeltelik agter die yskas verskuil.

      Henk lag sorgeloos en trek ’n stoel vir die vrou langs hom uit. Hy het Leanie nog nie opgemerk nie. Van die stalle se kant af sou hulle ook nie haar motor langs die huis gesien staan het nie.

      Marlene kom stadig orent en glimlag selfbewus oor die tafel na die twee laggende mense.

      “Een ding is seker, Ma, hierdie meisiekind het die plaaslewe gemis. Mens sou sweer sy is weer sestien jaar oud en …” Marlene se oë moes hom gewaarsku het, want hy draai vinnig om en Leanie kan die skok op sy gesig sien toe hy haar gewaar.

      Nog ’n paar oë draai stadig na haar en Leanie weet nie waar sy die krag vandaan kry om te glimlag en “hallo” te sê nie, maar sy doen dit.

      “Hi, ek het gedink jy kom nie meer nie. Wanneer het …?” Henk klink bly om haar te sien. Miskien net ’n bietjie té bly. Hy soen haar vlugtig en slaan sy arm om haar middel. “Ek dink julle het al ontmoet, maar dit is …”

      Die groen kykers hou Leanie s’n gevange en Leanie kan sweer dat hulle haar koggel. Sy kan dit steeds nie glo nie.

      “Ons het al ontmoet, ja …” Die stem eggo in Leanie se ore. Die groen oë skitter. “Middag, suster Lourens.”

      Leanie voel hoe haar kop knik. “Middag, matrone.” Kan iemand haar nie net wakker maak dat sy uit hierdie nagmerrie kan kom nie?

      “Liz is ’n ou vriendin. Sy was jare lank in Londen, maar toe sy vanjaar by Worcester Med begin werk het, het sy my laat weet dat sy terug op die dorp is.”

      “Jou ma het so iets gesê, ja. Julle kan gerus … Ek gaan nie lank bly nie, ek het net gou kom groet.”

      “Ek het belowe om wanneer ons klaar koffie gedrink het vir Liz die nuwe dam te gaan wys. Jy kan saamry as jy wil.”

      “Is jy nie op roep nie, suster?”

      Leanie voel of sy in die grond in kan sak. “Ek is, maar ek het gedink om net gou vinnig te kom inloer … Dis darem nie te ver nie.”

      Matrone Truter se hande gaan na haar heupe soos daardie dag in die gang by die kindersaal. “Jy waag baie, suster Lourens. Mense se lewens is op die spel. ’n Teaterspan kan nie op jou wag nie, ek hoop jy besef dit.”

      “Ag, dis darem regtig net ’n paar minute se ry hiervandaan.” Marlene glimlag en sit haar hand vertroostend op Leanie se skouer. “Kan ek vir jou ook nog ’n bietjie koffie skink?”

      “Nee, dankie, tannie. Matrone is reg. Miskien is dit beter dat ek liewer ry. Ek kom eerder anderdag weer ’n draai maak.”

      Sy raap haar sak van die stoel af op en soen Marlene op die wang. “Dankie vir die koffie en melktert.” Dan draai sy en kyk Elizna Truter vol in die oë. “Geniet die uitstappie na die dam.”

      “Wag, ek stap saam.” Henk slaan sy arm om haar skouers en hou die sifdeur oop sodat sy voor hom kan uitstap. Die oomblik wat hulle buite hoorafstand is, sê hy sag: “Ek’s jammer. Ek wou –”

      Leanie is woedend. “Jy wou wat? My vertel dat jou verlore skoolvriendin weer uit die bloute opgedaag het, of dat die vrou wat elke keer wat sy my sien, van my ’n aap probeer maak het, eintlik jou goeie vriendin is. Het ek jou nie nou die dag vertel hoe sy my uitgetrap het nie? En jy sê my niks! Hoe lank weet jy al dat jou Liz my nuwe matrone is? En hoe lank kuier sy al by jou sonder dat ek daarvan weet?”

      “Ek wou jou nie ontstel nie, lief. Ek het haar nou die dag gaan sien, toe ek vir jou die blomme gebring het. Daar lê ’n lang geskiedenis tussen my en Elizna en eintlik is ons kwaaivriende uitmekaar. Ek het nie gedink … Ek wou jou nie onnodig vertel as ons in elk geval niks meer met mekaar te doen sou hê nie, maar nou … Ons is weer vriende en … Ek wou jou daarna sê, maar toe’s jy so kwaad vir haar … Die regte oomblik het nog net nie opgeduik nie.”

      “Wel, jy hét my ontstel. En jy steek dinge vir my weg.” Leanie se kop werk skielik oortyd. Henk het toe sowaar verlede Maandag eintlik vir groenoog-Gousblom kom kuier. Hy het seker nooit gedink dat hy in sy verloofde sou vasloop nie. Sy was mos veronderstel om na die nagdiensskof te slaap. Die blomme was maar net om sy eie gewete te sus. Of, dalk was die blomme glad nie eens vir haar bedoel nie, maar eintlik vir sy lang verlore vriendin? Geen wonder hy was so kalm toe sy nie saam met hom kon gaan middagete eet nie – hy het natuurlik ander planne gehad. Wat steek hy nog vir haar weg? Wat presies is die “geskiedenis” tussen hom en Elizna Truter?

      Leanie klim in haar motor en slaan die deur vies agter haar toe. “Gaan geniet jou uitstappie, maar een ding moet jy weet: As jy my nog wil sien, het jy bitter baie om te verduidelik.”

      Sy is nog nie behoorlik op die teerpad nie, toe loop die trane. Sy voel verneder en verraai. Geen wonder dat Gousblom haar so op en af gekyk het daardie dag toe sy natgereën het nie. Leanie het intuïtief geweet dit gaan oor meer as ’n nat uniform. Sy maak ook geen geheim daarvan dan sy weer haar visier op Henk het nie – kyk net hoe het sy in die kombuis aan sy arm geklou en haar aangeplakte wimpers vir hom gefladder.

      Sy het haar kompetisie daardie dag in die voorportaal van die hospitaal goed opgeweeg.

      Leanie snork onvroulik. Die vroumens is onprofessioneel. Hoe kan sy haar jaloesie so by haar werk uitleef? Wat sy aan klein Sammy gedoen het, was gewetenloos. Gelukkig kon Leanie darem weer tydens besoektyd by hom gaan inloer. Arme kind.

      Haar selfoon lui. Dis Henk en sy smyt die foon vies op die passasiersitplek langs haar neer sonder om dit te antwoord. Na ’n paar minute raak dit stil en begin dan weer lui. Sy raap dit op en antwoord:

      “Wat wil jy hê, Henk?”

      “Kan ek jou môre na werk kom kry? Ons moet praat.”

      “Gaan vra vir matrone Liz of ek lank genoeg my kamer sal mag verlaat om saam met jou te gaan, dan bel jy my weer.” Leanie weet sy is nou kinderagtig, maar op hierdie oomblik is sy te ontsteld om nugter te dink.

      “Komaan, Leanie, ek moet verduidelik. Asseblief.”

      Sy sug. “Ek sal daaroor dink.”

      Woensdag het sy ’n bedrywige dagskof in teater en dis eers na vier die middag dat Leanie haar sak uit haar sluitkas haal en in die lang gang afstap. Haar bene is moeg. Die wind ruk haar amper van haar seer voete af toe sy deur die skuifdeure stap. Sy klou verbete aan haar uniform se soom terwyl haar oë rondsoek na Henk se viertrek.

      Dan sien sy hom van haar linkerkant af aangedraf kom. “Hi.” Sy arm skuif om haar skouers en trek haar teen hom vas. “Ek dog ek kom kry jou maar hier voordat die wind jou wegwaai.”

      Leanie kry ’n bietjie lekker. Henk moet omtrént verleë wees as hy die moeite doen om uit sy voertuig te klim om haar te kom kry. Gewoonlik toet hy net. Van die gentleman op wie sy verlief geraak het, het min oorgebly, maar dit gebeur seker maar wanneer ’n mens so lank uitgaan.

      “Hallo, Henk. Ek het gewonder of jy al hier is.”

      Hy soen haar op die wang. “Ek wag al amper ’n halfuur, wou nie laat wees en jou in die wind laat staan en wag nie.” Dit voel voorwaar of

Скачать книгу