Suster Leanie se groot hart. Naretha Franken
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Suster Leanie se groot hart - Naretha Franken страница 8
Sy kan skaars haar oë glo toe sy Lu se lang gestalte herken. Hy kom stadig op sy mank been nader. Hy lyk slegter as gewoonlik, loop swaarder. Sy skouers hang, sy mond is effe oop, die voorkop onder sy wilde boskaas is blink, sy arms slap langs sy sye. Die oë lyk dof.
“Suster …” sê hy sag.
“Jammer, oupa, maar ons het nie nou tyd nie. Gaan bedel op ’n ander plek. En los sommer in die toekoms my verloofde uit.” Henk se stem is die ene ongeduld en sy hand agter Leanie se blaaie du haar verder na die viertrek toe.
“Wag eers, Henk. Laat ek net hoor wat hy wil sê. Miskien is dit belangrik.”
“Jy weet hoe ek voel oor jou alewige gekloek om die bosslapers. Hy wil niks vir jou sê nie, hy soek net geld om drank te gaan koop. Kan jy nie sien die man is klaar bedwelm nie?” Die hand agter haar blaaie toon geen genade nie.
“Jy is verkeerd, Henk. Hy is nie so nie. Hy het nog nooit vir my enige geld of kos gevra nie …” Trouens, Lu het haar nog nooit vantevore uit sy eie genader nie. Hy is altyd skaam en teruggetrokke. Die keer toe sy in hom vasgeloop het en die keer toe hy vir haar die blomme gelos het, was hul enigste interaksie. Wat gaan aan?
Henk stop en beduie terug na die man wat verwese op die sypaadjie bly staan het. “Oukei, Leanie, gaan hoor wat die man wil hê, maar moenie verwag ek gaan vir jou wag nie.” Hy stap driftig aan na sy viertrek, druk die knoppie om dit oop te sluit, klim aan drywerskant in en slaan die deur hard toe.
Sy kyk weer na Lu, maar hy het omgedraai en strompel terug na die parkie toe. Sy klim vies aan die passasierskant in. “Het jy nie ’n hart nie, Henk?”
“Asseblief, ek het nie nou lus vir ’n preek nie. Ek het na my meisie toe gekom om haar vir ete uit te neem, nie om na sy boemelaarspraatjies te luister nie.”
“Verkeerd, Henk. Jy het nie sommer net jou meisie vir ete kom uitneem nie, jy het kom verduidelik – moenie dink ek gaan alles sommer net so los en gerieflik daarvan vergeet nie.”
“Presies. Kan ons nou van dié ou vergeet, asseblief?”
Sy knik styf en tuur by die venster uit. Lu het reeds agter die bome in die parkie verdwyn.
Dis raserig in die restaurant. Waarom sou Henk haar nou juis hierheen gebring het? Dit lyk asof hulle in die middel van twee kinderpartytjies beland het. Miskien dink Henk dis beter om baie mense om hulle te hê – sy sal nie sommer hier voor almal ’n tantrum gooi nie.
Leanie bestel net ’n bordjie skyfies en ’n koffie. Toe die kelner wegstap, tik sy liggies op die tafelblad tussen hulle en maak haar oë groot. “Oukei, Henk, ek wag. Hoekom die groot geheim? Hoekom kon jy my nie van die eerste dag af vertel het van jou vriendskap met my liewe Gousblommatrone nie?”
Hy frons oor die “Gousblom”, sug dan en trek sy hand deur sy ligtebruin hare. “Dis ’n lang storie.”
“Dan beter jy begin, want soos jy seker weet, is ek hierdie week op roep en kan ek enige tyd in teater benodig word.”
“My ma het jou mos gesê dat ek en Liz saam grootgeword het?”
Sy knik.
Hy vat aan die houertjie met tandestokkies en haal een uit, vroetel daarmee in sy hande. “Ons ouers het altyd gespot dat ons eendag sal trou, selfs toe ons nog klein was. Dit het ons geïrriteer, want ons was net goeie vriende. Dit was eers in graad tien dat ons meer vir mekaar begin voel het. In ons matriekjaar het dinge ernstiger geword en het ons ook openlik begin uitgaan. Sy het soos my ouers se eie kind in ons huis gekom en gegaan. Baie kere het sy sommer daar geslaap.”
Sy grys oë kyk net vlugtig op voordat hy aangaan. “Na skool is ons saam Stellenbosch toe.” Henk sug en skuif regop teen die bank. “Teen die einde van ons eerste jaar het ek haar gevra om te trou. Ek het reeds geld verdien met promosiewerk op wynplase en het geglo ek kan vir ons sorg. Drie maande ná die verlowing was sy swanger.”
Leanie voel hoe haar asem in haar keel terugruk, maar sy knip nie ’n oog nie. Die kelner sit hulle kos voor hulle neer, maar haar eetlus is weg.
Henk kyk nie eens daarna nie. Sy oë is weer op die tandestokkie in sy hande. “Die families was eers geskok, maar omdat ons al so ’n lang pad saamkom, het hulle dit gou aanvaar en opgewonde begin raak oor die kleintjie wat op pad was. Liz wou die kind nie gehad het nie. Sy was besig met haar BSc-studies, maar sy wou uiteindelik dokter word en het geweet daar lê nog ’n lang pad voor. Sy het geglo ’n kind sou in haar pad staan. Die kort van die lank is: Sy het sonder my medewete ’n aborsie gaan kry. Ek was woedend, en sy is oorsee. Dit was die einde van ons vriendskap vir baie jare. Ek was gebroke, het soos ’n zombie rondgestap.”
Hy kyk hartseer na haar, en sy kan nie anders as om hom jammer te kry nie. Hy het ’n kind verloor waarna hy uitgesien het.
“Jy moet verstaan: Ek het dit nie vir jou weggesteek nie; ons familie het net eenvoudig nooit weer oor die onderwerp gepraat nie. Niemand het haar naam voor my genoem nie.”
“Ek verstaan dit,” sê sy sag en vou haar hand oor syne. “En ek is jammer oor wat jy deurgemaak het. Maar ek het nietemin ’n reg gehad om te weet. Ons is al amper drie jaar verloof, Henk.” Die prentjie van die laggende Henk saam met Elizna Truter dans weer tartend voor haar oë en sy neem haar hand weg. “Buitendien, dit lyk asof jy nie meer vir haar kwaad is nie. Sy kuier weer in jou ouers se huis. Dis net ek wat van niks weet nie.”
Hy kyk skuldig anderpad. “Ek het haar diep binne-in my eintlik lankal vergewe, besef hoe moeilik dit vir haar moes gewees het. Haar familie het haar afgeskryf, sy is alleen oorsee …”
Leanie gooi suiker in haar koffie en begin dit stadig roer. Miskien sal die soetigheid die hol kol op haar maag wegstreel. “Wanneer presies het julle weer kontak gemaak?”
“Sy het my net na Nuwejaar uit die bloute gebel. Ek moes seker die oproep afgesny het, maar ek was so stomgeslaan dat ek net met die foon teen my oor bly staan het. Sy het die geleentheid aangegryp om te praat. Sy het gehuil en gesmeek dat ek haar moet vergewe, gesê dat sy grootgeword het en elke dag moet saamleef met wat sy aangevang het. Daarna het ons nog ’n paar keer oor die foon gepraat en verlede week het ek haar vir die eerste keer gaan sien – daardie dag by die hospitaal … Die res weet jy.”
Leanie skud haar kop stadig heen en weer. “Ek kan nie glo dat jy dit alles vir my weggesteek het nie. Ek weet regtig nie of ek jou ooit weer sal kan vertrou nie, Henk.”
“Ek is regtig jammer, lief. Asseblief. Dis nie dat ek dit vir jou wou wegsteek nie, die tyd was net nooit reg nie. Daar is niks meer as vriendskap tussen my en Liz nie. Ek belowe.”
Sy ken hom lank genoeg om te weet dat hy opreg jammer is. Tog weet sy nie wat om te doen nie. Sy weet nie hoe hulle van hier af vorentoe moet beweeg nie. Daar haper reeds soveel in hulle verhouding en nou dít: geheime en leuens en ’n eksverloofde.
Haar lyf bewe liggies.
Die klomp kleintjies aan hul linkerkant het blykbaar klaar partytjie gehou en storm almal gillend by hulle verby. Leanie wag totdat dit stiller is voordat sy sê: “Miskien moet ons weer nadink, Henk. Hierdie verlowing van ons … Ek dink ons … Ek dink dit het tyd geword om eerlik met mekaar te wees. Om verloof te wees beteken veel meer as waarin ons verlowing verval het. Ek dink eerlikwaar dat ons dit moet verbreek.”