Elim. Helena Hugo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elim - Helena Hugo страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Elim - Helena Hugo

Скачать книгу

Hoekom nie?

      Sy draai na Elie. “Ons skei hulle,” sê sy asof die seuns nie teenwoordig is nie. “Daniël se kamer is oop. Lutz is die oudste. Hy kan dit kry.”

      “Sê nou Daniël wil terugkom?”

      “Nie vanjaar nie, daar is te veel bouwerk op Elim. As dit klaar is, bly hy daar.”

      “Jy gehoor, Lutz? Jy kry jou eie kamer.”

      Lutz se mond ontspan, hy glimlag so wyd, dit lyk asof sy gesig in twee helftes breek.

      “Danke schön, Frau Basson, danke.”

      Met dié spring hy op, gryp haar hand en soen dit.

      Sy pa se kind, dink Caroline, te groot vir sy skoene en oud gebore.

      Maar waar kom hy vandaan? Vir die soveelste keer wonder sy wie sy ma is.

      Hoofstuk 2

      Dié nag slaap sy rustiger. Elie het Lutz die dood voor oë gesweer as hy sy voorregte misbruik en die kamer in wanorde laat. “Jou klipversameling bly aangroei, hou dit binne perke.”

      “Ek sal probeer. Dis in elk geval makliker om te sorteer sonder kleintjies wat my pla, en aanhóúdend alles ómkráp.”

      Caroline het geskrik vir die venyn waarmee hy sy woorde uitgespoeg het. Ja, het sy besluit, dis goed ek het hulle geskei. Wie weet, hy verlang nog na geselskap as hy aand ná aand alleen moet kamer toe. Dalk is dit juis hoe alles weer sal regkom.

      “Jy vat ook nie die pad ná donker nie!” het Elie hom gewaarsku.

      Daarmee is die saak afgehandel, altans so het Caroline gehoop.

      Met dagbreek kraai die werfhaan haar wakker, maar sy staan nie op nie. Die moegheid wat haar ná Cara se geboorte platgetrek het, is soos die stekelrige grys satansbossies wat die droogteveld stadig maar seker inneem. Dit floreer wanneer dit sleg gaan en die laaste tyd voel dit asof sy saam met die veld uitdor en net goed genoeg is om haar laaste bietjie lewensvreugde op te gee. Vir wie of wat? Sy het probeer, sy probeer steeds, maar dit raak al moeiliker om na die kinders te kyk en nie te dink aan Willem se ontrou nie. Hulle kon versoen geraak het, maar hy het Kimberley gekies.

      Vergete was die skrik van Daniël se verdwyning, die herontmoeting toe sy en Willem mekaar vir die eerste keer in ’n lang tyd weer soos man en vrou omhels het. Sy onthou hoe sy gewag het, hoe die moontlikheid dat sy haar man en oudste seun kon verloor, haar met soveel angs gevul het dat sy nie eens die Kerstafel wat Elie vir haar gedek het, kon geniet nie. Haar hart het in haar borskas saamgeklont toe Krisjan hul vreugde kom steel het met sy gestorie oor trekbokke. So verlig was sy toe haar oorlede pa se stiefseun haar man en kind vir haar terugbring, sy het voor die Here bely dat sy ook gesondig het, meer as Willem, en besluit om hom terug te wen.

      Hulle het die eerste paar treë gegee en vasgesteek. Ná Nuwejaar en die familie se kuier is Willem terug na sy stoepkamer. Baron Ludwig se Lutz het opgedaag en die huis so op horings geneem, hulle kon hom en die droogte as verskoning gebruik het om nie verder te vorder nie. Hulle het doodeenvoudig nie moeite gedoen nie.

      Ergste van alles – sy was nie teleurgesteld nie, sy was verlig. Alleen in haar bed aan die lees by kerslig het sy haar seëninge getel en besluit dis goed so. Hulle kan saamwerk solank hulle nie saamslaap nie en hy haar en die kinders tot in lengte van dae bly versorg.

      Willem het die dag voor sy vertrek na die Vrystaat Kimberley toe gegaan vir besigheid. ’n Volgelaaide vrag van alles wat Mispa in die skraalte van die droogte kon oplewer, is saam, ook Jakob en Riempies en Daniël as sy helpers. Hulle sou drie dae wegbly en met hout, pype en ander voorraad vir die herstel van Daniël se huis op Elim terugkom. Ten minste sou Willem nie by Georgina kon gaan inkruip met Daniël aan die een kant nie, het Caroline gedink. Maar hy het gesê dat hy haar gaan groet.

      Vier dae later het hulle Daniël se aankope op Elim afgelaai en is hy haastig kamer toe om sy klere te pak. Willem was so stug, selfs Maria kon hom nie opbeur nie.

      Toe die kinders in die bed is, het Caroline haar na sy stoepkamer gewaag. Die deur was oop. Hy het op die bed gelê en rook, kaal bolyf met net sy onderbroek aan, aantreklik en sterk gebou – die man met wie sy getroud is en aan wie sy nie meer behoort nie, hy ook nie aan haar nie.

      Hy was nie bly om haar te sien nie, maar het ten minste sy pyp op die asbak omgekeer. “Wat soek jy hier?”

      Sy het in die deur bly staan. “Ons het gegroet en toe niks.”

      “Ons het nie kans gekry om te praat nie, dis al.”

      “Het jy en Georgina woorde gehad?”

      “Wat laat jou dit dink?”

      “Jy was nie so omgekrap voor jy hier weg is Kimberley toe nie.”

      “Ek het baie om oor te bekommer. Dis droogte. Twee dae en dan trek ons met die vee. Wie weet vir hoe lank?”

      “Was dit so moeilik om van haar afskeid te neem?”

      “Wat sal jy maak as jy weet? Wat wil jy weet?”

      “Hoe dit gaan met julle twee. Is sy moeg vir jou?”

      “Verdomp, Caroline, jy het nog nooit belang gestel nie. Hoekom nou?”

      “Seker maar omdat ons wou … regmaak wat verkeerd geloop het tussen ons.”

      “Ek het in die stoel geslaap, nie in jou bed nie.”

      “Jy het my nie kans gegee nie.”

      “Vra jy my, soebat jy?”

      “Nie terwyl jy by Georgina kuier nie. Nag, Willem.”

      Sy het omgedraai en geloop.

      “Jy los vir Georgina uit, hoor jy,” het hy agterna geroep.

      Toe het sy teruggedraai en hom aan sy troubelofte herinner. “Jy is die pa van my kinders en jy het voor die Here belowe tot die dood toe bly jy getrou.”

      Hy het haar net aangekyk. Die kerslig het sulke lastige skaduwees gegooi, sy kon nie sy gesigsuitdrukking uitmaak nie. Iets aan sy houding het haar gewaarsku om nie op ’n antwoord aan te dring nie.

      Hy het styf gegroet die oggend voor hy en Danster en Rooivalk weg is, haar ’n piksoen op die wang gegee, die kinders wel opgetel en vasgehou, selfs aan Cara se krulkop geraak. Dit was nog donker, die maan en môrester het helder in die lug gehang. Katryn het Cara uit die bed gehaal en sy was vaak en huilerig. Hulle het nie saam met die res van die gesin bly staan tot die wa en die troppe skaap buite sig was nie. Die stofwolke het in die lug bly hang lank nadat die geblêr al bedaar het. Doelie het die vuur in die stoof aangepak. Dit was broodbakdag en die vroegte het haar goed gepas. Die kinders is terug bed toe, almal behalwe Lutz wat nie saam met die seuns opgestaan het nie. Hoekom sou hy ook? Willem is nie sy pa nie.

      En nou is Willem se kinders ook al weke lank vaderloos, wel onder Elie se dissipline wat dit nie die hele dag kan volhou nie en smiddae ná skool sy verantwoordelikheid afskuif op Klaas en Bet wat toesig hou oor die werf se dinge. Plaaskinders werk van kleins af en hulle het hul takies, selfs Lutz moet handgee. Elie het leer melk en staan soggens voordag op om in die melkery te help. Hy wou Lutz naby

Скачать книгу