Elim. Helena Hugo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elim - Helena Hugo страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Elim - Helena Hugo

Скачать книгу

se regterhand in die stalle en het binne die eerste week by Maria leer perd ry.

      Maria sal hom mis as sy pa hom kom haal.

      Caroline sug, forseer haar oë oop. Sy kan van haar bed af sien hoe die son opkom, vanoggend weer vlammend rooi. Die haan se kraai is vergete, die gewone werfgeluide afwisselend ver en naby. Verbeel sy haar of hoor sy ’n baba huil?

      Kan nie wees nie, Siena se laatlam kom eers Maart-maand. Dina werk intussen in haar plek, maar sy het belowe sy kom gou terug. Caroline mis haar. Siena het haar deurgesien toe sy siek was, geduldig waswater en skinkborde kos aangedra, haar probeer opbeur met stories van goed wat by die strooise aangaan of van die buurplase af oorwaai. Siena was veertien, toe verwag sy haar en Danster se voorkind. Dis Hansie wat perde se gedagtes kan lees en getroud is met Nampti wat skeertyd help wol klas, altyd ’n kleintjie op haar rug. Caroline hou nie telling met die strooise se kinders nie, vra Kersfees vir Doelie hoeveel seuns en hoeveel meisies onder twaalf en oor twaalf jaar sodat sy kan geskenkies opmaak.

      Die baba huil harder. Dis haar lot, soms huil die kind in haar kop, soms wel in die regte lewe. Vanoggend wil sy dit nie hoor nie. Sy skraap krag bymekaar, staan op en loop venster toe, betyds om Elie in sy plaasklere te sien aanstap. Die eerste keer toe sy hom hier van bo af gesien het, het sy gedag hy is van papier, so dun, ’n ligte wind waai hom weg. Hy het fris geword vandat hy op Mispa woon en werk. Een en ’n halwe jaar en onmisbaar, dis die Jood Elie Ginzburg – in die winter van ’94 hier aangekom met sy tas vol boeke, vir die kinders se skool begin sorg, vir haar boeke aangegee en weer ’n lus vir die lewe in haar wakker gemaak. Soms dink sy God het hom gestuur.

      Ag, dis so jammer hulle bots oor baron Ludwig von Hochfelden se seun. Elie kan ook nie help hy skuld Ludwig geld nie. Hy kon derhalwe nie weier om na die seun om te sien terwyl Hochfelden Goudvelde toe is nie. Daarbenewens is hy afhanklik van Willem en toe Willem instem, was daar geen uitkomkans nie. Hoe krom loop Elie dan vanoggend, so asof hy ’n onsigbare bondel op sy rug dra?

      Haar skuld, sy het Lutz se oortredings op hom gepak en nie hard genoeg nagedink oor oorsake en gevolge nie – tot gisteraand toe sy uit moedeloosheid die Here aangeroep het en sonder meer by die uitweg uitgekom het. Sy mis hom, haar geesgenoot, mis hul lang gesprekke oor stories en gedigte, die laaste tyd oorskadu deur geskille oor Lutz en sy selfsugtige vader. Sy moet vrede maak, hom gerusstel, verskoning vra, verseker die kind kan bly voor sy mal word van eensaamheid.

      Sy was mos al “mal”, of so het hulle gedink – Hester en Neels en Susanna en Jan Adriaan, die ander skoonfamilie, en Willem. Amper beland sy in die malhuis by Valkenburg, maar toe laat kom hulle vir Georgina. Die tyd saam met haar was nie altyd sleg nie. Hulle het saamgelag en klere gemaak en beskuit en koek gebak. Net mettertyd het sy besef dat Georgina en Willem mekaar opsoek. Sy het probeer, maar kon nie keer nie. Hulle los mekaar nie.

      Dis binne haar reg om hulle kwalik te neem.

twirly.jpg

      Willem, Danster, Rooivalk en die honde is veldin agter die trop aan. Laas nag het hulle jakkalse hoor huil en diep in die kloof ’n leeu se brul. Dis nie veilig om die vee alleen te laat nie, die omgewing is vreemd en die voorbokke kan koers kry en verdwaal.

      Hulle is besig om die afgedwaaldes aan te keer toe twee Basotho’s op hul ponies aangery kom, bont komberse om die skouers, spitshoede op die kop. Hulle praat heel vriendelik, selfs hier en daar ’n Engelse woord. Nuuskierig oor Danster-hulle se Boerperde, maar veral oor Willem se Vonk wat die vreemde ponies met aggressiewe snorke begroet. Willem het opgelet dat die mans knopkieries onder hul komberse wegsteek. Danster en Rooivalk het net oë vir die mooi komberse. Die mans beduie na Ladybrand se kant. Daar is ’n Jodewinkel wat dit goedkoop aanhou. Dit sal egter beteken dat hulle moet terugdraai en Willem se kop staan Clocolan toe.

      “Ons kan koop as ons Ladybrand om huis toe trek,” belowe hy en ry weg met die aardige gevoel dat hulle hom verkwalik.

      Dalk moet hy een van die twee aansê om maar die komberse te gaan kry. Vir die skyn kan hy vir Caroline ook een as geskenk saamneem. Eintlik vertrou hy nie die twee op die ponies nie. Hulle sal moet dophou en vir Lombaard uitvra oor dié mense en hul bedoelings.

      Willem vat Vonk ’n ent met die heuwel op en kies ’n kliphoop van waar hy die bedrywighede in die vlakte kan dophou. Die Basotho’s vertoef nog, maar lyk darem of hulle aanstaltes maak om te groet.

      Willem dra ’n sakboekie in sy binnesak. Daarop maak hy aantekeninge van datums en tye, die toestand van sy veetrop, die herstel en aanwas, die algemene gesondheid van sy vee. Hy haal dit uit en skryf: Rode kombaars met gele strepen, blauw met bruin.

      Gevare skuil oral en Moshweshwe se mense is bekend vir hul strooptogte. Maar Lombaard het hom verseker hy woon in vrede met sy bure al respekteer hulle nie die landsgrense nie en al maak hulle paadjies oor sy plaas op pad Vrystaat of Natal toe.

      Willem skreef sy oë. Die ruiters het vertrek terwyl hy geskryf het. Hulle word kleiner en kleiner tot hulle net stippels is. In die laagte wei sy skape saam met sy trekosse, veilig onder toesig.

      Hy blaai na die volgende bladsy in sy boekie. Februarie staan einde se kant toe en die vee het nie veel opgetel nie. Hulle het nog ses dae op Melrose, dan sal hulle moet skuif. Hy mik die Noord-Vrystaat in, Sandrivier se kant toe. Oor drie dae stuur hy vir Rooivalk vooruit om te verken. Lamtyd moet hulle tot rus kom en sorg dat hulle op een plek bly tot die lammers sterk genoeg is.

      Willem merk die dae af. Februarie is die kortste maand. Dit is vandag Woensdag die ses en twintigste. Maartmaand is om die draai. Hy tel op sy vingers. Desember, Januarie, Februarie. Georgina sal nog nie wys nie, veral nie met die eerste kind nie. Dalk loop sy tot sewe maande sonder probleme. Sy is fris gebou, maar weet hoe om rokke te maak wat haar skraler laat lyk. Willem glimlag. Georgina is nie verniet Kimberley se voorste kleremaakster nie. Dis haar talent en sy woeker daarmee. Hy is nie spyt dat hy die ou losieshuis en die naaimasjiene gekoop het vir haar besigheid nie. Sy het vooruitgeboer, het nou al drie naaisters in diens en is besig om ’n jongman op te lei om manspakke te sny en te pas. Die mannetjie is reg handig met die skêr, maar so verwyfd met sy bont onderbaadjies en beringde vingers, hy verdwyn skoon tussen die vroumense. Pierre Francois du Toit is sy naam. Volgens Georgina het hy, nadat sy moeder oorlede is, haar hoedewinkel verkoop, oorsee gaan reis en drie maande later teruggekom – bont soos ’n pou. Georgina kan haar so verkneukel aan sy maniertjies, maar sy en sy moeder, die ou madame, het in die verlede saamgewerk en sy het hom omgepraat om vir haar te kom hoede maak. Oorsee het hy glo baie geleer van die Paryse modes en vir haar boeke en patrone gewys wat haar asem weggeslaan het. Willem skud sy kop. Georgina het daai boeke vir hom ook laat sien, maar dit interesseer hom nie in die minste nie, al kan sy en die mannetjie ure aaneen na die prentjies sit en staar.

      Naas hom is Pierre Francois die enigste ander man in Georgina se lewe, tensy sy vir hom lieg.

      Willem haal sy pyp uit en stop. Die son is besig om te klim en dit raak warm, maar in die skaduwee van die rots is dit nog koel. Vreemd hoe die pyp hom kan troos as hy begin twyfel. Hoe weet hy wie kuier almal by Georgina? Daar loop gans te veel Kimberleyse spoghane rond wat niks anders het om te doen as koerant lees en nuwe klere bestel nie. Hy wou al vir Susanna uitvra, maar sy sal agterkom hy raak jaloers. Nogtans, sy goed is sy goed en Georgina is syne.

      Hy maak sy pyp brand, neem die eerste trek en sit agteroor. Sterk mengsel dié en hy geniet dit. Ellendige droogte wat hom juis nou wegvat, anders was hy elke week by Georgina om die saak uit te pluis. Hy dink steeds die Kaap en aanneming is die beste plan, maar sy het hom aan die twyfel. Nou twyfel hy oor als – soms selfs oor Elie en Caroline. Hoewel Elie darem regtig te verpot is om ’n vrou met soveel ervaring soos Caroline tevrede te stel. Nee, Elie weet watter kant sy brood gebotter is en wie sy lewe gered het. Wat sal hy by sy weldoener

Скачать книгу