Wierook van verlange. Annelize Morgan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wierook van verlange - Annelize Morgan страница 5

Wierook van verlange - Annelize Morgan

Скачать книгу

lê het. “Kom, laat ek vir jou hulp kry.” Sy help hom orent en laat hom op haar skouer leun.

      Dan vat sy hom na Margot toe om na sy wonde om te sien.

      “Dankie, saïda,” prewel hy.

      Die man word so goed as moontlik gedokter en dan teruggestuur na die stalle waar hy na prins Fazir se perde moet omsien.

      Uiteindelik kry Liliane tyd om aandete te geniet. Net toe klief helder, hoë, paniekbevange gille deur die lug. Daar kom nog ’n geskreeu en ’n gebulder, en deur alles heen hoor hulle vroue huil en kinders wat histeries is.

      Hulle kyk verskrik na mekaar.

      Die volgende oomblik word die gordyn voor die deuropening weggeruk en kom Margot met wydgerekte oë in. “Maak gou! Maak gou! Ons moet gaan. Kry als bymekaar wat jy wil saamneem. Ek het geweet hierdie dag gaan kom.” Sy draai om en hardloop na Ignez terwyl Liliane nog probeer om tot verhaal te kom.

      Meer en meer geluide uit die res van die huis bereik haar ore. Dit is egter die skril, histeriese gil van klein Lilli, Laurent se dogtertjie, wat haar laat opspring. Sy begin haar bondeltjie besittings naarstiglik bymekaar kry.

      Buite in die gang loop sy haar in die ander vas. Margot gryp haar hand en hardloop vooruit met die trap af na die agterste deel van die huis, weg van waar hulle die gegil en geskreeu hoor. Terwyl hulle hardloop, hoor hulle voetstappe in hul rigting kom, al in die gang af na die bediendekwartiere.

      “Die kinders …” hyg Liliane terwyl sy probeer byhou.

      “Dis te laat … ons sal hulle nie meer kan bereik sonder om gevang te word nie.”

      Margot kyk nie eens om nie, maar bly hardloop.

      Hulle gaan deur ’n nou deuropening en al met ’n smal klipgang af. Aan die regterkant is daar vensteropeninge waardeur die maan skyn, die enigste lig op hul pad. Die gang voor hulle eindig in stikduisternis. Daar ontdek hulle ’n trap en moet hulle voel-voel afgaan omdat ’n fakkel buite die kwessie is.

      Onverwags bereik hulle die einde van die gang en die trappe, en loop hulle hul teen ’n muur vas.

      “Links!” fluister Margot en neem weer die leiding al verder en verder weg van die lawaai.

      Na wat soos ’n ewigheid voel, is daar weer ’n stel trappe en kan hulle die koel aandwind van iewers voel inwaai. Voordat hulle in die maanlig uit hardloop, hou Margot haar hand op as teken dat hulle moet wag. Sy bespied die omgewing, maar die grootste bedrywigheid is in die huis self. Hulle kan hoor hoe die aanvallers vir mekaar skree soos wat hulle stelselmatig deur die huis gaan. Iewers is daar ’n brand, want die gloed slaan anderkant die huis op en verlig die omgewing met flikkerende lig. Die skerp reuk van materiaal wat brand, bereik hulle neuse.

      “Wat gaan aan?” wil Liliane dringend weet.

      “Ons sal later praat! Dit is sjeik Jamal al Din wat genoeg gehad het van monsieur Laurent se leuens en bedrog.”

      “En prins Fazir?”

      “Hy is nog hier, maar ek weet nie aan wie se kant hy is nie.” Margot beduie na ’n geboutjie van sandsteen. “Ons gaan daar oorkant in daardie geboutjie skuil tot sjeik Jamal al Din se mense weg is en dan kan ons wegkom. Ek het hierdie ding lankal sien aankom … van die eerste dag af dat sjeik Jamal hierheen gekom het.”

      Hulle bly versteen staan toe ’n jong Arabier om die hoek van die huis gehardloop kom met twee rasjids agter hom aan. Hulle hardloop by ’n sydeur in en verdwyn buite sig. Margot bly buitentoe kyk om te sien of daar nog mense aankom, maar uiteindelik gee sy die teken dat dit veilig is.

      Liliane is die laaste een wat uit die beskerming van die ingang wegkom.

      Voordat sy die ander kan volg, gryp iemand haar egter van agter.

      ’n Hand sluit vinnig oor haar mond voordat sy kan gil. “Moenie skree nie,” fluister ’n manstem gespanne in Arabies. Hy vat sy hand voor haar mond weg en ruk haar om sodat sy na hom kyk. Dit is die man wat deur prins Fazir geslaan is – die een wat hulle gedokter het.

      Hy druk ’n papierrol, toegedraai in ’n doek, in haar hande. “Hulle gaan my doodmaak. Vat dit asseblief na sjeik Dawud bin Nazim. Dit is belangrik. Asseblief, gee dit vir hom, vir niemand anders nie! Sê vir hom … sê vir sjeik Dawud dit is alles leuens. Hoor jy? Dit is alles leuens.” Hy draai om en verdwyn in die donker gang af.

      Liliane staan verstom. Wat het hy daarmee bedoel? Watse papierrol is dit? Prins Fazir het die man vroeër geslaan omdat hy glo ’n dokument verloor het. Het hy dit eintlik gesteel?

      Sy hoor uitroepe en toe hoe die man wat pas by haar was, skreeu en dan volg ’n doodsroggeling.

      Hemel, nee!

      Sy wag nie langer nie, maar hardloop beangs buitetoe na die geboutjie waar die ander twee op haar wag. In die hardloop versteek sy die papierrol onder haar klere.

      Margot druk die deur vinnig agter haar toe voor sy omdraai na Liliane. “Iemand kon jou gesien het. Hoekom het jy nie saam met ons gehardloop nie?”

      “Daar was … ’n geveg in die gang. Ek kon nie wegkom nie.” Sy wil nie vir Margot van die papierrol onder haar klere vertel nie. In elk geval nie nou al nie. Sy probeer om haar asemhaling weer te reguleer. Die een oomblik was die man nog daar by haar en die volgende oomblik het hy na sy dood toe gehardloop. Dit is so onwerklik, so absoluut aaklig.

      Sy voel hoe naarheid in haar keel opstoot, maar sy konsentreer met moeite op haar asemhaling om dit te onderdruk.

      Toe die geluide in die huis begin vervaag, vra sy: “Is jy seker dit is sjeik Jamal al Din wat monsieur Laurent aangeval het? Is hulle dan nie vriende nie?”

      “Nee, hulle is nie. Hy en die sjeik dryf net handel met mekaar tot elkeen se voordeel. Maar sjeik Jamal het lankal agtergekom dat monsieur Laurent dikwels oneties te werk gaan.”

      “Ek wonder aan wie se kant prins Fazir is.”

      “Die Arabiere sal seker saamstaan teen monsieur Laurent.”

      Hulle probeer ’n gemaklike posisie vind op die vloer van die geboutjie vir die lang wag wat voorlê.

      Daar daal ’n lang stilte neer.

      “Sou madame Laurent en die kinders nog hier wees?” Dit klink asof Ignez wil huil.

      “Ons sal weet wanneer die dag breek,” antwoord Margot. “Kyk, die lug is reeds besig om te verkleur. Ons sal nie meer lank hoef te wag nie.”

      Liliane swyg oor die jong Arabier wat haar uit nood moes vertrou het. Hoe sal sy die papierrol by sy hoogheid sjeik Dawud bin Nazim uitkry? En sal hy bereid wees om haar te help as sy hulp nodig kry?

      Toe die son eindelik sy kop oor die horison steek en die lug verkleur na ligpers, turkoois en goud, kyk hulle deur die smal gleuwe in die mure na wat buite aangaan. Die pragtige sonsopkoms gaan ongesiens by hulle verby, want mense hardloop nog rond en voor die huis is ’n vuur waarvan die rook swart die hemel in optrek. Alles word uit die huis gedra en op die brandende stapel gegooi.

      Die deur word plotseling hardhandig oopgestamp en twee mans met ontblote sabels stap in. Hulle ruk die vroue op hul voete en stoot hulle na buite waar ander op hulle wag.

Скачать книгу